Efesiërs 4
Afrikaans PWL
1Ek doen daarom ’n beroep op julle, ek, ’n gevangene in eenheid met ons Meester, om waardig te leef aan die roeping waarmee julle geroep is: 2in alle nederigheid van gedagte, stil, met verdraagsaamheid en met geduld teenoor mekaar in liefde. 3Wees ywerig om die eenheid van die Gees te beskerm deur die bande van vrede 4sodat julle in een liggaam en in een Gees sal wees, net soos toe julle geroep is in een versekerde verwagting van julle roeping, 5want daar is een יהוה, een vertroue, een doop, 6een God, die Vader van almal, wat oor almal en by almal en in ons almal is,

7maar aan elkeen van ons is onverdiende guns gegee volgens die grootte van die geskenk van Die Gesalfde Een.

8As gevolg hiervan word gesê: “Hy het opgevaar na die hoogte en het die gevangeskap gevange geneem en geskenke aan die mense gegee.”

9Dít: ‘Hy het opgevaar’, wat beteken dit anders as dat Hy ook eers afgekom het na die laer dele, die aarde? 10Die Een wat afgekom het, is dieselfde Een wat opgegaan het ver bo al die hemele sodat Hy alles kon herstel 11en Hy het sommige as afgevaardigdes, sommige as profete, sommige as boodskappers van die goeie boodskap en sommige as herders en sommige as leermeesters gegee, 12om die afgesonderdes volledig te maak vir hulle dade in die bediening tot opbouing van die liggaam van Die Gesalfde Een 13totdat ons almal een sal wees in vertroue en in kennis van die Seun van God, een man, tot die mate van die volgroeidheid van Die Gesalfde Een. 14Ons sal ook nie meer kinders wees wat geskud word en gepla word deur elke wind van lering nie; deur die bedrog van mense, wat deur slinksheid beplan om te mislei nie, 15maar ons is standvastig in liefde sodat alles waarmee ons besig is, mag vermeerder in Die Gesalfde Een, wat die Hoof is 16en vanuit Hom is die hele liggaam inmekaargepas en een gemaak by elke ligament, volgens die gawe wat elke ledemaat na mate ontvang het, vir die groei van Sy liggaam sodat Sy gebou in liefde voltooi kan word.

17Dit sê ek en getuig ek in יהוה dat julle van nou af nie langer moet leef soos die ander van ander nasies, wat leef in die leegheid van hulle denke, nie. 18Hulle is verduister in hulle intellek en vreemdelinge aan die lewe van God, want hulle het nie kennis nie, as gevolg van die blindheid van hulle verstand, wil en emosie; 19hulle wat hulle versekerde verwagting afgesny het en hulle gees oorgegee het aan wellustigheid en die ontwikkeling van allerhande onreinhede in hul gulsigheid. 20Julle het egter nie so geleer van Die Gesalfde Een nie, 21as julle inderdaad na Hom geluister het en deur Hom geleer is, aangesien alles wat waarheid is in Yeshua is: 22dat julle, die vorige optrede van die ou mens, wat deur die begeertes van misleiding korrup is, moet afgooi. 23Julle moet die gees van julle denke voortdurend vernuwe 24en die nuwe mens aantrek wat in God, in onpartydige opregtheid en in die reinheid van die waarheid geskape is.

25As gevolg hiervan, gooi die leuens af en praat die waarheid, elkeen met sy medemens, want ons is mekaar se ledemate. 26Word kwaad en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle woede nie 27en gee ook geen plek aan die lasteraar nie. 28Hy wat gesteel het, moet van nou af nie steel nie, maar laat hom hard werk met sy hande en doen wat goed is sodat hy iets kan hê om te gee aan die een wat gebrek het. 29Laat daar geen haatlike woorde uit julle mond uitgaan nie, maar wat goed is en bruikbaar vir die nodige opbouing sodat jy onverdiende guns kan gee aan die wat dit hoor 30en moet ook nie die Gees van Afsondering van God, in Wie julle verseël is tot die dag van bevryding, droewig maak nie. 31Alle bitterheid, woede, toorn, geskree en beledigings moet van julle af weggevat word, saam met alle boosheid, 32maar wees sag en vol omgee teenoor mekaar; vergewe mekaar net soos God ons ook in Die Gesalfde Een vergewe het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ephesians 3
Top of Page
Top of Page