Genesis 21
Afrikaans PWL
1יהוה het Sarah besoek soos Hy beloof het en יהוה het aan Sarah gedoen soos Hy gesê het: 2Sarah het bevrug geword en geboorte gegee aan ’n seun vir Avraham, in sy hoë ouderdom, op die bepaalde tyd wat God vir hom gesê het. 3Avraham het sy seun wat vir hom gebore is, aan wie Sarah vir hom geboorte gegee het, Yitz’gak genoem. 4Avraham het sy seun Yitz’gak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het 5en Avraham was honderd jaar oud toe sy seun Yitz’gak vir hom gebore is. 6Sarah het gesê: “’n Vreugde het God vir my gemaak; elkeen wat dit hoor, sal saam met my verheug wees.” 7Sy het ook gesê: “Wie kon vir Avraham gesê het dat Sarah kinders sal borsvoed, want ek het vir hom in sy oudag geboorte gegee aan ’n seun.”

8Die seun het opgegroei en is gespeen en Avraham het ’n groot feesmaal voorberei op die dag toe Yitz’gak gespeen is.

9Sarah het gesien hoe die seun van Hagar, die slavin van Mitzrayim, aan wie sy vir Avraham geboorte gegee het, spot 10en sy sê vir Avraham: “Dryf hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Yitz’gak erf nie.” 11Die ding was baie verkeerd in die oë van Avraham ter wille van sy seun, 12maar God het aan Avraham gesê: “Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie, luister na Sarah in alles wat sy van jou verwag, want in Yitz’gak sal jou Saad genoem word en 13Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n groot nasie maak omdat hy jou kind is.” 14Avraham het die oggend vroeg opgestaan en hy het brood en ’n velsak met water gevat en dit vir Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, asook die seun en haar weggestuur. Sy het weggegaan en rondgedwaal in die wildernis van Be’er-Sh’va.

15Toe die water in die velsak op was, het sy die seun onder een van die bosse ingegooi 16en weggeloop en op ’n afstand gaan sit, so ver as ’n boog kan skiet, want sy het gesê: “Ek wil die dood van die seun nie sien nie.” Sy het op ’n afstand gaan sit en haar stem opgelig en gehuil. 17יהוה het die stem van die seun gehoor en die boodskapper van God het na Hagar uitgeroep uit die hemele en haar gevra: “Wat is dit met jou, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. 18Staan op, tel die seun op en ondersteun hom met jou hand, want Ek sal van hom ’n groot nasie maak.” 19God het haar oë oopgemaak en sy het ’n put met water gesien en sy het geloop en die velsak vol water gemaak en die seun laat drink.

20God was met die seun en hy het opgegroei en in die wildernis gebly en ’n boogskutter geword. 21Hy het in die wildernis van Pa’ran gebly en sy moeder het vir hom ’n vrou uit Mitzrayim gevat.

22In dié tyd het Avimelekh en Pikhol, die bevelvoerder van sy leër, met Avraham gepraat en gesê: “God is met jou in alles wat jy doen. 23Sweer daarom nou vir my hier by God dat jy met my, my kinders en met my nageslag nie vals sal optree nie. Dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as gas bly.” 24Avraham antwoord: “Ek sal sweer.” 25Avraham het Avimelekh egter aangespreek oor ’n put wat die diensknegte van Avimelekh met geweld gevat het. 26Avimelekh antwoord: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie, jy het dit ook nie vir my gesê nie en ek het ook niks daarvan gehoor nie, behalwe vandag.”

27Toe vat Avraham kleinvee en beeste en gee dit vir Avimelekh en hulle twee het ’n verbond gesluit. 28Avraham het sewe ooilammers uit die kleinvee eenkant afgesonder. 29Avimelekh sê vir Avraham: “Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy afgesonder het?” 30Hy antwoord: “Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanvaar sodat dit vir my ’n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.” 31Hulle noem daarom dié plek Be’er-Sh’va omdat hulle twee daar ’n eed gesweer het. 32So het hulle dan ’n verbond gesluit in Be’er-Sh’va. Daarna het Avimelekh en Pikhol, die bevelvoerder van sy leër, opgestaan en na die land van die F’lishtyne teruggegaan. 33Hy het ’n tamarisk in Be’er-Sh’va geplant en daar die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, El-’Olam (die ewige Magtige God), aangeroep. 34Avraham het vir ’n lang tyd as gas in die land van die F’lishtyne gebly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 20
Top of Page
Top of Page