Esegiël 18
Afrikaans PWL
1Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

2“Wat bedoel julle as julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Yisra’el en sê: ‘Die vaders eet die groen druiwe, maar die seuns se tande word stomp’?

3So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “julle sal sekerlik nie meer hierdie spreekwoord in Yisra’el gebruik nie. 4Let op, al die lewens is Myne; die lewe van die vader, sowel as die lewe van die seun is Myne. Die lewe wat sondig, sal sterf.

5As ’n mens regverdig is en regverdig oordeel; onpartydige opregtheid praktiseer; 6nie afgodsoffers op die berge eet of sy oë opslaan na die afgode van die huis van Yisra’el of sy naaste se vrou onteer of naby ’n vrou kom tydens haar maandstonde nie; 7as iemand geen persoon onderdruk nie, maar aan die skuldenaar sy waarborg teruggee; nie roof nie, maar sy brood gee vir die hongeres en die wat kaal is, met klere toemaak; 8nie geld uitleen op rente of meer terugvat nie; as hy sy hand terughou van oortreding en ware oordeel uitspreek tussen man en man; 9in My instellings en in My wette loop, deur getrou op te tree: hy is onpartydig opreg en sal sekerlik leef,” verklaar יהוה-God.

10As hy geboorte gee aan ’n gewelddadige seun, wat bloed vergiet en enige van hierdie bose dinge doen; 11wat afgodsoffers eet op die berge, sy naaste se vrou onteer, 12wat die armes en behoeftiges onderdruk, sy naaste afpers, die waarborg nie teruggee aan sy eienaar nie, sy oë oplig na die afgode en verwerplike dinge doen, 13geld uitleen met rente en meer vat; sal hy dan lewe? Hy sal nie lewe nie! Hy het al hierdie verwerplikhede gedoen, hy sal sekerlik doodgemaak word; sy bloed sal op homself wees.

14As hy egter ’n seun het wat al die sondes sien wat sy vader gedoen het en nie dieselfde doen nie: 15hy eet nie afgodsoffers op die berge en slaan nie sy oë op na die afgode van die huis van Yisra’el, of onteer die vrou van sy naaste nie; 16verdruk niemand of hou ’n waarborg terug of roof nie, maar gee sy brood vir die hongeres en bedek die wat kaal is met klere; 17hy weier nie om die armes te help nie en vat geen rente of meer nie, maar voer My wette uit en leef in My instellings; hy sal nie sterf vir sy vader se oortredinge nie, hy sal sekerlik leef. 18Wat sy vader betref, omdat hy afpersing toegepas het, sy broer beroof het en onder sy volk gedoen het wat nie goed is nie, let op, hy sal vir sy oortredinge sterf.

19Nogtans sê julle: ‘Waarom sou die seun nie die straf vir die vader se oortredinge dra nie?’ Wanneer die seun regverdigheid, onpartydige opregtheid gepraktiseer het en al My instellings onderhou en dit gedoen het, sal hy sekerlik leef! 20Die persoon wat sondig sal sterf. Die seun sal nie die straf dra vir die vader se oortredinge nie en die vader sal ook nie die straf dra vir die seun se oortredinge nie; die regverdigheid van die onpartydige en opregte sal op homself wees en die boosheid van die bose oortreder sal op homself wees.

21As die bose oortreder wegdraai van al sy sondes wat hy gedoen het en al My instellings onderhou en regverdig oordeel, onpartydige opregtheid, toepas, sal hy sekerlik leef, hy sal nie sterf nie. 22Al sy oortredinge wat hy gedoen het, sal nie teen hom onthou word nie; as gevolg van sy onpartydige opregtheid wat hy praktiseer het, sal hy lewe. 23Het Ek enige behae in die dood van die bose oortreder,” verklaar יהוה-God, “eerder as dat hy sal wegdraai van sy lewenswyse af en leef?

24As die onpartydige en opregte man egter wegdraai van regverdigheid, oortredinge pleeg en doen volgens al die verwerplikhede wat die bose oortreder doen, sal hy dan leef? Al sy onpartydige en opregte dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie; vir sy troueloosheid wat hy gedoen het en sy sonde wat hy gedoen het, vir hulle sal hy sterf. 25Nogtans sê julle: ‘Die pad van יהוה is nie reg nie. Hoor en luister nou, o huis van Yira’el! Is My pad nie reg nie? Is dit nie júlle paaie wat nie reg is nie? 26Wanneer ’n regverdige man wegdraai van sy onpartydige opregtheid, oortredinge doen en sterf as gevolg daarvan, sal hy sterf vir die oortredinge wat hy gedoen het. 27Weer, wanneer die bose oortreder wegdraai van sy boosheid wat hy gedoen het en regverdigheid, onpartydige opregtheid doen, sal hy sy lewe red. 28Omdat hy dit oorweeg het en weggedraai het van sy oortredinge wat hy gedoen het, sal hy sekerlik leef, hy sal nie sterf nie. 29Die huis van Yisra’el sê egter: ‘Die pad van יהוה is nie reg nie.’ Is My paaie nie reg nie, o huis van Yisra’el? Is dit nie júlle paaie wat nie reg is nie?

30Ek sal julle daarom oordeel, o huis van Yisra’el, elkeen volgens sy optrede,” verklaar יהוה-God. “Erken en draai weg van al julle oortredinge sodat onregverdigheid nie vir julle ’n struikelblok kan word nie. 31Gooi al julle oortredinge, wat julle gedoen het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe verstand, wil en emosie en ’n nuwe gees, want waarom wil julle sterf, o huis van Yisra’el? 32Want Ek het geen behae in die dood van enige een wat sterf nie,” verklaar יהוהGod. “Erken daarom, draai weg en leef.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 17
Top of Page
Top of Page