Esegiël 7
Afrikaans PWL
1Weer het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 2“Jy, seun van ’n mens, so sê יהוה-God vir die land van Yisra’el: ‘Einde! Die einde het gekom op die vier hoeke van die land. 3Nou is die einde op jou en Ek sal My woede teen jou stuur; Ek sal jou oordeel volgens jou lewenswyse en al jou verwerplikhede op jou afbring, 4want My oog sal nie vir jou jammer wees nie en Ek sal jou ook nie spaar nie, maar Ek sal jou lewenswyse op jou afbring en jou verwerplikhede sal tussen jou wees; dan sal julle weet dat Ek יהוה is!’

5So sê יהוה-God: ‘’n Ramp, ’n unieke ramp, let op, dit kom! 6’n Einde kom, die einde het gekom! Dit het wakker geword teen jou; let op, dit het gekom! 7Jou verdoemenis kom teen jou, o inwoner van die land! Die tyd het gekom, die dag is naby! Opskudding, eerder as vreugdevolle geroep op die berge. 8Nou sal Ek b innekort My toorn op jou uitgiet en My woede teen jou laat uitwoed; jou oordeel volgens jou lewenswyse en al jou verwerplikhede op jou afbring. 9My oog sal nie jammerte wys en Ek sal nie spaar nie; Ek sal jou terugbetaal volgens jou lewenswyse terwyl jou verwerplikhede tussen jou is; dan sal julle weet dat Ek, יהוה, die slaanwerk doen.

10Let op, die dag! Let op, dit kom! Jou verdoemenis het uitgegaan; die roede het gebot, arrogansie het uitgespruit. 11Geweld het gegroei tot ’n roede van boosheid. Niks van hulle sal oorbly nie, nie een van hulle mense, niks van hulle rykdom, of enige iets uitstaande tussen hulle nie. 12Die tyd het gekom, die dag het arriveer. Laat die koper nie bly wees nie en die verkoper nie treur nie, want toorn is teen al hulle menigte. 13Inderdaad, die verkoper sal nie terugkry wat hy verkoop het nie, want beide sal nie leef nie, want die visioen aangaande hulle hele menigte sal nie afgewend word nie en ook sal niemand sy lewe in stand hou deur sy oortredinge nie.

14Hulle het die trompet geblaas en maak alles gereed, maar niemand gaan na die geveg toe nie, want My toorn is teen hulle hele menigte. 15Die swaard is buite en die plaag en die hongersnood is binne. Hy wat in die veld is, sal deur die swaard sterf; hongersnood en die plaag sal ook dié verteer wat in die stad is. 16Selfs as die oorlewendes ontvlug, sal hulle soos duiwe van die valleie op die berge wees wat almal treur, elkeen oor sy eie oortredinge. 17Alle hande sal slap hang en alle knieë sal soos water word. 18Hulle sal hulle omvou met rouklere en hulle sal oorkom word met angssiddering en skaamte sal op alle gesigte wees en ’n kaalte op al hulle koppe. 19Hulle sal hulle silwer op die strate gooi en hulle goud sal ’n verfoeilike ding word; hulle silwer en hulle goud sal hulle nie kan bevry in die dag van die toorn van יהוה nie. Hulle kan nie hul aptyt versadig of hul maag daarmee volmaak nie, want hulle oortredinge het deur struikeling gekom.

20Hulle het die prag van Sy ornamente in trots verander en hulle het die beelde van hul verwerplikhede, hul verfoeilike dinge daarmee gemaak; daarom sal Ek dit ’n verfoeilike ding vir hulle maak. 21Ek sal dit in die hand van buitelanders gee as plunder en aan die bose oortreders van die aarde as buit en hulle sal dit onteer. 22Ek sal ook My gesig van hulle af wegdraai en hulle sal My geheime plek onteer; dan sal rowers ingaan en dit onteer.

23Hulle sal dit met stene aanval, want die land is vol bloederige misdaad en die stad is vol geweld; 24daarom sal Ek die slegste van die nasies bring en hulle sal hul huise besit. Ek sal ook die trots van die sterkes laat ophou en hulle afgesonderde plekke sal onteer word. 25Wanneer angs kom, sal hulle vrede soek, maar daar sal niks wees nie. 26Ramp sal op ramp kom en gerug by gerug bygesit word; dan sal hulle ’n visioen verlang van ’n profeet, maar die wet sal verlore wees vir die priester en die raad vir die oudstes. 27Die koning sal rou, die prinse sal aangetrek wees met afsku en die hande van die mense van die land sal bewe. Volgens hulle optrede sal Ek met hulle handel en deur hulle oordele sal Ek hulle oordeel en hulle sal weet dat Ek יהוה is.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 6
Top of Page
Top of Page