Eksodus 27
Afrikaans PWL
1Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; die lengte moet vyf el wees en die breedte vyf el; die altaar moet vierkantig wees en sy hoogte drie el. 2Jy moet sy horings op sy vier hoeke maak; sy horings moet saam met dit, uit een stuk wees en jy moet dit met koper oortrek. 3Jy moet ook sy potte maak om die as te verwyder, asook sy grawe, skottels, vleishake en vuurpanne. Al dié toebehore moet jy van koper maak. 4Jy moet ’n loopplank daarvoor maak; ’n netwerk van koper. Aan die loopplank moet jy vier koper ringe maak, aan die vier hoeke. 5Jy moet dit onder die rand van die altaar vasmaak, onderaan sodat die loopplank tot by die helfte van die altaar kom. 6Jy moet ook pale vir die altaar maak, pale van akasiahout en oorgetrek met koper. 7Die pale moet in die ringe gesteek word sodat die pale aan altwee kante van die altaar is om dit te dra. 8Jy moet dit hol maak, van planke. Soos dit vir jou op die berg gewys is, net so moet hulle dit maak.

9Jy moet ook die voorhof van die tabernakel maak. Vir die suidekant, moet daar vir die voorhof behangsels wees van wit geweefde linne; die lengte vir die een kant moet honderd el wees 10en sy twintig pilare met hulle twintig voetstukke moet koper wees; die hake en die ringe van die pilare moet van silwer wees. 11Net so moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank en sy twintig pilare met hulle twintig voetstukke van koper. Die hake en die ringe van die pilare moet van silwer wees. 12In die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar vyftig el behangsels wees en sy tien pilare en hulle tien voetstukke. 13Die breedte van die voorhof aan die oostekant, waar die son opkom, is vyftig el. 14Vyftien el behangsels vir die een kant, met hulle drie pilare en hulle drie voetstukke 15en vir die ander kant vyftien el behangsels, met hulle drie pilare en hulle drie voetstukke. 16Die ingang van die voorhof moet ’n behangsel van twintig el wees, van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne, die produk van kunstige weefwerk; met vier pilare en hulle vier voetstukke. 17Al die pilare rondom die voorhof moet silwer ringe en silwer hake hê en voetstukke van koper. 18Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig by vyftig en die hoogte vyf el, van wit geweefde linne, saam met voetstukke van koper. 19Al die bybehore van die tabernakel, vir al sy dienste, al sy penne en al die penne van die voorhof, moet van koper wees.

20Jy moet die seuns van Yisra’el beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die lig moet bring, om voortdurend ’n brandende lamp te hê. 21In die Tent van Ontmoeting, buitekant die verdelingsgordyn wat voor die Getuienis is, moet Aharon en sy seuns dit regmaak om voor die Teenwoordigheid van יהוה te brand, van die aand tot die oggend toe. Dit sal vir die seuns van Yisra’el ’n ewige instelling in hulle geslagte wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 26
Top of Page
Top of Page