Esra 5
Afrikaans PWL
1Toe het die profete, Haggai en Z’kharyah, die seun van `Iddo, vir die Y’hudahiete, wat in Y’hudah en Yerushalayim was, aangaande hulle geprofeteer in die Karakter en Outoriteit van die God van Yisra’el. 2Toe het Z’rubavel, die seun van Sh’alti’el en Y’hoshua, die seun van Yotzadak, opgestaan en begin om die huis van God, wat in Yerushalayim is, te bou en saam met hulle was die profete van God wat hulle gehelp het.

3In daardie tyd het Tattenai, die kanselier wes van die Eufraat en Sh’tar-Boznai en hulle bondgenote na hulle gekom en só vir hulle en die res van die mense gesê: “Wie het aan julle die bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur op te rig?” 4Toe het hulle met hul gepraat volgens die wet en gesê: “Wat is die name van die manne wat hierdie bouwerk doen?” 5Die oog van hulle God was egter op die bannelinge van Yisra’el en hulle het nie opgehou totdat die saak na Daryavesh gebring is nie en toe het hulle ’n antwoord teruggestuur aangaande die saak.

6Die afskrif van die brief wat Tattenai, die kanselier wes van die Eufraat en Sh’tar-Boznai en hul bondgenote, wat wes van die Eufraat was, aan koning Daryavesh gestuur het; 7hulle het aan hom ’n brief gestuur waarin so geskryf is: “Aan Daryavesh, die koning, alle vrede, voorspoed, vergenoegdheid, gesondheid en vreugde! 8Laat dit aan die koning bekend wees dat ons na die provinsie Y’hudah, na die stad van die groot God, gegaan het wat met groot klippe gebou word en baie hout word in die mure gelê; ’n groot werk word daar gedoen en die groot werk is voorspoedig in hulle hande. 9Toe het ons daardie oudstes gevra en só vir hulle gesê: ‘Wie het aan julle die bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur op te rig?’ 10Ons het ook vir hulle hul name gevra dat ons u kan inlig en dat ons die name van die manne wat hul leiers is, kan skryf. 11Dit is die antwoord wat hulle ons gegee het: ‘Ons is diensknegte van die God van die hemel en aarde en hierdie huis wat ons bou is baie jare gelede gebou en is voltooi deur ’n koning van Yisra’el en sy prinse, 12maar omdat ons vaders die God van die hemel getart het tot woede, het Hy hulle oorgegee in die hand van N’vukadnetzar, koning van die Kasdeërs, wat hierdie huis vernietig en die volk na Bavel weggevoer het. 13In die eerste jaar van Koresh, koning van Perse, het Koresh egter ’n bevel gegee dat hierdie huis van God herbou moet word. 14Ook die goue en silwer voorwerpe van die huis van God wat N’vukadnetzsar uit die tempel in Yerushalayim weggevat en in die tempel van Bavel gesit het, daardie voorwerpe het Koresh, die koning uit die tempel van Bavel gevat en dit oorhandig aan een met die naam van Sheshbatzar, wat hy goewerneur gemaak het 15en hy het vir hom gesê: ‘Vat hierdie voorwerpe, gaan sit dit in die tempel in Yerushalayim en laat die tempel van God herbou word op sy plek. 16Toe het dieselfde Sheshbatzar gekom en die fondasies van die huis van God in Yerushalayim gelê en van toe af tot nou toe word daar gebou en nog is dit nie voltooi nie;’ 17daarom, as dit vir die koning goed is, laat daar gesoek word in die skathuis van die koning, daar in Bavel, of dit so is dat daar ’n bevel deur koning Koresh uitgevaardig is om hierdie huis van God in Yerushalayim te bou en mag die koning sy wil aangaande hierdie saak aan ons stuur.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezra 4
Top of Page
Top of Page