Genesis 19
Afrikaans PWL
1Die twee engele het teen sonsondergang in S’dom aangekom terwyl Lot in die poort van S’dom sit en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle te ontmoet en homself neergebuig met sy gesig na die grond toe 2en gesê: “Let nou op, my meesters, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete, dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit,” maar hulle antwoord: “Nee, ons sal op die plein bly.” 3Hy het egter sterk by hulle aangedring sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis ingekom het. Hy het vir hulle ’n ete voorberei en ongesuurde brood gebak en hulle het geëet. 4Voordat hulle nog gaan lê het, het die manne van die stad, die manne van S’dom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking van die stad. 5Hulle het na Lot geroep en vir hom gesê: “Waar is die manne wat vannag na jou toe gekom het? Bring hulle na ons toe uit sodat ons ’n intieme verhouding met hulle kan hê.” 6Lot het uitgegaan na hulle toe voor die ingang, die deur agter hom toegesluit 7en gesê: “Asseblief, my broers, moenie boosheid doen nie. 8Let nou op, ek het twee dogters wat met geen man intiem was nie; laat ek dié na julle uitbring en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.” 9Hulle sê: “Staan terug!” Ook sê hulle: “Hierdie een het gekom om as gas tussen ons te kom bly en nou tree hy op as regter oor ons. Nou sal ons jou meer kwaad aandoen as aan hulle.” Toe het Lot desperaat met hulle baklei en hulle het nader gekom om die deur af te breek, 10maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis ingebring en die deur toegesluit. 11Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, van klein tot groot, met blindheid sodat hulle moeg geword het om tevergeefs na die ingang te soek.

12Die manne sê vir Lot: “Het jy nog iemand hier? ’n Skoonseun, jou seuns, jou dogters en almal wat jy in die stad het; bring hulle uit die plek uit, 13want ons gaan hierdie plek vernietig omdat die uitroep teen hulle groot is in die Teenwoordigheid van יהוה en יהוה het ons gestuur om dit te vernietig.” 14Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat sy dogters aanvaar het en sê: “Staan op, gaan uit hierdie plek uit, want יהוה verwoes die stad.” In die oë van sy skoonseuns was hy egter soos een wat gekskeer.

15Toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: “Staan op, vat jou vrou en jou twee dogters wat by jou is sodat jy nie saam vernietig word vir die wetsoortreding van die stad nie.” 16Terwyl hy nog talm, gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand omdat יהוה guns aan hom bewys het en hulle bring hom uit en sit hom buitekant die stad neer. 17Dit het so gebeur dat toe hulle hul uitgebring het, sê hy: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie en moenie êrens in die Yardenvallei bly staan nie. Vlug na die berge sodat jy nie vernietig word nie!” 18Lot antwoord hulle: “Asseblief nie, my meesters! 19Let nou op, u kneg het guns in u oë gevind en u het u guns groot gemaak wat u aan my bewys het deur my te laat lewe, maar ek is nie in staat om na die berge te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterf nie. 20Let nou op, hierdie stad is naby genoeg om daarheen te vlug en dit is klein. Laat my tog daarheen vlug (is dit nie klein nie?) sodat ek kan lewe!” 21Hy sê vir hom: “Let op, ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan sodat ek die stad waarvan jy gepraat het, nie sal omverwerp nie. 22Maak gou, vlug daarheen, want ek kan niks doen voordat jy nie daar aangekom het nie.” As gevolg daarvan, noem hulle die stad Tzo’ar.

23Die son het oor die aarde opgekom toe Lot Tzo’ar binnegaan.

24יהוה het swawel en vuur oor S’dom en `Amorra laat reën, vanaf die Teenwoordigheid van יהוה, vanuit die hemele 25en Hy het hierdie stede omvergegooi en die hele Yardenvallei, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.

26Sy vrou het agter hom omgekyk en sy het ’n soutpilaar geword.

27Avraham is vroeg in die oggend na die plek waar hy voor die Teenwoordigheid van יהוה gestaan het 28en hy het uitgekyk oor S’dom en `Amorra en oor die hele land van die Yardenvallei en hy het gesien, let op, die rook van die land gaan op soos die rook van ’n smeltoond.

29Terwyl God die stede van die Yardenvallei vernietig, het God Avraham onthou en Lot uitgestuur uit die vernietiging, toe Hy die stede waar Lot gebly het, omvergewerp het.

30Lot het uit Tzo’ar opgetrek en saam met sy twee dogters in die berge gaan bly, want hy was bang om in Tzo’ar te bly. Hy en sy twee dogters het in ’n grot gaan bly. 31Die oudste dogter het aan die jongste gesê: “Ons vader is oud en daar is geen man in die land om, na die gewoonte van die ganse aarde, na ons toe te kom nie. 32Kom, laat ons ons vader wyn gee om te drink en by hom lê sodat ons ons vader se saad lewend kan hou.” 33Hulle gee toe dié nag vir hulle vader wyn om te drink en die oudste het gekom en by hom gaan lê sonder dat hy geweet het wanneer sy gaan lê of wanneer sy opgestaan het. 34Die volgende dag sê die oudste dogter aan die jongste: “Let op, ek het verlede nag by my vader gaan lê; laat ons hom vannag weer wyn gee om te drink; gaan dan in, lê by hom sodat ons ons vader se saad deur ons lewend kan hou.” 35Hulle gee toe dié nag weer vir hulle vader wyn om te drink en die jongste het opgestaan en by hom gaan lê sonder dat hy geweet het wanneer sy gaan lê of wanneer sy opgestaan het. 36So het die twee dogters van Lot by hulle vader verwagtend geword 37en die oudste dogter het geboorte gegee aan ’n seun en hom Mo’av genoem. Hy is die vader van die Mo’aviete tot vandag toe. 38Die jongste het ook geboorte gegee aan ’n seun en hom Ben-`Ammi genoem. Hy is die vader van die `Ammoniete tot vandag toe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 18
Top of Page
Top of Page