Genesis 31
Afrikaans PWL
1Hy het die woorde van die seuns van Lavan gehoor dat hulle sê: “Ya’akov het alles weggevat wat ons vader s’n was en uit wat ons vader s’n was, het hy al hierdie rykdom verkry.” 2Ya’akov het ook die gesig van Lavan gesien en let op, dit was nie meer soos gister en eergister nie. 3יהוÀ het vir Ya’akov gesê: “Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie en Ek sal by jou wees.” 4Ya’akov stuur toe en laat Ragel en Le’ah veld toe roep na sy trop toe 5en sê vir hulle: “Ek sien dat die gesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was by my. 6Julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het, 7maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander, maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie. 8As hy sou sê: ‘Die gestippeldes sal jou loon wees,’ dan lam al die vee gestippeldes en as hy sê: ‘Die gestreeptes sal jou loon wees,’ dan lam al die vee gestreeptes. 9So het God die vee van julle vader af weggevat en aan my gegee. 10Dit het in die tyd toe die kleinvee op hitte was, gebeur dat ek my oë opgeslaan en in ’n droom gesien het dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was 11en die boodskapper van God sê vir my in die droom: ‘Ya’akov!’ Ek antwoord: ‘Hier is ek!’ 12Hy sê: ‘Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Lavan aan jou doen. 13Ek is die God van Beit-El waar jy die pilaar gesalf het, waar jy ’n eed aan My beloof het. Staan nou op, gaan weg uit hierdie land uit en gaan terug na die land van jou geboorte’.” 14Ragel en Le’ah antwoord en sê vir hom: “Is daar nog ’n deel of erfenis vir ons in die huis van ons vader? 15Word ons nie as vreemdelinge deur hom gesien nie? Hy het ons verkoop en ons geld opgeëet en verteer, 16want al hierdie rykdom wat God van ons vader weggevat het, is ons en ons seuns s’n. Doen dan nou wat ook al God vir u gesê het om te doen.”

17Toe staan Ya’akov op en laai sy kinders en sy vroue op die kamele 18en hy voer al sy vee weg en al sy besittings wat hy bymekaar gemaak het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram bymekaar gemaak het, om na sy vader Yitz’gak in die land Kena’an te gaan. 19Lavan het gegaan om sy trop te skeer en Ragel het haar vader se familie-afgodsbeelde gesteel. 20Ya’akov het Lavan, die Arameër, mislei deurdat hy weggesluip het sonder om hom te vertel dat hy wou weggaan. 21So het hy dan weggegaan met alles wat hy besit het. Hy het opgestaan en oor die rivier gegaan en sy gesig gedraai na die gebergte van Gil’ad.

22Op die derde dag is Lavan vertel dat Ya’akov gevlug het. 23Hy het sy broers saam met hom gevat en hom vir sewe dae agternagejaag en hom ingehaal in die gebergte van Gil’ad. 24God het na Lavan, die Arameër, in die nag gekom in ’n droom en vir hom gesê: “Pas op dat jy nie met Ya’akov goed of kwaad praat nie.”

25Lavan het Ya’akov ingehaal. Ya’akov het al sy tent opgeslaan in die gebergte en Lavan, saam met sy broers, het in die gebergte van Gil’ad kamp opgeslaan. 26Lavan sê vir Ya’akov: “Wat het jy gedoen dat jy skelm weggesluip het en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het? 27Waarom het jy in die geheim en skelm van my af weggegaan en my nie vertel nie sodat ek jou met oorweldigende blydskap, met ‘n lied, met tamboeryn en harp kon wegstuur? 28Jy het my ook nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy daardeur dwaas opgetree. 29Die mag is in my hand om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gepraat en gesê: ‘Pas op dat jy nie met Ya’akov praat, beide goed of kwaad nie.’ 30Nou het jy reeds vertrek omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader, maar waarom het jy my gode gesteel?” 31Ya’akov antwoord en sê vir Lavan: “Ek was bang, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my af wegvat. 32By wie u ook al u gode vind, laat hom nie lewe nie! Onderskei wat van u by my is, in die teenwoordigheid van ons broers en vat dit saam.” Ya’akov het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.

