Genesis 2
Afrikaans PWL
1So is die hemel en die aarde en al hulle hordes voltooi. 2Op die sesde dag is God se werk, wat Hy gemaak het, voltooi en op die sewende dag het Hy gerus van alle werk wat Hy gemaak het 3en God het die sewende dag geseën en dit afgesonder omdat Hy daarop gerus het van al Sy werk; dit wat God geskep het in ’n God-eie manier.

4Hierdie is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Op die dag toe יהוה-God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie, want יהוה-God het dit nog nie laat reën op die aarde nie en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. 6’n Wolk het egter opgestyg vanuit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. 7יהוה-God het die mens gevorm uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas sodat die mens ’n lewende gees, liggaam, wil en verstand geword het.

8יהוה-God het ook ’n tuin geplant in die ooste, in `Eden en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. 9יהוה-God, het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, ’n vreugde om te sien en goed om te eet; ook die ‘Boom van die Lewe’ in die middel van die tuin en die ‘Boom van die Kennis van Goedheid en Boosheid.’

10Daar het ’n rivier uit `Eden uitgegaan om die tuin nat te maak en van daar is dit verdeel en het vier strome geword. 11Die naam van die eerste is die Pishon. Dit is hy wat om die hele land Gavilah loop, waar die goud is; 12die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. 13Die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kush loop. 14Die naam van die derde rivier is die Giddekel. Dit is hy wat oos van Ashur loop. Die vierde rivier is die Ferat (Eufraat).

15Toe het יהוה-God, die mens gevat en hom in die tuin van `Eden gesit om dit om te spit en te beskerm. 16יהוה-God het die mens beveel en gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy as kos eet, 17maar van die ‘Boom van die Kennis van Goedheid en Boosheid’, daarvan mag jy nie eet nie, want op die dag as jy daarvan eet, sal jy die dood sterf.”

18יהוה-God het ook gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n helper maak wat by hom pas.” 19Vanuit die grond het יהוה-God al die diere van die veld en al die voëls van die hemel gevorm en hulle na die mens toe gebring om te sien hoe hy hulle sou noem en wat ook al die mens al die lewende wesens genoem het, dit moes sy naam wees. 20So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het Hy geen hulp gevind wat hom sou aanvul nie.

21יהוה-God het ’n diep slaap oor die mens laat val en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene gevat en die plek daarvan met vlees toegemaak 22en יהוה-God het die rib wat Hy vanaf die mens gevat het gebou tot ’n vrou en haar na die mens gebring.

23Die mens het gesê: “Eindelik is dit nou been van my been en vlees van my vlees. Sy sal vrou (ishah) genoem word, want sy is vanuit die man (ish) geneem;”

24daarom, soos die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, sal hulle een vlees wees. 25Hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam daaroor nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 1
Top of Page
Top of Page