Efesiërs 6
Afrikaans PWL
1Kinders, gehoorsaam jul ouers in eenheid met ons Meester, want dit is reg. 2Hierdie is die eerste opdrag met ’n belofte: “Eer en respekteer jou vader en jou moeder 3sodat dit met jou goed mag gaan en jou lewe lank mag wees op die aarde.”

4Vaders, moenie julle kinders kwaad maak nie, maar maak hulle groot in die dissiplinêre tug en in die leringe van ons Meester.

5Slawe, gehoorsaam julle meesters na die vlees, met respekvolle vrees en bewing en in eenvoudigheid van verstand, wil en emosie, soos Die Gesalfde Een; 6nie wat nodig het om dopgehou te word soos mensebehaers nie, maar soos slawe van Die Gesalfde Een wat die wil van God doen 7en dien hulle vanuit jou hele wese in liefde, soos ons Meester en nie mense nie. 8Soos julle weet, sal elkeen, vir die goeie wat hy doen, beloning van ons Meester kry, of hy ’n slaaf of ’n vryman is.

9So ook julle, meesters; doen dieselfde teenoor hulle en vergewe hulle oortredinge omdat julle weet dat ook julle eie Meester in die hemel is en by Hom is geen partydigheid nie.

10Wees daarom, my broers, versterk in ons Meester en in die grootheid van Sy krag. 11Trek al die wapenrusting van God aan sodat julle in staat is om staande te kan bly teen die strategieë van die teëstander, 12want julle geveg is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die heersers, teen die outoriteite, teen die heersers van hierdie wêreld van duisternis en teen bose geeste onder die hemel. 13Trek daarom, al die wapenrusting van God aan sodat julle in staat sal wees om die bose een te konfronteer en wanneer julle gereed is in alle dinge, sal julle staan. 14Staan daarom en maak die gordel van waarheid om julle heupe vas en trek die borsplaat van onpartydige opregtheid aan 15en bind die skoene aan julle voete vas in voorbereiding vir die goeie boodskap van vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed. 16By dit alles tel die skild van vertroue op sodat julle die krag sal hê om al die brandende pyle van die Bose te kan uitblus. 17Sit die kopskerm van verlossing op en tel die swaard van die Gees op, wat die Boodskap van God is.

18In alle gebede en in alle begeertes, bid by elke geleentheid in die Gees. Wees elke oomblik in Hom waaksaam in gebed terwyl julle voortdurend bid en intree vir die afgesonderdes 19en vir my sodat ’n boodskap vir my gegee mag word as ek my mond oopmaak om openlik die geheime van die goeie boodskap te verkondig, 20waarvoor ek ’n ambassadeur in kettings is sodat ek dit met vrymoedigheid mag sê soos dit vir my nodig is om te praat.

21Tugikos, ’n vertrouenswaardige dienaar in die Meester en die broer vir wie ons lief is, sal julle alles vertel wat ek doen sodat julle ook my omstandighede kan ken. 22Ek sal hom juis hiervoor na julle toe stuur sodat julle ons omstandighede kan ken en hy julle gedagtes, wil en emosie kan versterk en vertroos.

23Vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed vir ons broers en liefde, saam met vertroue, vanaf God-die-Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een! 24Die onverdiende guns bly saam met almal wat ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een sonder korrupsie liefhet! Dit is waar!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ephesians 5
Top of Page
Top of Page