Esegiël 24
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het tot my gekom in die negende jaar, in die tiende maand, op die tiende van die maand en gesê: 2“Seun van ’n mens, skryf vir jou die naam van die dag, hierdie selfde dag, neer. Die koning van Bavel het op hierdie selfde dag vir Yerushalayim beleër.

3Vertel ’n vergelykende storie aan die rebelse huis en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Sit die pot op, sit dit op en gooi ook water daarin;

4sit die stukke daarin, elke goeie stuk, die boud en die blad; maak dit vol met die beste bene.

5Vat die beste van die kleinvee en stapel ook hout onder die pot. Laat dit sterk kook; ook die bene moet daarin kook.”

6יהוה-God sê daarom: “Wee die bloedige stad, in die pot waarin roes is en waarvan die roes nie afgegaan het nie. Haal stuk vir stuk daaruit; sonder om ’n keuse te maak,

7want die stad se bloed is binne-in haar; sy het dit op ’n kaal rots neergesit; sy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met stof toe te maak nie.

8Ek het haar bloed op ’n kaal rots neergesit sodat dit toorn kan laat opkom om wraak te neem dat dit nie toegemaak kan word nie.”

9יהוה-God sê daarom: “Wee die bloedige stad! Ék sal ook die stapel groot maak.

10Stapel die hout op, steek die vuur aan, kook die vleis goed, meng die speserye in en laat die bene brand.

11Laat dit dan leeg op sy kole staan dat dit warm kan wees en sy koper kan gloei en sy vuilheid kan smelt in hom, sy roes verteer word.

12Sy het My moeg gemaak met ywer, nogtans het haar baie roes nie van haar af weggegaan nie; haar roes moet in die vuur!

13Omdat jy jouself vuil gemaak het deur onsedelikheid en omdat Ek jou gereinig het, maar jy nie gereinig is van jou vuilheid nie, sal jy nie weer gereinig word totdat Ek My toorn op jou laat rus het nie.

14Ek, יהוה, het gepraat; dit kom en Ek sal optree. Ek sal nie toegee nie, Ek sal nie jammer kry of berou hê nie; volgens jou lewenswyse en volgens jou optrede sal Ek jou oordeel,” verklaar יהוה-God.

15Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 16“Seun van ’n mens, let op, Ek is op die punt om die begeerte van jou oë van jou af weg te vat met ’n slag, maar jy sal nie rou of huil nie en jou trane sal nie kom nie. 17Kreun in stilte; rou glad nie oor die wat dood is nie; bind jou tulband aan en trek jou skoene aan jou voete; moenie jou snor bedek en die brood van die mense eet nie.” 18Ek het in die oggend met die mense gepraat en in die aand het my vrou gesterf; in die oggend het ek gedoen soos ek beveel is. 19Die mense het vir my gesê: “Wil u ons nie vertel wat hierdie dinge wat u doen vir ons beteken nie?” 20Toe het ek hulle geantwoord: “Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 21‘Sê vir die huis van Yisra’el: “So sê יהוה-God: ‘Let op, Ek is op die punt om My Afgesonderde Plek te onteer, die trots van julle krag, die begeerte van julle oë en die vreugde van julle lewe en julle seuns en julle dogters wat julle laat agterbly het, sal deur die swaard val. 22Julle sal doen soos ek gedoen het; julle sal nie die snor bedek en die brood van die mense eet nie. 23Julle tulbande sal op julle koppe wees en jul skoene aan julle voete. Julle sal nie rou of huil nie, maar julle sal wegteer in julle oortredinge en julle sal kreun teenoor mekaar. 24So sal Yegezk’el vir julle ’n teken wees; volgens alles wat hy gedoen het, sal julle doen; wanneer dit kom, sal julle weet dat Ek יהוה-God is.

25Wat jou betref, seun van ’n mens, sal dit nie op dié dag wees wanneer Ek hulle vesting van hulle af wegvat, die blydskap van hulle trots, die begeerte van hulle oë en die vreugde van hulle lewe, hulle seuns en hulle dogters, 26dat op dié dag ’n vlugteling na jou toe sal kom met inligting vir jou ore nie? 27Op daardie dag sal jou mond oopgemaak word teenoor die vlugteling en jy sal praat en nie langer stom wees nie. So sal jy ’n teken wees vir hulle en hulle sal weet dat Ek יהוה is.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 23
Top of Page
Top of Page