Hebreërs 1
Afrikaans PWL
1Oor alle onderwerpe en op allerhande maniere het God vroeër deur die profete gepraat met ons vaders 2en in hierdie laaste dae het Hy met ons gepraat deur Sy Seun, wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het. Déur Hom het Hy die uitspansel gemaak, 3want Hy is die helder Skynsel van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid en die Beeld van Sy Wese en hou alle dinge in stand deur die Boodskap van Sy wonderwerkende krag. Hy, in Sy Persoon, het die reiniging van ons sondes volbring en gaan sit aan die regterhand van HaG’dulah BaM’romim (Die Grootheid in die Hoogte). 4Díé Een is in alles groter as die engele, volgens die mate waarin die Karakter en Outoriteit (Naam) wat Hy het, meer uitstekend is as hulle s’n,

5want aan watter een van die engele het God ooit gesê: “Jy is My Seun, Ek het vandag geboorte gegee aan Jou?” Ook: “Ek sal vir Hom ’n Vader wees en Hy sal vir My ’n Seun wees?”

6Weer, wanneer Hy die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy ook: “Al die engele van God moet Hom eer bring,”

7maar van die engele praat Hy so: “Hy maak van Sy engele winde en van Sy bedienaars vlamme van vuur.”

8Aangaande die Seun sê Hy egter: “U troon, o God, is vir tydlose ewigheid, die septer van U Koninkryk is ’n reguit, suiwer septer.

9U het onpartydige opregtheid liefgehad en die wetsoortreders gehaat; daarom het God, U God, U gesalf met die olie van vreugde bo U kamerade.”

10Weer: “U het van die oorsprong af die fondasies van die aarde gelê en die hemele is die werke van U hande.

11Hulle sal verbygaan en U sal bly en hulle sal almal soos ’n kledingstuk verslyt

12en soos ’n mantel sal U hulle toevou en hulle sal verander word, maar U is die Ewige God en U jare sal nie ophou nie.”

13Aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: “Sit aan My regterhand totdat Ek U vyande ’n voetstoel onder U voete gemaak het?”

14Let op, is hulle nie almal dienende geeste wat vir dienswerk uitgestuur word ter wille van dié wat die lewe sal beërwe nie?

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Philemon 1
Top of Page
Top of Page