Eksodus 30
Afrikaans PWL
1Jy moet ’n altaar maak om reukwerk op te brand. Jy moet dit van akasiahout maak. 2Sy lengte moet ’n el wees en sy breedte ’n el; dit moet vierkantig wees. Sy hoogte is twee el. Sy horings moet uit dieselfde stuk wees. 3Jy moet die bokant, die sykante rondom en die horings met suiwer goud oortrek. Maak ook daarvoor ’n goue rand rondom. 4Jy moet ook twee goue ringe daarvoor maak onderkant die rand, aan weerskante, aan die twee sykante. Hulle moet dien as houers vir pale om dit mee te dra. 5Maak die pale van akasiahout en trek dit met goud oor. 6Sit dit dan voor die verdelingsgordyn wat voor die Ark van die Getuienis is, voor die Toedekking wat oor die Getuienis is, waar Ek met jou sal ontmoet. 7Aharon moet elke oggend reukwerk van speserye daarop brand; wanneer hy die lampe doof, moet hy dit aan die brand steek 8en wanneer Aharon teen sonsondergang die lampe opsteek, moet hy dit brand as ’n voortdurende reukwerk voor die Teenwoordigheid van יהוה; reg deur julle geslagte. 9Julle mag geen vreemde reukwerk of brandoffer of graanoffer daarop bring nie. Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgooi nie. 10Aharon moet, een maal per jaar, versoening op die horings doen; met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal per jaar daarvoor versoening doen reg deur julle geslagte. Dit is heeltemal afgesonder tot יהוה.”

11יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 12“As jy die volle getal van die seuns van Yisra’el opneem om hulle te tel, moet elke man loskoopgeld vir sy lewe aan יהוה gee wanneer hulle getel word sodat daar geen plaag onder hulle sal wees wanneer hulle getel word nie. 13Dit is wat elke man van hulle moet gee wat na die geteldes oorgaan: ’n halfsikkel volgens die sikkel van die Afgesonderde plek; die sikkel is twintig gera. Die halfsikkel is ’n bydrae aan יהוה. 14Elkeen van twintig jaar en ouer, wat oorgaan na die geteldes, moet die bydrae aan יהוה gee. 15Die ryke moenie meer en die arme moenie minder as ’n halfsikkel gee, wanneer hulle die bydrae, om vir julle siele versoening te doen, aan יהוה gee, nie. 16Vat die versoeningsgeld van die seuns van Yisra’el en gee dit vir die dienswerk van die Tent van Ontmoeting sodat dit ’n herinnering voor die Teenwoordigheid van יהוה kan wees vir die seuns van Yisra’el, tot versoening vir julle lewens.”

17יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 18“Jy moet ook ’n kom van koper, met sy voetstuk van koper, maak om mee te was. Jy moet dit tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar sit en water daarin gooi 19sodat Aharon en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was. 20Wanneer hulle ingaan in die Tent van Ontmoeting, of as hulle naby die altaar kom, om te bedien, om ’n offer te brand en in rook te laat opgaan tot יהוה, moet hulle met water was sodat hulle nie sterf nie. 21So moet hulle hul hande en voete was sodat hulle nie sterf nie en dit sal vir hulle ’n ewige instelling wees, vir hom en vir sy nageslag in hulle geslagte.”

22יהוה het verder met Moshe gepraat en gesê: 23“Vat vir jouself van die beste speserye: vyf honderd sikkels vloeibare mirre en die helfte soveel, twee honderd en vyftig sikkels, soet geurige kaneel en twee honderd en vyftig sikkels soet geurige kalmoes 24en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die Afgesonderde plek en ’n hin olyfolie 25en maak daarvan afgesonderde salfolie, ’n salfmengsel soos ’n salfmenger dit maak; dit sal ’n afgesonderde salfolie wees. 26Daarmee moet jy die Tent van Ontmoeting salf, die Ark van die Getuienis, 27die tafel met al sy bybehore, die kandelaar met sy bybehore, die reukaltaar, 28die brandofferaltaar met al sy bybehore en die kom met sy voetstuk. 29Jy moet hulle afsonder sodat hulle heeltemal afgesonderd kan wees. Wat ook al aan hulle raak, is afgesonder. 30Jy moet Aharon en sy seuns ook salf en hulle afsonder om My as priesters te dien. 31Jy moet met die seuns van Yisra’el praat en sê: ‘Hierdie moet vir My ’n afgesonderde salfolie wees reg deur julle geslagte. 32Dit mag nie op ’n mens se vlees uitgegooi word nie; julle mag ook nie volgens dieselfde voorskrif nog maak nie. Dit is afgesonder en dit moet vir julle afgesonder wees. 33Wie ook al so iets meng of enige daarvan aan ’n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote afgesny word.’”

34יהוה het ook vir Moshe gesê: “Vat speserye: storaksgom, naeltjies en galbanum en ook suiwer wierook saam met die speserye; alles in gelyke hoeveelhede 35en maak daar reukwerk van, ’n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer en afgesonder. 36Vryf ’n gedeelte daarvan heeltemal fyn en sit ’n deel daarvan neer voor die Getuienis in die Tent van Ontmoeting, waar Ek met jou sal ontmoet. Dit sal heeltemal afgesonderd wees vir julle. 37Julle mag nie vir julleself van die reukwerk wat jy maak, na dieselfde voorskrif, maak nie. Dit moet vir julle afgesonder wees tot יהוה. 38Wie ook al enige van dieselfde maak om as parfuum te gebruik, moet uit sy volksgenote afgesny word.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 29
Top of Page
Top of Page