Ester 5
Afrikaans PWL
1Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste hof van die koning se paleis gaan staan, oorkant die koning se huis; die koning het op sy koninklike troon gesit oorkant die hek van die huis. 2Toe die koning vir Ester, die koningin, in die voorhof sien staan, het sy guns in sy oë gevind en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek; Ester het nader gekom en die bokant van die septer vasgehou. 3Toe sê die koning vir haar: “Wat pla jou, koningin Ester en wat is jou versoek? Dit sal aan jou gegee word, selfs tot die helfte van die koninkryk. 4Ester antwoord: “As dit goed is vir die koning, laat die koning en Haman na die feesmaal kom wat ek vir hom voorberei het.”

5Toe sê die koning: “Maak gou om vir Haman te vind sodat hy kan doen wat Ester gesê het!” Die koning en Haman het gegaan na die feesmaal wat Ester voorberei het. 6By die feesmaal van wyn sê die koning vir Ester: “Wat is jou versoek? Dit sal jou toegestaan word en wat vra jy? Selfs tot die helfte van die koninkryk sal aan jou gegee word. 7Toe antwoord Ester en sê: “My vraag en my versoek is: 8as ek guns in u oë gevind het, o koning en as die koning dit goed vind om my versoek toe te staan en my begeerte uit te voer, laat die koning en Haman na die feesmaal toe kom wat ek môre vir hulle sal voorberei, dan doen ek wat die koning gesê het.”

9Toe het Haman op daardie dag bly en opgeruimd uitgegaan, maar toe Haman vir Mordekhai in die poort van die koning sien sit en dat hy nie opstaan of vir hom wegbeweeg nie, was hy vol woede teen Mordekhai. 10Nogtans het Haman hom bedwing en toe hy by sy huis kom, laat hy al sy vriende en sy vrou Zeresh haal 11en Haman het hulle vertel van die lof en eer van sy rykdom en van die menigte van sy kinders en hoe die koning hom bevorder het en hom opgelig het bo die prinse en die diensknegte van die koning. 12Haman het verder gesê: “Selfs Ester, die koningin, het niemand saam met die koning na die feesmaal laat kom wat sy voorberei het nie, behalwe vir my en ook vir môre is ek, saam met die koning, deur haar genooi; 13tog stel niks daarvan my tevrede, solank as wat ek vir Mordekhai, die Y’hudahiet, by die poort van die koning sien sit nie, want hy beweeg nie voor my nie.” 14Toe sê sy vrou Zeresh en al sy vriende vir hom: “Laat ’n galg gemaak word van vyftig el hoog en praat in die oggend met die koning dat Mordekhai daaraan opgehang word; gaan dan vrolik saam met die koning na die feesmaal. Dit het Haman uitermate tevrede gestel en hy het die galg laat maak.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Esther 4
Top of Page
Top of Page