Esegiël 38
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 2“Seun van ’n mens, draai jou gesig teen Gog, van die land van Magog, die hoofprins van Meshekh en Tuval en profeteer teen hom 3en sê: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen jou, o Gog, hoofprins van Meshekh en Tuval! 4Ek sal jou omdraai en hake in jou kakebene sit, jou en jou hele leër, perde en ruiters, almal wonderlik toegerus, ’n groot menigte met die groot en die klein skild, wat almal die swaard hanteer, sal Ek uitbring; 5Paras, Kush en Put saam met hulle, almal met skild en helm; 6Gomer met al sy troepe, Beit-Togarmah, vanaf die uithoeke van die noorde met al sy troepe; baie volke saam met jou.

7Wees gereed en berei jouself voor, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het en wees vir hulle ’n wag. 8Ná baie dae sal jy geroep word; in die laaste jare sal jy in ’n land inkom wat van die swaard herstel het, wat versamel is uit baie nasies na die berge van Yisra’el wat voortdurende puinhope was, maar sy mense is vanuit die nasies gebring en hulle bly almal in veiligheid. 9Jy sal opgaan, jy sal kom soos ’n storm; jy sal wees soos ’n wolk wat die land oordek, jy, al jou troepe en baie volke saam met jou.”

10So sê יהוה-God: “Dit sal gebeur in daardie dag dat daar gedagtes in jou denke sal opkom en jy sal ’n bose plan beraam 11en sê: ‘Ek sal opgaan teen die land van ongemuurde dorpe. Ek sal teen hulle opgaan wat rustig is, wat in veiligheid woon; almal van hulle bly sonder muur met geen grendels of poorte nie; 12om buit te maak en plunder te vat, om jou hand te draai teen die puinhope wat weer bewoon is en teen die mense wat vanuit die nasies versamel is, wat vee en goedere verkry het, wat in die middel van die aarde woon.’ 13Sh’va, D’dan, die handelaars van Tarshish en al sy dorpies sal vir jou sê: ‘Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om plunder te vat, om silwer en goud weg te dra, om vee en goedere weg te vat, om ’n groot buit te maak?’”’

14Profeteer daarom, o seun van ’n mens en sê vir Gog: ‘So sê יהוה-God: “Op daardie dag wanneer My volk Yisra’el veilig bly, sal jy dit nie weet nie? 15Jy sal kom uit jou plek, vanuit die uiterste plekke van die noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ’n groot menigte en ’n magtige leër 16en jy sal soos ’n wolk die land toedek teen My volk Yisra’el. Dit sal gebeur in die laaste dae sodat Ek jou teen My land sal bring sodat die nasies My kan ken wanneer Ek My deur jou, o Gog, voor hulle oë laat afsonder.”

17So sê יהוה-God: “Is jy die een van wie Ek in die vroeër dae gepraat het deur My knegte, die profete van Yisra’el, wat in daardie dae geprofeteer het, vir jare, dat Ek jou teen hulle sal bring? 18Dit sal gebeur op daardie dag, wanneer Gog teen die land van Yisra’el kom,” verklaar יהוה-God, “dat My toorn sal opbou in My woede. 19In My ywer en in My brandende toorn verklaar Ek dat daar sekerlik op daardie dag ’n groot aardbewing sal wees in die land van Yisra’el. 20Die visse van die see, die voëls van die hemel, die wilde diere van die veld, al die gediertes wat op die grond kruip en al die mense wat op die aarde is sal bewe in My Teenwoordigheid; die berge sal ook neergegooi word, die steil paadjies sal inmekaarstort en al die mure sal op die grond neerval. 21Ek sal roep vir ’n swaard teen hom op al My berge,” verklaar יהוה-God. “Elke man se swaard sal teen sy broer wees. 22Ek sal in die oordeel met hom tree met pes en met bloed en Ek sal ’n geweldige stortreën, met haelstene, vuur en swael op hom, op sy leërs en op die baie volke wat saam met hom is, laat reën. 23Ek sal Myself verhef, Myself afsonder en Myself bekendmaak voor die oë van baie nasies en hulle sal weet dat Ek יהוה is.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 37
Top of Page
Top of Page