Esegiël 2
Afrikaans PWL
1Toe het Hy vir my gesê: “Seun van ’n mens, staan op jou voete sodat Ek met jou kan praat.” 2Terwyl Hy met my praat, het die Gees in my gekom en my op my voete geplaas en ek het Hom met my hoor praat. 3Toe sê Hy vir my: “Seun van ’n mens, Ek stuur jou na die seuns van Yisra’el, na ’n rebelse volk wat teen My gerebelleer het; hulle en hul vaders het teen My oortree tot op hierdie dag toe. 4Ek stuur jou na hulle wat hardkoppige en eiewillige kinders is en jy moet vir hulle sê: ‘So sê יהוה-God!’ 5Wat hulle betref, of hulle luister of nie, want hulle is ’n rebelse huis; hulle sal weet dat ’n profeet tussen hulle was. 6Jy, seun van ’n mens, moenie vir hulle of vir hulle woorde bang wees nie, alhoewel distels en dorings by jou is en jy op skerpioene sit; moenie hulle woorde vrees nie en ook nie ontsteld wees oor hulle teenwoordigheid nie, want hulle is ’n rebelse huis. 7Jy moet egter My woorde vir hulle sê, of hulle luister of nie, want hulle is rebels.

8Nou jy, seun van ’n mens, luister en hoor wat Ek vir jou sê; moenie rebels wees soos daardie rebelse huis nie. Maak jou mond oop en eet wat Ek jou gee.” 9Toe kyk ek en let op, daar is ’n hand na my toe uitgesteek en sowaar, daar was ’n boekrol in! 10Toe Hy dit voor my uitsprei, was daar voorop en agterop geskryf en daar was klaagliedere, rou en smart op geskryf.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 1
Top of Page
Top of Page