33Lavan het in die tent van Ya’akov, van Le’ah en van die twee slavinne ingegaan, maar hy het niks gekry nie. Toe het hy uit die tent van Le’ah uitgegaan en in die tent van Ragel gekom. 34Ragel het die familie afgode gevat en dit in die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Lavan het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie. 35Sy sê vir haar vader: “Laat dit nie brand in my meester se oë (ontevrede wees) omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit gaan met my volgens die pad van vroue.” Hy het gesoek, maar die familie afgode nie gekry nie.

36Ya’akov was woedend en hy het met Lavan gestry en Ya’akov antwoord vir Lavan en sê: “Wat is my oortreding, wat is my sonde dat u my so vuriglik agtervolg het? 37Noudat u al my goed deursoek het; wat het u van al u huisware gevind? Sit dit hier voor my broers en u broers neer en laat hulle oordeel tussen ons twee. 38Hierdie twintig jaar wat ek by u was, het u skaap- en bokooie geen misdrag gehad nie en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie. 39Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie; ek het die verlies daarvan gedra. U het dit van my hand geëis, of dit bedags of snags gesteel is. 40Daar was ek, bedags deur die hitte verteer en snags deur die koue en my slaap het gevlug van my oë. 41So was ek in u huis vir twintig jaar; ek het u veertien jaar gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee en u het my loon tien maal verander. 42As die God van my vader, die God van Avraham en die Vrees van Yitz’gak, nie by my was nie sou u my sekerlik nou met leë hande weggestuur het. God het my swaarkry en die moeitevolle werk van my hande gesien en u verlede nag bestraf.”

43Lavan antwoord en sê vir Ya’akov: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie seuns is my seuns en hierdie troppe is my troppe, alles wat jy sien, is myne, maar wat sal ek my dogters vandag kan aandoen of aan hulle seuns waaraan hulle geboorte gegee het? 44Kom daarom nou, laat ek en jy ’n verbond sluit sodat dit ’n getuienis kan wees tussen my en jou.” 45Daarop het Ya’akov ’n klip gevat en dit as ’n monument opgerig. 46Ya’akov het aan sy familie gesê: “Maak klippe bymekaar” en hulle het klippe gaan haal en ’n hoop gemaak en daar, op die hoop, geëet. 47Lavan het dit Y’gar-Sahaduta genoem, maar Ya’akov het dit Gal-`Ed genoem. 48Lavan het gesê: “Hierdie hoop is vandag ’n getuie tussen my en jou.” Hulle het dit daarom Gal-`Ed genoem, 49asook HaMitzpah, want hy het gesê: “Mag יהוה wag hou tussen my en jou as ons weg is van mekaar. 50As jy my dogters laat swaarkry en as jy ander vroue neem behalwe my dogters, dan, al is geen mens by ons nie, let op, God is getuie tussen my en jou.” 51Lavan sê ook vir Ya’akov: “Let op, die hoop en die monument wat ek tussen my en jou opgerig het; 52hierdie hoop is getuie en die monument is getuienis dat ék nie na jou kant toe verby hierdie hoop sal trek nie en dat jy nie na my kant toe verby hierdie hoop en hierdie monument sal trek met boosheid nie. 53Die God van Avraham, die God van Nagor en die God van hulle vader, sal Regter wees tussen ons.” Ya’akov het gesweer by die Respekvolle Vrees van sy vader Yitz’gak. 54Ya’akov het ’n offer op die berg geslag en sy broers genooi om brood te eet. Hulle het brood geëet en die hele nag op die berg gebly. 55Lavan het die oggend vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Lavan het vertrek en teruggegaan na sy plek.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 30
Top of Page
Top of Page