Esegiël 5
Afrikaans PWL
1Wat jou betref, seun van ’n mens, vat ’n skerp swaard en gebruik dit as ’n haarkapper se skeermes op jou kop en baard. Vat dan ’n weegskaal en verdeel die hare: 2een derde moet jy in die middel van die stad met vuur verbrand wanneer die dae van die beleëring voltooi is. Dan moet jy een derde vat en dit met die swaard stukkend kap reg rondom die stad en een derde moet jy in die wind strooi en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek. 3Vat ook ’n klein bietjie daarvan en bind dit in die nate van jou kleed. 4Vat weer ’n bietjie daarvan en gooi dit binne-in die vuur; ’n vuur sal vanuit dit versprei na die hele huis van Yisra’el.

5So sê יהוה-God: ‘Hierdie is Yerushalayim; Ek het haar in die middel van die nasies geplaas, met lande rondom haar, 6maar sy het My oordele verruil vir die booshede van die nasies en My opdragte vir die instellings van die stede wat haar omring, want hulle het My instellings verwerp en nie in My opdragte gelewe nie.’ 7יהוה-God sê daarom: ‘Omdat julle die instellings van die nasies wat rondom julle is erken het en nie in My instellings gelewe het of My oordele gehoorsaam het nie, maar gedoen het volgens die oordele van die nasies rondom julle;’ 8daarom, so sê יהוה-God: ‘let op, Ek, selfs ook Ek, is teen jou en Ek sal oordeel oor jou vel ten aanskoue van die nasies 9en as gevolg van al jou verwerplikhede sal Ek onder jou doen wat Ek nog nooit gedoen het nie en wat Ek nooit weer só sal doen nie. 10Vaders sal daarom hulle seuns opeet in jou midde en die seuns sal hulle vaders eet, want Ek sal oordeel vel oor jou en almal wat van jou oorbly na al die windstreke verstrooi. 11So waar as Ek leef,’ verklaar יהוה-God, ‘sekerlik, aangesien jy My Afgesonderde Plek onteer het met al jou veragtelike afgode en met al jou verwerplikhede sal Ék My ook onttrek en My oog sal nie jammerte hê nie en Ék sal nie spaar nie.

12’n Derde deel van jou sal deur die plaag sterf of deur hongersnood tussen jou verteer word; een derde sal deur die swaard rondom jou val en een derde sal Ek na al die windstreke verstrooi en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek.

13So sal dan My woede uitwoed en Ek sal My toorn oor hulle bevredig en Ek sal tevrede wees; dan sal hulle weet dat Ek, יהוה, in My ywer gepraat het wanneer Ek My toorn teen hulle laat uitwoed het. 14Meer nog, Ek sal jou ’n verlatenheid en skande maak onder die nasies wat rondom jou is, voor die oë van almal wat verbygaan. 15So sal dit ’n voorwerp van skande, beskimping, ’n waarskuwing en ’n voorwerp van verskrikking wees vir die nasies wat rondom jou is, as Ek oordele vel teen jou in woede, toorn en in tierende strawwe; Ek, יהוה, het gepraat. 16Wanneer Ek die dodelike pyle van hongersnood wat vir die verwoesting van hulle wat Ek sal stuur om julle te vernietig, teen hulle uitstuur, dan sal Ek ook die hongersnood oor jou vererger en julle staf van graan verbreek. 17Meer nog, Ek sal hongersnood en wilde diere oor jou stuur wat jou van kinders sal ontneem; plaag en bloedvergieting sal ook deur jou gaan en Ek sal die swaard oor jou bring. Ek, יהוה, het gepraat.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 4
Top of Page
Top of Page