Deuteronomium 31
Afrikaans PWL
1Moshe het gegaan en hierdie woorde met die hele Yisra’el gedeel 2en vir hulle gesê: “Ek is vandag honderd-en-twintig jaar oud; ek is nie langer in staat om te kom of te gaan nie en יהוה het vir my gesê: ‘Jy sal nie oor hierdie Yarden gaan nie.’ 3Dit is יהוה, jou God, wat voor jou sal oorgaan; Hy sal hierdie nasies voor jou uit vernietig en jy sal hulle onteien. Y’hoshua is die een wat voor julle sal oorgaan, net soos יהוה gesê het. 4יהוה sal met hulle doen soos Hy met Sigon en met `Og, die konings van die Emoriete en met hulle land gedoen het, toe Hy hulle vernietig het. 5יהוה sal hulle voor julle oorgee en julle moet met hulle doen volgens al die opdragte wat ek julle beveel het. 6Wees onveranderlik sterk en dapper; moenie vir hulle bang wees of bewe nie, want יהוה, jou God, is die Een wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie.”

7Toe het Moshe na Y’hoshua geroep en vir hom voor die oë van die hele Yisra’el gesê: “Wees onveranderlik sterk en dapper, want jy sal saam met hierdie volk in die land ingaan, wat יהוה aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee en jy sal dit vir hulle gee as ’n erfenis. 8יהוה is die Een wat voor jou uitgaan; Hy sal by jou wees; Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Moenie bang of ontmoedig wees nie.”

9Moshe het hierdie wet neergeskryf en dit aan die priesters, die seuns van Levi, gegee wat die verbondsark van יהוה gedra het en aan al die oudstes van Yisra’el. 10Toe het Moshe hulle beveel en gesê: “Aan die einde van elke sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding van skuld, by die Fees van Hutte (Sukkot), 11wanneer die hele Yisra’el kom om te verskyn voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, op die plek wat Hy sal kies, moet jy hierdie wet voor die hele Yisra’el lees, waar hulle kan hoor. 12Laat die volk bymekaarkom, die manne, die vroue, die kinders en die vreemdeling wat in jou dorpe is sodat hulle kan hoor, kan leer en יהוה, julle God, respekvol kan vrees en wees versigtig om al die woorde van hierdie wet te hou. 13Hulle seuns wat dit nie geken het nie, moet hoor en leer om יהוה, julle God, respekvol te vrees so lank as wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Yarden trek, om dit te besit.”

14Toe het יהוה vir Moshe gesê: “Let op, die tyd vir jou om te sterf is naby; roep vir Y’hoshua en meld julleself aan by die Tent van Ontmoeting sodat Ek hom kan aanstel.” Moshe en Y’hoshua het gegaan en hulleself gaan aanmeld by die Tent van Ontmoeting. 15יהוה het in die tent verskyn in ’n wolkpilaar en die wolkpilaar het by die ingang van die tent gestaan. 16יהוה sê vir Moshe: “Let op, jy is op die punt om neer te lê by jou vaders en hierdie volk sal opstaan en die hoer speel met die vreemde gode van die land waartussen hulle ingaan en My verlaat en My verbond verbreek wat Ek met hulle gesluit het. 17Dan sal My woede op dié dag teen hulle aan die brand gesteek word en Ek sal hulle verlaat en My gesig vir hulle wegsteek en hulle sal verteer word en baie booshede en moeilikhede sal oor hulle kom sodat hulle op dié dag sal sê: ‘Is dit nie omdat ons God nie tussen ons is dat hierdie booshede oor ons gekom het nie?’, 18maar Ek sal op dié dag My gesig sekerlik wegsteek weens al die boosheid wat hulle sal doen, want hulle sal na ander gode afdraai.

19Skryf daarom nou hierdie lied vir julleself en leer dit vir die seuns van Yisra’el; sit dit op hulle lippe sodat hierdie lied vir My ’n getuie teen die seuns van Yisra’el kan wees, 20want wanneer Ek hulle inbring in die land wat vloei met melk en heuning, wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het en hulle geëet het, versadig is en voorspoedig word; dan sal hulle afdraai na ander gode en dié dien en hulle sal My verwerp met veragting en My verbond verbreek; 21dan sal dit gebeur dat, wanneer baie booshede en moeilikhede oor hulle kom, hierdie lied voor hulle sal getuig as ’n getuie, want dit sal nie vergeet word op die lippe van hulle nageslag nie, want Ek ken hulle bedoeling, wat hulle vandag ontwikkel, voordat Ek hulle ingebring het in die land wat Ek met ’n eed beloof het.” 22Moshe het hierdie lied op dieselfde dag geskryf en dit vir die seuns van Yisra’el geleer.

23Toe het Hy Y’hoshua, die seun van Nun, aangestel en gesê: “Wees onveranderlik sterk en dapper, want jy sal die seuns van Yisra’el inbring in die land wat Ek hulle met ’n eed beloof het en Ek sal by jou wees.”

24Dit het gebeur toe Moshe die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het totdat hulle volledig was, 25dat Moshe die Leviete, wat die verbondsark van יהוה gedra het, bevel gegee en gesê het: 26“Vat hierdie boek van die wet en sit dit langs die verbondsark van יהוה, julle God sodat dit daar kan bly as ’n getuie teen jou, 27want ek ken jul rebellie en jul hardkoppigheid. Let op, terwyl ek nog by julle lewe vandag, was julle rebels teen יהוה, hoeveel te meer dan ná my dood! 28Vergader by my al die oudstes van julle stamme en julle leiers sodat ek hierdie woorde kan sê waar hulle kan hoor en die hemele en die aarde as getuies teen hulle kan roep, 29want ek weet dat julle ná my dood korrup sal optree en sal wegdraai van die pad wat ek julle beveel het en wetsoortreding sal oor julle kom in die laaste dae omdat julle sal doen wat boos is in die oë van יהוה en Hom tot woede aanhits met die werk van julle hande.”

30Toe het Moshe, waar die hele vergadering van Yisra’el hom kon hoor, die woorde van hierdie lied uitgespreek tot die einde toe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 30
Top of Page
Top of Page