Habakuk 3
Afrikaans PWL
1’n Gebed van Havakkuk, die profeet, volgens Shigiyonot (’n vurige loflied):

2יהוה, ek het die verslag aangaande U gehoor en ek vrees! O, יהוה, laat herleef U werk te midde van die jare; te midde van die jare, maak dit bekend; in toorn, onthou onverdiende guns.

3God kom van Teman en die Afgesonderde Een vanaf die berg Pa’ran. Sy grootsheid bedek die hemele en die aarde is vol van Sy lofprysing.

4Sy glans is soos die sonlig; Hy het strale vanuit Sy hand en daar is die bedekking van Sy krag.

5Voor Hom gaan die pes uit en ’n plaag kom agter Hom aan.

6Hy het gaan staan en die aarde opgemeet; Hy het gekyk en die nasies verskrik. Ja, die ewige berge is verpletter, die antieke heuwels inmekaar geval. Sy paaie is ewigdurend.

7Ek het die tente van Kushan onder benoudheid gesien, die tentdoeke van die land van Midyan het gebewe.

8Was יהוה toornig teen die riviere, of was U woede teen die riviere, of was U toorn teen die see dat U op U perde gery het, op U strydwaens van verlossing?

9U boog is ontbloot, die stawwe van tugtiging is besweer. U het die aarde gekloof met riviere.

10Die berge het U gesien en het gebewe; die neerslag van water het verbygespoel. Die ondergrondse waters verhef sy stem, dit steek sy hande hoog op.

11Son en maan het in hul plekke bly staan; hulle het weggegaan in die lig van U pyle, in die helderheid van U glansende spies.

12In verontwaardiging het U deur die aarde marsjeer; in woede het U die nasies vertrap.

13U het uitgegaan vir die redding van U volk, vir die redding van U gesalfde. U het die kop van die huis van die bose geslaan om hom bloot te lê vanaf heup tot nek.

14U deurboor die koppe van sy menigtes met hul eie spiese. Hulle het ingestorm om ons te verstrooi; hulle gejuig was soos hulle wat die onderdruktes in die geheim verslind.

15U het die see vertrap met U perde, op die deining van baie waters.

16Ek het gehoor en my ingewande het gebewe, by die klank het my lippe getril. Verderf het my gebeente ingegaan en ek het gebewe waar ek was omdat ek stil moet wag op die dag van benoudheid; vir die mense wat ons sal inval om op te staan.

17Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, Yir 8:13 die drag van die olyfboom faal en die lande geen kos produseer nie; die kleinvee uit die kraal afgesny word en daar geen beeste in die krale sal wees nie,

18nogtans sal ek jubel in יהוה, ek sal in die rondte swaai van vreugde in die God van my verlossing.

19יהוה-God is my Sterkte en Hy het my voete gemaak soos dié van herte en my laat staan op my hoë plekke om met snaarinstrumente Sy lof te besing.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Habakkuk 2
Top of Page
Top of Page