Eksodus 20
Afrikaans PWL
1God het al hierdie woorde gepraat en gesê:

2“Ek is יהוה, jou God, wat jou uit die land van Mitzrayim, uit die huis van slawerny, uitgelei het.

3Jy mag geen ander gode voor My hê nie.

4Jy mag vir jou geen afgod of enige verpersoonliking maak Rom 1:23 van wat bo in die hemele is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. 5Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie, want Ek, יהוה, jou God, is ’n jaloerse Magtige God wat die oortredinge van die vaders besoek aan die seuns, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat, 6maar omgee wys aan duisende, aan dié wat My liefhet en My opdragte uitvoer.Yog 14:15

7Jy mag die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, jou God, nie valslik gebruik nie, want יהוה sal die een wat Sy Naam valslik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

8Onthou om die Shabbatdag afgesonderd te hou. 9Ses dae moet jy werk en al jou besigheid doen, 10maar die sewende dag is ’n Shabbat van יהוה, jou God; dan mag jy géén besigheid doen nie; nie jy of jou seun of jou dogter, of jou slaaf of jou slavin, of jou vee of jou besoeker wat by jou bly nie, 11want in ses dae het יהוה die hemele en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is Open 10:6 en op die sewende dag het Hy gerus; daarom het יהוה die Shabbatdag geseën en dit afgesonder.

12Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng mag word in die land wat יהוה, jou God, aan jou gee.

13Jy mag nie moord pleeg nie.

14Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15Jy mag nie steel nie.

16Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.

17Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy slaaf, of sy slavin, of sy os, of sy donkie, of iets wat aan jou naaste behoort nie.”

18Die hele volk het die stemme gehoor, die blitse, die klank van die ramshoring en die rokende berg gesien. Toe die volk dit sien het hulle gebewe en op ’n afstand bly staan. 19Hulle het vir Moshe gesê: “Praat u self met ons en ons sal luister, maar laat God nie met ons praat nie sodat ons nie sterf nie. 20Moshe sê vir die volk: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets en sodat Sy vrees by julle kan bly sodat julle nie sondig nie.” 21Die volk het op ’n afstand bly staan, maar Moshe het nader gegaan na die dik wolk waar God was.

22יהוה sê vir Moshe: “So moet jy vir die seuns van Yisra’el sê: “Julle het self gesien dat Ek met julle van die hemele af gepraat het. 23Julle mag nie vir julleself langs My, gode van silwer en gode van goud maak nie.

24’n Altaar van grond moet jy vir My maak en daarop moet jy jou brandoffers en vredesoffers, jou kleinvee en jou beeste, offer. Op elke plek waar Ek My Naam (Karakter en Outoriteit) sal laat onthou, sal Ek na jou toe kom en jou seën. 25As jy vir My ’n klip altaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie, want as jy jou gereedskap daaroor swaai, dan skend jy dit. 26Jy mag ook nie met trappe na My altaar toe opgaan dat jou skaamte daaroor ontbloot word nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 19
Top of Page
Top of Page