Esegiël 30
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het weer tot my gekom en gesê:

2“Seun van ’n mens, profeteer en sê: ‘So sê יהוה-God: “Huil, ‘wee die dag,’

3want die dag is naby, die dag van יהוה is naby; dit sal ’n dag wees van wolke; ’n tyd vir die nasies.

4’n Swaard sal op Mitzrayim kom en daar sal angs in Kush wees wanneer die neergeslaandes in Mitzrayim val, hulle vat haar rykdom weg en haar fondamente word afgebreek.

5Kush, Put, Lud, al die gemengde nasies (Arabië), Kuv en die mense van die lande daarmee verbonde sal saam met hulle val deur die swaard.”

6So sê יהוה: “Die wat Mitzrayim ondersteun sal beslis val en die trots van haar krag sal afkom; vanaf Migdol tot by S’venah sal hulle in haar val deur die swaard,” verklaar יהוה-God.

7Hulle sal verlate wees tussen die verlate lande en haar stede sal tussen die verwoeste stede wees.

8Hulle sal weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek ’n vuur aansteek in Mitzrayim en al haar helpers gebroke is.

9Op daardie dag sal daar boodskappers van My af uitgaan in skepe om die sorgelose Kush te verskrik en daar sal angs op hulle wees soos op die dag van Mitzrayim, want let op, dit kom!”

10So sê יהוה-God: “Ek sal ook die menigtes van Mitzrayim tot ’n einde bring deur die hand van N’vukhadnetzar, koning van Bavel.

11Hy en sy volk saam met hom, die geweldadigste van nasies, sal ingebring word om die land te vernietig en hulle sal hul swaarde teen Mitzrayim uittrek en die land vul met die neergeslaandes.

12Ek sal ook nog die Nylkanale droogmaak en die land verkoop in die hand van bose manne. Ek sal ook die land en alles wat daarin is verlate maak deur die hand van vreemdelinge; Ek, יהוה, het gepraat.”

13So sê יהוה-God: “Ek sal ook die afgode vernietig en die beelde laat verdwyn uit Nof (Memphis) en daar sal nie langer ’n prins wees in die land van Mitzrayim nie en Ek sal vrees sit in die land van Mitzrayim.

14Ek sal Patros verlate maak, ’n vuur aansteek in Tzo’an en oordele voltrek in No (Thebes).

15Ek sal My toorn uitgiet oor Sin, die vesting van Mitzrayim; Ek sal ook die menigtes van No afsny.

16Ek sal ’n vuur aansteek in Mitzrayim: Sin sal bewe van angs, No sal oopgebreek word en Nof sal daagliks angs hê!

17Die jongmanne van On en Pi-Veset sal deur die swaard val en die vroue sal in gevangeskap gaan.

18In Tagpanges sal die dag donker wees wanneer Ek daar die jukke van Mitzrayim verbreek. Dan sal die trots van haar mag in haar ophou; ’n wolk sal haar oordek en haar dogters sal in gevangeskap gaan.

19So sal Ek oordeel voltrek in Mitzrayim en hulle sal weet dat Ek יהוה is.”’”

20In die elfde jaar, in die eerste maand, op die sewende van die maand, het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 21“Seun van ’n mens, Ek het die arm van Farao, koning van Mitzrayim, gebreek en let op, dit is nie verbind tot genesing of toegedraai met ’n verband sodat dit sterk kan wees om die swaard vas te hou nie. 22יהוה-God sê daarom: ‘Let op, Ek is teen Farao, koning van Mitzrayim en sal sy arms breek, beide die sterk en die gebreekte een en Ek sal die swaard uit sy hand laat val. 23Ek sal die Mitzrayiete verstrooi onder die nasies en hulle versprei tussen die lande, 24want Ek sal die arms van die koning van Bavel versterk en My swaard in sy hand sit en Ek sal die arms van Farao breek sodat hy voor hom sal kerm soos die gekerm van ’n gewonde man. 25So sal Ek die arms van die koning van Bavel versterk, maar Farao se arms sal val. Dan sal hulle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek My swaard in die hand van die koning van Bavel sit en hy dit uitstrek teen die land van Mitzrayim. 26Wanneer Ek die Mitzrayiete sal verstrooi onder die nasies en hulle versprei tussen die lande, dan sal hulle weet dat Ek יהוה is.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 29
Top of Page
Top of Page