Genesis 6
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat die mense oor die oppervlakte van die aarde begin vermeerder het en toe daar vir hulle dogters gebore is, 2sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was en hulle het vir hulle almal wat hulle verkies het, as vroue gevat. 3יהוה het gesê: “My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie omdat hy ook vlees is; laat sy tyd een honderd en twintig jaar wees.” 4Daardie dae was daar reuse op die aarde en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit.

5יהוה het gesien dat die boosheid van die mens groot was op die aarde en dat elke vorming van ’n gedagte in sy gedagtes en wil, altyddeur boos was 6en יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. 7יהוה sê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het van die aarde af vernietig, die mens sowel as die diere, die reptiele en die voëls van die hemel; Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.”

8Noag het egter guns gevind in die oë van יהוה.

9Hierdie is die geskiedenis van Noag. Noag was in sy tyd ’n onskuldige, opregte man met integriteit. God was tevrede met Noag. 10Noag was die vader van drie seuns: Shem, Gam en Yefet.

11Die aarde was korrup voor God en die aarde was vol boosheid. 12God het gesien dat die aarde korrup was, want alle vlees het hulle lewenswyse op die aarde korrup gemaak.

13God sê daarom vir Noag: “Die einde van alle vlees het voor My gekom, want die aarde is deur hulle volgemaak met boosheid. Let op, Ek gaan hulle saam met die aarde vernietig. 14Maak vir jou ’n ark van goferhout; jy moet die ark met kamers maak en dit binne en buite met pik toedek 15en só moet jy dit maak: die lengte van die ark, drie honderd el; sy breedte, vyftig el en sy hoogte, dertig el. 16Jy moet ’n opening maak vir die ark; jy moet dit ’n el van die bokant af afwerk en die deur van die ark aan die sykant sit. Jy moet dit met ’n onderste, tweede en derde verdieping maak. 17Let op, Ék bring ’n vloed van water oor die aarde, om van onder die hemel alle vlees waarin ’n gees van lewe is, te vernietig. Alles wat op die aarde is, sal doodgaan. 18Met jou sal Ek My verbond bevestig; jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou 19en van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk in die ark laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: hulle moet mannetjie en wyfie wees. 20Vanuit die voëls, volgens hulle spesies, vanuit die vee, volgens hulle spesies, vanuit al die reptiele van die aarde, volgens hulle spesies; twee van elke spesie moet na jou toe kom om in die lewe te bly. 21Vat vir jou van al die kos wat geëet word en maak dit by jou bymekaar sodat dit vir jou en vir hulle as kos kan dien.” 22Noag het dit alles gedoen, presies net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 5
Top of Page
Top of Page