Esegiël 42
Afrikaans PWL
1Toe het hy my uitgebring na die buitenste hof, by die pad na die noorde en hy het my gebring by die kamer wat oorkant die afsonderlike area en oorkant die gebou na die noorde toe was. 2Met die lengte langs, wat een honderd el was, was die noordelike deur; die breedte was vyftig el. 3Oorkant die twintig el wat aan die binneste hof behoort en oorkant die plaveisel wat aan die buitenste hof behoort, was galery bokant galery, drie verdiepings hoog. 4Voor die kamers was ’n binneste gang van tien el breed, ’n gang van een honderd el lank en hulle openinge was in die noorde. 5Die boonste kamers was kleiner, want die galerye het meer spasie van hulle weggevat as van die onderstes en middelstes in die gebou, 6want hulle was in drie verdiepings, maar het nie pilare soos die pilare van die howe gehad nie; daarom is hulle van die grond af weggelig, meer as die onderstes en die middelstes. 7Wat die buitemuur langs die kamers betref, in die rigting van die buitenste hof, na die kamers toe, was sy lengte vyftig el, 8want die lengte van die kamers in die buitenste hof was vyftig el en let op, die wat na die tempel kyk was een honderd el. 9Onder hierdie kamers was die ingang aan die oostekant, soos jy hulle binnegaan vanaf die buitenste hof.

10In die dikte van die muur van die hof, na die ooste toe, wat kyk na die afsonderlike area en die bouwerk, was daar kamers. 11Die pad voor hulle het gelyk soos die kamers wat aan die noordekant was, volgens hulle lengte, so was hulle breedte en al hulle uitgange was beide volgens hulle indelings en openinge. 12Ooreenstemmend met die openinge van die kamers wat in die suide was, was daar ’n opening aan die kop van die gang, die gang voor die muur in die rigting van die ooste, soos ’n mens by hulle ingaan.

13Toe het hy vir my gesê: “Die noordelike kamers en die suidelike kamers wat oorkant die afsonderlike area is, is die afgesonderde kamers waar die priesters wat naby יהוה is, die mees afgesonderde dinge sal eet. Daar moet hulle die mees afgesonderde dinge neersit: die graanoffer, die sondoffer en die oortredingsoffer, want die plek is afgesonderd. 14Wanneer die priesters ingaan, dan mag hulle nie uit die Afgesonderde Plek uitgaan na die buitenste hof, sonder om hulle klere, waarin hulle bedien, daar neer te sit nie, want hulle is afgesonderd. Hulle moet ander klere aantrek en dan naderkom aan wat vir die volk bestem is.”

15Toe hy klaar die binneste huis opgemeet het, het hy my deur die poort wat na die ooste kyk uitgebring en dit reg rondom gemeet. 16Hy het die oostekant met die meetstok gemeet: vyf honderd stokke, met die meetstok. 17Hy het die noordekant gemeet: vyf honderd stokke, met die meetstok. 18Aan die suidekant het hy vyf honderd stokke gemeet met die meetstok. 19Hy het na die westekant gedraai en vyf honderd stokke gemeet met die meetstok. 20Hy het dit aan al vier kante gemeet; dit het ’n muur reg rondom gehad; die lengte was vyf honderd en die breedte vyf honderd, om skeiding te maak tussen wat afgesonderd en wat onrein is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 41
Top of Page
Top of Page