Galasiërs 3
Afrikaans PWL
1O, dwase oneffektiewe Galatiërs, wie het julle uit julle vertroue in Yeshua, Die Gesalfde Een, wat voor julle oë as die gekruisigde uitgebeeld is, betower. 2Ek wil alleen dit van julle weet: het julle die Gees ontvang vanaf die doen van die geskrewe wet of vanaf die vertroue in wat julle gehoor het? 3Hierin is julle dwaas: die waarheid wat julle in die Gees gehad het, het by julle in die vlees geëindig. 4Het julle al hierdie dinge sonder rede gely? O, dat dit nie sonder rede was nie! 5Hy wat dus aan julle die Gees gee en wonderwerke onder julle doen, doen Hy dinge deur die doen van die geskrewe wet of vanuit die hoor en doen in vertroue,

6net soos wat Avraham in God vertrou het en dit vir hom tot onpartydige opregtheid bereken is? 7Weet daarom dat dié wat uit die vertroue is, húlle is kinders van Avraham. 8God het van voor dít af geweet dat die ander nasies deur vertroue onskuldig verklaar sou word voordat aan Avraham die goeie boodskap verkondig is, soos die afgesonderde Skrifte sê: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9So word die wat vertrou, geseën saam met die vertrouende Avraham,

10want almal wat ‘staatmaak op die onderhouding van die wet,’ is onder ’n vloek, want daar is geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie voortdurend alles sal doen wat in hierdie boek van die wet geskryf is nie.” 11Dat ’n mens nie deur die geskrewe wet by God onskuldig verklaar word nie, is duidelik, want dit is geskrywe: “Die onskuldige sal deur vertroue leef,” 12maar die geskrewe wet was nie vanuit vertroue nie, maar wie ook al dié dinge doen wat daarin geskrywe is, sal daarin lewe.” 13Die Gesalfde Een het ons losgekoop van die vloek van die geskrewe wet deur in ons plek ’n Vloek te word, want daar is geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang” 14sodat die seën van Avraham na die ander nasies kon kom deur Die Gesalfde Een, Yeshua en dat ons die belofte van die Gees deur vertroue mag ontvang.

15Broers, ek praat menslikerwys: dat ’n menslike verbond, as dit bekragtig is, nie deur enige mens verwerp of enige iets daarin verander kan word nie. 16Die beloftes is aan Avraham belowe en aan sy Saad as ’n verbond. Hy sê nie vir hom: ‘Aan jou sade,’ asof dit na baie wys nie, maar “Aan jou Saad,” soos na Een: Hom wat Die Gesalfde Een is 17en ek sê dít: dat die verbond, wat deur God, in Die Gesalfde Een, van die begin af bekragtig is, nie deur die geskrewe wet, wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, gekanselleer is om so die belofte tot niet te maak nie, 18want as die erfenis vanuit die geskrewe wet is, dan is dit nie meer die vervulling van die belofte nie, maar God het dit aan Avraham deur ’n belofte gegee.

19Hoekom dan die geskrewe wet? Dit is bygevoeg omrede die afdwaling totdat die Erfgenaam sou kom aan Wie die belofte gemaak is en daardie geskrewe wet is deur die belofte gegee, deur die hand van ’n tussenganger. 20’n Tussenganger verteenwoordig nie een alleen nie, maar God is Een. 21Is die wet wat ons ontvang het teenoorgesteld aan die belofte van God? ’n Verwerplike gedagte, want as daar ’n wet gegee is, wat in staat was om lewe te gee, dan sou die onpartydige opregtheid waarlik vanaf die wet gekom het. 22Die Skrifte het alles onder die sonde ingesluit sodat die belofte in die vertroue van Yeshua, Die Gesalfde Een, aan die wat vertrou, gegee kon word,

23maar voordat die vertroue gekom het, is ons begelei deur die wet terwyl ons afgesny was van die vertroue wat op die punt was om openbaar te word. 24Die geskrewe wet was dus vir ons ’n gids na Die Gesalfde Een toe sodat ons onskuldig verklaar kan word deur vertroue, 25maar sedert die vertroue gekom het, is ons nie onder ’n gids nie,

26want julle is almal kinders van God deur die vertroue in Yeshua, Die Gesalfde Een, 27want julle almal wat in Die Gesalfde Een gedoop is, het Die Gesalfde Een aangetrek. 28Daar is nie Jood of Arameër nie, daar is nie slaaf of vryman nie, daar is nie man of vrou nie, maar julle is almal een in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua. 29As julle aan Die Gesalfde Een behoort, is julle die saad van Avraham en volgens die belofte, erfgename.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Galatians 2
Top of Page
Top of Page