Deuteronomium 10
Afrikaans PWL
1In dié tyd het יהוה vir my gesê: ‘Beitel vir jou twee kliptafels soos die eerstes, klim op met die berg na My toe en maak vir jou ’n ark van hout. 2Ek sal die woorde op die tafels graveer wat op die eerste tafels was, wat jy gebreek het en jy moet dit in die ark sit.’ 3Ek het ’n ark van akasiahout gemaak en twee kliptafels soos die eerstes gebeitel en op die berg opgeklim met die twee tafels in my hand. 4Hy het op die tafels, volgens die eerste skrif, die tien woorde gegraveer wat יהוה op die dag van die byeenkoms, by die berg, vanuit die vuur met julle gepraat het en יהוה het dit vir my gegee. 5Ek het omgedraai, van die berg afgeklim en die tafels in die ark gesit wat ek gemaak het en hulle is daar, soos יהוה my beveel het.

6Die seuns van Yisra’el het van die putte van B’nei-Ya’akan weggetrek na Moserah toe, waar Aharon gesterf het en begrawe is en El’azar, sy seun, het as priester in sy plek gedien. 7Daarvandaan het hulle weggetrek na Gudgod en van Gudgod na Yotvatah, ’n land van waterstrome. 8In daardie tyd het יהוה die stam van Levi afgesonder om die ark van die verbond van יהוה te dra, om voor die Teenwoordigheid van יהוה in Sy diens te staan en in Sy Naam (Karakter en Outoriteit) te seën tot vandag toe; 9daarom het Levi geen deel of erfenis saam met sy broers nie; יהוה is sy erfenis, net soos יהוה, jou God, met hom gepraat het.

10Net soos die vorige keer, het Ek op die berg gebly vir veertig dae en veertig nagte en יהוה het my ook dié keer verhoor en יהוה het ingestem om julle nie te vernietig nie. 11יהוה het vir my gesê: ‘Staan op, gaan voort om voor die volk uit verder te trek dat hulle kan inkom en die land besit wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het om vir hulle te gee.’

12Nou, Yisra’el, wat vra יהוה, jou God, van jou as net om יהוה, jou God, respekvol te vrees, in al Sy paaie te loop, Hom lief te hê en יהוה, jou God, te dien met jou hele verstand, wil en emosie en met jou hele gees en lewe 13en om die opdragte van יהוה en Sy reëls wat ek jou vandag beveel, te hou tot jou beswil? 14Let op, aan יהוה, jou God, behoort die hemel, asook die hoogste hemele, die aarde en alles wat daarin is, 15tog het יהוה ’n genot in julle vaders gehad, om vir hulle lief te wees en Hy het hulle saad ná hulle gekies, julle, bo al die volke, soos dit vandag is. 16Besny daarom die voorhuid van julle verstand, wil en emosie en wees nie meer hardnekkig nie, 17want יהוה, julle God, is God van die gode en Meester van die meesters; die groot Magtige God, kragtig en gevrees, wat die persoon nie aansien en geen omkopery aanvaar nie; 18wat uitspraak gee aan die vaderlose en die weduwee en die vreemdeling liefhet deur hom brood en klere te gee; 19daarom, wys julle liefde vir die vreemdeling, want julle was vreemdelinge in die land van Mitzrayim. 20Jy moet יהוה, jou God, respekvol vrees, Hom moet jy dien en aan Hom moet jy vashou en by Sy Naam (Karakter en Outoriteit) sweer. 21Hy is jou lofprysing en Hy is jou God, wat vir jou hierdie groot en vreesagtige dinge, wat jou oë gesien het, gedoen het. 22Met sewentig mense het julle vaders na Mitzrayim afgetrek en nou het יהוה, jou God, jou so veel soos die sterre van die hemel gemaak;

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 9
Top of Page
Top of Page