Genesis 29
Afrikaans PWL
1Ya’akov het sy voete opgelig (gou gemaak) en gekom in die land van die seuns van die Ooste. 2Hy het gekyk en let op, daar was ’n put in die veld en drie troppe kleinvee wat daarby lê, want uit dié put het hulle die vee laat drink. Daar was ’n groot klip op die opening van die put. 3Al die troppe sal daar bymekaarkom, dan rol hulle die klip weg van die opening van die put en laat die vee drink. Daarna sit hulle die klip weer op sy plek op die opening van die put.

4Ya’akov sê vir hulle: “My broers, waar is julle vandaan?” Hulle antwoord: “Ons kom van Haran.” 5Hy vra hulle: “Ken julle vir Lavan, die seun van Nagor?” Hulle antwoord: “Ons ken hom.” 6Hy sê ook vir hulle: “Gaan dit goed met hom?” Hulle antwoord: “Dit gaan goed en let op, daar kom sy dogter Ragel met die vee.” 7Hy sê: “Let op, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die trop bymekaar te maak nie. Laat die vee drink en gaan, laat hulle wei.” 8Hulle antwoord egter: “Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol hulle die klip weg van die opening van die put en ons laat die vee drink.”

9Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met haar vader se kleinvee aan, want sy het hulle opgepas. 10Dit het so gebeur dat toe Ya’akov Ragel, die dogter van Lavan, sy moeder se broer, sien en die vee van Lavan, sy moeder se broer, gaan Ya’akov nader en rol die klip weg van die opening van die put af en laat die vee van Lavan, sy moeder se broer, drink. 11Ya’akov het Ragel gesoen en sy stem opgelig en gehuil. 12Ya’akov het Ragel vertel dat hy haar vader se familie en die seun van Rivkah was. Sy het daarop gehardloop en dit aan haar vader vertel.

13Dit het so gebeur dat toe Lavan die verslag hoor van Ya’akov, die seun van sy suster, hy hom tegemoet gehardloop, hom omhels, gesoen en hom in sy huis ingebring het. Hy het aan Lavan al hierdie dinge vertel.

14Lavan sê vir hom: “Waarlik, jy is my vlees en been.” Hy het by hom die dae van ’n maand gebly.

15Lavan sê vir Ya’akov: “Sou jy my verniet dien omdat jy my familie is? Vertel my wat jou loon moet wees.” 16Nou, Lavan het twee dogters gehad; die naam van die oudste was Le’ah en die naam van die jongste Ragel. 17Le’ah het aantreklike oë gehad, maar Ragel het ’n mooi figuur gehad en was mooi om na te kyk. 18Ya’akov het Ragel liefgehad; daarom het hy gesê: “Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter.” 19Lavan antwoord: “Dit is beter dat ek haar vir jou gee as dat ek haar vir ’n ander man gee. Bly by my.” 20So het Ya’akov dan sewe jaar gewerk vir Ragel en dit was in sy oë soos ’n dag omdat hy haar liefgehad het.

21Ya’akov sê vir Lavan: “Gee nou my vrou dat ek by haar kan ingaan, want my dae is vervul.” 22Lavan het al die manne van die plek bymekaargemaak en ’n fees voorberei. 23Dit het so gebeur dat hy sy dogter Le’ah gevat en haar na hom toe gebring het teen sonsondergang en hy het by haar ingegaan. 24Lavan het ook sy slavin Zilpah aan sy dogter Le’ah gegee as slavin. 25Die volgende oggend, let op, dit was Le’ah! Hy sê vir Lavan: “Wat het u my nou aangedoen? Was dit nie vir Ragel wat ek u gedien het nie? Waarom het u my dan bedrieg?” 26Lavan antwoord: “Dit word nie hier in ons land so gedoen om die jongste voor die oudste in die huwelik te gee nie. 27Voltooi haar bruilofsfees van sewe dae, dan sal ons jou dié een ook gee vir die diens waarmee jy my nóg sewe jaar moet dien.” 28Ya’akov het so gedoen: hy het haar bruilofstyd van sewe voltooi. Toe gee hy sy dogter Ragel ook aan hom as vrou. 29Lavan het sy slavin Bilhah vir sy dogter Ragel gegee as slavin. 30Hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as vir Le’ah. Hy het nóg sewe jaar by Lavan gedien.

31Toe יהוה sien dat Le’ah die gehate een was, het Hy haar baarmoeder oopgemaak, maar Ragel was onvrugbaar. 32Le’ah het bevrug geword en geboorte gegee aan ’n seun en hom Re’uven genoem, want sy het gesê: “יהוה het sekerlik my depressie raakgesien, want nou sal my man my liefhê.” 33Sy is weer bevrug en het geboorte gegee aan ’n seun en gesê: “יהוה het sekerlik gehoor dat ek die gehate is en my hierdie een ook gegee.” Sy het hom Shim’on genoem. 34Sy is weer bevrug en het geboorte gegee aan ’n seun en gesê: “Nou hierdie keer sal my man met my verenig wees omdat ek vir hom geboorte gegee het aan drie seuns.” Hy is daarom Levi genoem. 35Sy is weer bevrug en het geboorte gegee aan ’n seun en gesê: “Nou sal ek יהוה loof en dank met uitgestrekte hande.” Sy het hom daarom Y’hudah genoem. Sy het opgehou om kinders te hê.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 28
Top of Page
Top of Page