Genesis 38
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat Y’hudah in dié tyd van sy broers af weggegaan het tot by ’n man van `Adulam met die naam van Hirah. 2Y’hudah het daar die dogter van ’n Kena’anitiese man, met die naam van Shua, gesien, haar vir hom gevat en by haar ingegaan. 3Sy het bevrug geword en geboorte gegee aan ’n seun en hy het hom die naam `Er gegee. 4Sy het weer bevrug geword en geboorte gegee aan ’n seun en hom die naam Onan gegee. 5Sy het weer geboorte gegee aan ’n seun en hom Shelah genoem en hy was in K’ziv Kesib toe sy aan hom geboorte gegee het.

6Y’hudah het vir `Er, sy eersgeborene, ’n vrou gevat en haar naam was Tamar. 7`Er, die eersgeborene van Y’hudah, was egter boos in die oë van יהוה en יהוה het hom doodgemaak. 8Y’hudah sê vir Onan: “Gaan in by die vrou van jou broer en vervul jou plig as haar man se broer teenoor haar en voorsien vir jou broer ’n nageslag.” 9Onan het egter geweet dat die erfgenaam nie syne sou wees nie; daarom het dit so gebeur dat, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, hy dit op die grond gemors het om vir sy broer geen nageslag te gee nie. 10Dit wat hy gedoen het was sleg in die oë van יהוה; daarom het Hy hom ook doodgemaak. 11Toe sê Y’hudah vir Tamar, sy skoondogter: “Bly ’n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Shelah groot is, want hy het gedink: anders sterf hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.

12Ná verloop van geruime tyd is die dogter van Shua, die vrou van Y’hudah, dood en nadat Y’hudah vertroos is, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timnah toe, hy en sy vriend Hirah, die `Adulamiet. 13Dit is aan Tamar vertel en gesê: “Let op, jou skoonvader gaan op na Timnah om sy kleinvee te skeer.” 14Sy het haar weduweesklere uitgetrek en haar heeltemal bedek met ’n sluier en sy het gaan sit by die ingang van `Einayim wat op die pad na Timnah lê, want sy het gesien dat Shelah groot geword het, maar dat sy nie aan hom as vrou gegee is nie. 15Toe Y’hudah haar sien, het sy haar gesig toegemaak en hy het gedink sy is ’n prostituut 16en hy het na haar toe uitgedraai by die pad en gesê: “Kom, laat my by jou ingaan,” want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. Sy vra: “Wat sal jy my gee om by my in te gaan?” 17Hy antwoord: “Ek sal vir jou ’n boklam van die kleinvee af stuur.” Toe sê sy: “Sal jy vir my ’n pand gee totdat jy dit stuur.” 18Hy sê: “Wat is die pand wat ek jou moet gee?” Sy antwoord: “Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is.” Hy gee dit toe vir haar en gaan by haar in en sy is deur hom bevrug. 19Sy het opgestaan, weggegaan, haar sluier afgehaal en haar weduweesklere aangetrek.

20Y’hudah het die boklam gestuur saam met sy vriend, die `Adulamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal, maar hy kon haar nie kry nie. 21Toe vra hy die manne van daardie plek en sê: “Waar is die prostituut wat in `Einayim by die pad was?” Hulle antwoord: “Hier was geen prostituut nie.” 22Toe gaan hy terug na Y’hudah en sê: “Ek het haar nie gekry nie en die mense van die plek het ook gesê: ‘Hier was geen prostituut nie’.” 23Toe sê Y’hudah: “Laat sy dit vir haarself hou dat ons nie ’n bespotting word nie, want ek het die boklam gestuur, maar jy het haar nie gekry nie.”

24Dit het so gebeur dat ná omtrent drie maande, hulle Y’hudah laat weet en gesê het: “Tamar, jou skoondogter, het gehoereer en sy is ook swanger deur haar hoerery!” Y’hudah sê: “Bring haar uit en laat sy verbrand word.” 25Toe sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet: “By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger.” Sy het ook gesê: “Ondersoek asseblief aan wie hierdie seëlring, bandjie en staf behoort.” 26Y’hudah het dit herken en gesê: “Sy is meer regverdig as ek, want ek het haar nie aan my seun Shelah gegee nie.” Hy het verder nie weer met haar ’n intieme verhouding gehad nie.

27Dit het gebeur dat, toe sy geboorte gee, daar ’n tweeling in haar baarmoeder was. 28So was dit toe sy geboorte gee dat een sy hand uitgesteek het en die vroedvrou het ’n rooi tou om sy hand gebind en gesê: “Hierdie een is eerste gebore.” 29Toe hy egter sy hand terugtrek, word sy broer gebore! Sy sê: “Hoe het jy deurgebreek?” Hulle het sy naam Peretz gegee. 30Daarna het sy broer uitgekom aan wie se hand die rooi tou was en hulle het hom Zerag genoem.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 37
Top of Page
Top of Page