Eksodus 4
Afrikaans PWL
1Moshe antwoord en sê: “Maar veronderstel hulle glo my nie en luister nie na wat ek sê nie, maar sê: ‘יהוה het nie aan jou verskyn nie’?” 2יהוה vra vir hom: “Wat is daar in jou hand?” Hy antwoord: “’n Staf.” 3Toe sê Hy: “Gooi dit op die grond.” Toe gooi hy dit op die grond en dit het ’n slang geword en Moshe het vir dit gevlug. 4יהוה sê vir Moshe: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert.” Hy het sy hand uitgesteek en dit gegryp en dit het ’n staf in sy hand geword. 5“Sodat hulle kan glo dat יהוה, die God van hulle vaders, die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov, aan jou verskyn het.”

6יהוה het verder vir hom gesê: “Steek nou jou hand in jou boesem.” Hy het sy hand in sy boesem gesteek en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! 7Hy sê: “Steek jou hand weer in jou boesem.” Hy het sy hand weer in sy boesem gesteek en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees! 8“Dit sal wees as hulle jou nie glo en reageer op die eerste teken nie, dan mag hulle die daaropvolgende teken glo 9en as hulle selfs hierdie twee tekens nie glo nie en nie luister na wat jy sê nie, vat dan van die rivier se water en gooi dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die rivier vat, bloed word op die droë grond.”

10Moshe sê vir יהוה: “Asseblief יהוה, ek was nog nooit ’n man van woorde nie; nie onlangs nie en ook nie in die verlede nie en ook nie vandat U met U kneg gepraat het nie, want ek is stadig van spraak en van tong.” 11יהוה antwoord hom: “Wie het die mens se mond gemaak, of Wie maak hom stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, יהוה, nie? 12Gaan nou en Ek self sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” 13Hy sê: “O, יהוה, stuur asseblief die boodskap deur wie se hand U wíl.”

14Toe brand die woede van יהוה teen Moshe en Hy sê: “Is Aharon, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy goed kan praat en let op, hy gaan ook reeds uit om jou te ontmoet en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy wil, emosie en verstand. 15Jy moet met hom praat en die woorde in sy mond sit en Ék self sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen. 16Meer nog, hy moet namens jou met die volk praat en hy sal vir jou soos ’n mond wees en jy sal vir hom soos God wees. 17Vat hierdie staf, waarmee jy die tekens sal doen, in jou hand.”

18Moshe het weggegaan en by sy skoonvader Yitro teruggekom en hy sê vir hom: “Laat my asseblief teruggaan na my broers wat in Mitzrayim is, om te sien of hulle nog lewe.” Yitro sê vir Moshe: “Gaan in vrede.” 19יהוה het vir Moshe in Midyan gesê: “Gaan terug na Mitzrayim, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” 20Moshe vat toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ’n donkie ry en gaan terug na die land van Mitzrayim. Moshe het ook die staf van God in sy hand gevat.

21יהוה sê vir Moshe: “Wanneer jy teruggaan na Mitzrayim, kyk dat jy al daardie wonders voor Farao doen wat Ek in jou hand gesit het en Ék sal sy wil, emosie en verstand onveranderlik maak sodat hy nie die volk sal laat gaan nie. 22Dan moet jy vir Farao sê: ‘So sê יהוה: Yisra’el is My seun, My eersgeborene 23en Ek sê vir jou: Laat my seun gaan dat hy My kan dien en as jy weier om hom te laat gaan, let op, Ek sal jou seun doodmaak, jou eersgeborene’.”

24Dit het op die pad in die herberg gebeur dat יהוה hom teëgekom het en hom wou doodmaak. 25Toe vat Tzipporah ’n skerp klip en sny die voorhuid van haar seuns af en gooi dit voor Moshe se voete en sê: “Waarlik, jy is vir my ’n bloedbruidegom!” 26Hy het hom toe laat staan. Toe het sy gesê: “Jy is ’n bloedbruidegom!” - as gevolg van die besnydenis.

27יהוה het ook vir Aharon gesê: “Gaan ontmoet Moshe in die wildernis.” Hy het gegaan en hom by die berg van God ontmoet en hom gesoen. 28Moshe vertel vir Aharon al die woorde van יהוה waarmee Hy hom gestuur het en al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. 29Moshe en Aharon het gegaan en al die oudstes van die seuns van Yisra’el laat bymekaarkom 30en Aharon het al die woorde gepraat wat יהוה aan Moshe gesê het en die tekens voor die oë van die volk gedoen. 31Die volk het geglo en toe hulle hoor dat יהוה die seuns van Yisra’el besoek het en aandag gegee het aan hulle onderdrukking, het hulle laag neergebuig en plat op hulle gesigte gaan lê.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 3
Top of Page
Top of Page