Deuteronomium 1
Afrikaans PWL
1Hierdie is die woorde waarmee Moshe met die hele Yisra’el gepraat het, oorkant die Yarden, in die wildernis, in die vlakte oorkant Suf, tussen Pa’ran, Tofel, Lavan, Hatzerot en Di-Zahav. 2Dit vat elf dae vanaf Horev na Kadesh-Barnea via die berg Se’ir. 3In die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moshe met die seuns van Yisra’el gepraat, volgens alles wat יהוה hom beveel het aangaande hulle, 4nadat hy Sigon, die koning van die Emoriete, wat in Hesbon gebly het en `Og, die koning van Bashan, wat in `Ashtarot en Edre’i gebly het, verslaan het. 5Oorkant die Yarden, in die land Mo’av, het Moshe begin om hierdie wet te verklaar deur te sê:

6יהוה, ons God, het met ons by Horev gepraat en gesê: ‘Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. 7Draai en vertrek na die bergland van die Emoriete en na al hulle aangrensende plekke in die vlakte, in die berge, in die laaglande, in die Negev (Suidland) en aan die seekus, na die land van die Kena’aniete en die L’vanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. 8Kyk, Ek het die land voor julle geplaas; gaan in en neem die land in besit, wat יהוה aan julle vaders Avraham, Yitz’gak en Ya’akov met ’n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.’

9Ek het met julle in dié tyd gepraat en gesê: ‘Ek kan julle nie alleen dra nie. 10יהוה, julle God, het julle vermenigvuldig en let op, hier is julle vandag soos die sterre van die hemel in getal. 11Mag יהוה, die God van julle vaders, julle ’n duisend maal meer maak as wat julle is en julle seën soos Hy julle beloof het! 12Hoe kan ek julle moeilikhede, laste en regsake alleen dra? 13Kies wyse, verstandige en ervare manne vanuit julle stamme en ek sal hulle leiers oor julle maak.’ 14Julle het my geantwoord en gesê: ‘Dit wat u vir ons gesê het, is goed om te doen.’ 15Ek het die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, gevat en hulle as hoofde oor julle aangestel, heersers oor duisend, heersers oor honderd, heersers oor vyftig, heersers oor tien en opsigters vir julle stamme.

16Ek het in dié tyd julle regters beveel en gesê: ‘Luister na die sake tussen julle broers en oordeel onpartydig opreg tussen ’n man en sy volksgenoot, of die vreemdeling wat by hom is. 17Julle mag nie partydig wees in oordele nie; Ya’a 2:9 julle moet die klein sowel as die groot sake aanhoor; julle moet nie bang wees vir enige mens nie, want die oordeel is God s’n en enige saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring en ek sal dit aanhoor.’ 18In daardie tyd het ek julle al die dinge beveel wat julle moet doen.

19Toe het ons weggetrek van Horev af en deur daardie hele groot en vreeslike wildernis getrek wat julle op pad na die bergland van die Emoriete gesien het, soos יהוה, ons God, ons beveel het en ons het tot by Kadesh-Barnea gekom. 20Ek het vir julle gesê: ‘Julle het by die bergland van die Emoriete gekom wat יהוה, ons God, vir ons gee. 21Let op, יהוה, jou God, het die land voor jou geplaas; gaan op en neem dit in besit soos יהוה, die God van jou vaders, vir jou gesê het; moenie bang en ontmoedig wees nie.’

22Almal van julle het na my toe gekom en gesê: ‘Laat ons manne voor ons uitstuur sodat hulle vir ons die land kan verken en aan ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek en van die stede waarin ons sal kom.’ 23Die saak was goed in my oë sodat ek twaalf man vanuit julle, een man uit elke stam, gevat het. 24Hulle het weggedraai en opgegaan in die bergland, tot by die vallei van Eshkol en dit verken. 25Hulle het van die vrugte van die land in hulle hand geneem en dit na ons toe afgebring en aan ons verslag gedoen en gesê: ‘Die land wat יהוה, ons God, aan ons gee, is goed.’

26Nogtans wou julle nie optrek nie, maar julle het teen die opdrag van יהוה, julle God, gerebelleer 27en in julle tente gemurmureer en gesê: ‘Omdat יהוה ons haat, het Hy ons uit Mitzrayim uitgelei om ons in die hand van die Emoriete oor te gee, om ons te vernietig. 28Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons verstand, wil en emosie laat smelt deur te sê: “Dit is ’n volk groter en langer as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk en boonop het ons ook die seuns van die `Anakiete daar gesien.’” 29Ek het vir julle gesê: ‘Moenie geskok wees of bang wees vir hulle nie, 30יהוה, julle God, wat voor julle uitgaan, Hy sal vir julle baklei net soos Hy voor julle oë vir julle in Mitzrayim gedoen het 31en in die wildernis, waar julle gesien het hoe יהוה, julle God, jul gedra het soos ’n man sy seun dra, op die hele pad wat julle geloop het totdat julle tot by hierdie plek gekom het.’ 32Tog, na al hierdie dinge, het julle nie vertrou in יהוה, julle God, 33wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ’n plek uit te soek om julle kamp op te slaan, om die pad vir julle te wys waar julle moet gaan, snags deur die vuur en bedags deur die wolk, nie.

34יהוה het die klank van julle woorde gehoor en Hy was kwaad en het gesweer en gesê: 35‘Nie een van die manne van hierdie bose geslag, sal daardie goeie land sien wat Ek met ’n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie, 36behalwe Kalev, die seun van Y’funneh; hy sal dit sien en aan hom en sy kinders gee Ek die land waarop hy geloop het omdat hy יהוה ten volle gevolg het.’ 37יהוה was ook kwaad vir my as gevolg van julle en het gesê: ‘Selfs jy sal nie daar ingaan nie. 38Y’hoshua, die seun van Nun, wat voor jou staan, hy sal daar ingaan; bemoedig hom, want hy sal Yisra’el dit laat erf. 39Meer nog, julle kleintjies en julle seuns, van wie julle gesê het: ‘Hulle sal ’n buit word,’ wat vandag geen kennis van goed of kwaad het nie, húlle sal daar ingaan, aan hulle sal Ek dit gee en húlle sal dit in besit neem, 40maar julle, draai om en vertrek na die wildernis op die pad na die Sufsee.’

41Toe antwoord julle en sê vir my: ‘Ons het teen יהוה gesondig; ons sal opgaan en gaan veg, net soos יהוה, ons God, ons beveel het.’ Elkeen het sy oorlogswapens aangegord en dit as maklik beskou om in die bergland op te gaan 42en יהוה het vir my gesê: ‘Sê vir hulle: Moenie optrek of veg nie, want Ek is nie tussen julle nie, anders sal julle voor julle vyande verslaan word.’ 43So het ek met julle gepraat, tog het julle nie geluister nie, maar het julle teen die opdrag van יהוה gerebelleer en verwaand in die bergland opgetrek 44en die Emoriete wat in dié bergland gebly het, het uitgetrek teen julle en julle gejaag soos bye en julle aan stukke geslaan van Se’ir tot by Hormah. 45Julle het teruggekom en voor יהוה gehuil, maar יהוה wou nie na julle stem luister nie en het geen gehoor aan julle gegee nie. 46So het julle baie dae in Kadesh gebly, volgens die dae wat julle daar gebly het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 36
Top of Page
Top of Page