Deuteronomium 20
Afrikaans PWL
1Wanneer jy uitgaan om te veg teen jou vyand en perde, strydwaens en mense meer in getal as jy sien, moenie vir hulle bang wees nie, want יהוה, jou God, wat jou uit die land van Mitzrayim laat optrek het, is by jou. 2Wanneer jy die geveg nader, moet die priester naderkom en met die mense praat 3en hy moet vir hulle sê: ‘Luister, Yisra’el, julle trek vandag op om te veg teen julle vyande; laat julle binneste nie sag word nie, moenie bang wees, bewe en vreesbevange voor hulle wees nie, 4want dit is יהוה, julle God, wat voor julle gaan om te veg teen julle vyande, om julle te bevry.’ 5Die offisiere moet met die mense praat en sê: ‘Watter man is daar wat ’n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Laat hom teruggaan huis toe dat hy nie in die oorlog sterf en ’n ander man dit inwy nie. 6Watter man is daar wat ’n wingerd geplant het en nog nie sy vrugte begin gebruik het nie? Laat hom teruggaan huis toe dat hy nie in die oorlog sterf en iemand anders dit gebruik nie. 7Watter man is daar wat aan ’n vrou verloof is en haar nog nie by hom gevat het nie? Laat hom teruggaan huis toe dat hy nie in die oorlog sterf en iemand anders haar vat nie.’ 8Die offisiere moet verder met die volk praat en sê: ‘Watter man is daar wat bang en sag in sy binneste is? Laat hom teruggaan huis toe dat die binneste van sy broers nie sag word soos syne nie.’ 9Wanneer die offisiere klaar met die mense gepraat het, moet hulle leër bevelvoerders aan die hoof van die mense aanstel.

10Wanneer jy naby ’n stad kom om daarteen te veg, moet jy vredesvoorwaardes vir dit aanbied. 11As dit instem om vrede met jou te maak en vir jou oopmaak, moet al die mense wat daarin gevind word jou dwangarbeid word en jou dien, 12maar as die stad nie vrede met jou wil maak nie, maar oorlog teen jou wil voer, moet jy dit omsingel. 13Wanneer יהוה, jou God, dit in jou hand gegee het, moet jy al die manne daarin met die skerpte van die swaard verslaan, 14maar die vroue, die kinders, die vee en alles wat in die stad is; al die buit moet jy vir jou roof en jy moet die buit van jou vyande gebruik wat יהוה, jou God, jou gegee het. 15So moet jy met al die stede maak wat baie ver van jou af is, wat nie van die stede van hierdie nasies naby jou is nie. 16Net in die stede van hierdie volke wat יהוה, jou God, jou as besitting gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie, 17maar jy moet hulle vernietig om hulle uit te wis: die Hettiete, Emoriete, Kena’aniete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete, soos יהוה, jou God, jou beveel het 18sodat hulle julle nie leer om te doen volgens al hulle verwerplikhede wat hulle vir hul gode gedoen het en julle teen יהוה, julle God, sondig nie.

19As jy ’n stad vir lank beleër deur oorlog daarteen te voer om dit te verower, moet jy sy bome nie verwoes deur die byl daarteen te swaai nie; as jy daarvan kan eet moet jy dit nie afkap nie, want is die bome van die veld dan mense dat hulle deur jou beleër moet word? 20Net bome waarvan jy weet dat dit nie bome vir kos is nie, dié mag jy verwoes en afkap om stellasies te bou teen die stad wat teen jou oorlog voer totdat dit val.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 19
Top of Page
Top of Page