Eksodus 2
Afrikaans PWL
1’n Man uit die huis van Levi het gegaan en ’n dogter van Levi as vrou gevat. 2Die vrou het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun. Toe sy sien dat hy pragtig was, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Toe sy hom nie langer kon wegsteek nie, het sy vir hom ’n houer van papirus gevat en dit met lymgrond en pik gesmeer en sy het die seun daarin gesit en dit in die riete aan die kant van die rivier gesit. 4Sy suster het op ’n afstand gaan staan om uit te vind wat met hom sou gebeur.

5Farao se dogter het na die rivier afgegaan om te bad terwyl haar diensmeisies aan die kant van die rivier loop. Toe sy die houer tussen die papirus sien, stuur sy haar slavin en laat dit haal. 6Toe sy dit oopgemaak het, sien sy die seun en let op, dit was ’n seun wat huil! Sy het hom jammer gekry en gesê: “Dit is een van die seuns van die Hebreërs.” 7Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: “Sal ek vir u ’n vrou wat voed uit die Hebreeuse vroue gaan roep sodat sy vir u die seuntjie kan versorg?” 8Farao se dogter antwoord haar: “Gaan.” Die jong meisie het geloop en die seun se moeder geroep. 9Farao se dogter sê vir haar: “Vat hierdie seun en voed hom vir my en ek sal jou loon vir jou gee.” Die vrou het die seun gevat en hom gevoed. 10Die seun het gegroei en sy het hom na Farao se dogter gebring en hy het haar seun geword. Sy het hom Moshe genoem en gesê: “Ek het hom uit die water uitgehaal.”

11Dit het gebeur in dié dae toe Moshe al opgegroei het dat hy na sy broers uitgegaan en hulle laste gesien het. Hy het gesien hoe ’n Mitzrayiet ’n Hebreër, een van sy broers, slaan. 12Hy het hierdie kant en daardie kant gekyk en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Mitzrayiet doodgemaak en hom in die sand weggesteek. 13Hy het die volgende dag uitgegaan en let op, twee Hebreërs baklei met mekaar en hy vra vir die bose oortreder: “Waarom slaan jy die ander persoon?” 14Hy antwoord: “Wie het jou as heerser en regter oor ons aangestel? Beplan jy om my dood te slaan soos jy die Mitzrayiet doodgemaak het?” Moshe was bang en het gesê: “Waarlik, die ding is bekend!”

15Toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moshe dood te maak, maar Moshe het van Farao af weggevlug en in die land Midyan gaan woon en hy het by ’n put gesit.

16Die nie-Levitiese priester van Midyan het sewe dogters gehad en hulle het gekom en water getrek en die drinkbakke vol gemaak om hulle vader se kleinvee te laat drink. 17Die herders het gekom en hulle weggedryf, maar Moshe het opgestaan en hulle gehelp en hulle vee laat drink. 18Toe hulle by hul vader Re’u’el kom, sê hy: “Waarom het julle vandag so gou gemaak?” 19Hulle antwoord: “’n Mitzrayiet het ons uit die hand van die herders verlos en wat meer is, ook vir ons water getrek en die vee laat drink.” 20Hy sê vir sy dogters: “Waar is hy dan? Waarom het julle die man daar laat staan? Nooi hom dat hy iets kan eet.” 21Moshe het ingewillig om by die man te bly en hy het sy dogter Tzipporah vir Moshe gegee. 22Sy het vir hom geboorte gegee aan ’n seun en hy het sy naam Gershom genoem, want hy het gesê: ‘Ek het ’n besoeker in ’n vreemde land geword.’

23Dit het gebeur na ’n lang tyd dat die koning van Mitzrayim dood is. Die seuns van Yisra’el het gesug as gevolg van die slawerny en hulle het uitgeroep en die uitroep oor hulle slawerny het opgegaan na God toe. 24God het hulle gesug gehoor en God het Sy verbond met Avraham, met Yitz’gak en met Ya’akov onthou. 25God het aandag gegee aan die seuns van Yisra’el en God het met hulle ’n verbondsverhouding gehad.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 1
Top of Page
Top of Page