Daniël 9
Afrikaans PWL
1In die eerste jaar van Daryavesh, die seun van Agashverosh, uit die geslag van die Mede, wat koning geword het oor die koninkryk van die Kasdeërs; 2in die eerste jaar van sy regering het ek, Dani’el, deur die geskrifte die getal jare verstaan, aangesien die woord van יהוה waar geword het wat deur die profeet Yirmeyahu gebring is, dat sewentig jaar verby sal gaan voor die verlatenheid van Yerushalayim tot ’n einde sal kom. 3Ek het my gesig voor יהוה-God opgelig om met gebed en versoeke, roukleed en as, te soek; 4ek het gebid tot יהוה, my God en belydenis gedoen en gesê: “Ek smeek U, o יהוה, groot en gerespekteerde God, wat die verbond en onverdiende guns behou vir hulle wat Hom liefhet en Sy opdragte gehoorsaam, 5ons het gesondig, oortredings begaan, boos gehandel, gerebelleer en van U opdragte en oordele afgedwaal. 6Ons het ook nie geluister na U diensknegte, die profete, wat in U Naam (Karakter en Outoriteit) tot ons konings, ons prinse, ons vaders en tot die hele volk van die land gepraat het nie.

7Aan U, יהוה, kom die onpartydige opregtheid toe, maar aan ons kom op hierdie dag beskaming toe; aan die manne van Y’hudah, die inwoners van Yerushalayim en aan die hele Yisra’el, die wat naby en die wat ver is, in al die lande waarheen U hulle verdryf het, weens hulle oortredinge wat hulle teen U begaan het. 8יהוה, aan ons kom toe beskaming van gesig, aan ons konings, ons prinse en ons vaders omdat ons teen U gesondig het. 9Aan יהוה-God behoort onverdiende guns en vergifnis van sondes, want ons het teen Hom gerebelleer 10en ook nie na die stem van יהוה, ons God, geluister om te lewe volgens Sy wette wat Hy voor ons gesit het deur Sy diensknegte, die profete, nie. 11Ja, die hele Yisra’el het U wet oortree en afgewyk en nie U stem gehoorsaam nie; daarom het U die vloek en die eed op hulle gebring wat geskryf is in die wet van Moshe, die dienskneg van God, want ons het in Sy Teenwoordigheid gesondig. 12Hy het Sy woorde, wat Hy teen ons en ons regters, wat oor ons regeer, gespreek het, bevestig deur ’n groot boosheid oor ons te bring, want onder die ganse hemel is nie gedoen, soos oor Yerushalayim gedoen is nie. 13Soos dit in die wet van Moshe geskryf is, het al hierdie onheil oor ons gekom en tog het ons nie voor die Teenwoordigheid van יהוה, ons God, gebid dat ons kan erken en omdraai van ons oortredinge en U waarheid kan verstaan, nie; 14daarom het יהוה hierdie boosheid opgestook en dit oor ons gebring, want יהוה, ons God, is regverdig in al Sy dade wat Hy gedoen het, tog het ons nie na Sy stem geluister en gedoen nie.

15Nou, o יהוה, ons God, wat U volk uit die land van Mitzrayim gebring het met ’n sterk hand en vir U ’n Karakter en Outoriteit gemaak het, soos dit vandag is; ons het gesondig, ons het boos gehandel. 16O יהוה, volgens die onpartydige opregtheid wat U vir ons gedoen het, laat U woede en toorn weggedraai word van U stad, Yerushalayim en van U afgesonderde berg, want as gevolg van ons sondes en die onregverdighede van ons vaders is U volk in elke land verstrooi en Yerushalayim het ’n bespotting geword vir alle volke; 17daarom nou, o יהוה, hoor die gebed en smeking van U dienskneg en laat ter wille van U Karakter en Outoriteit, U gesig skyn oor U Afgesonderde Plek wat verlate is. 18O, my God, draai U oor en hoor, maak U oë oop en sien ons verwoeste en verlate plekke en die stad wat volgens U Naam (Karakter en Outoriteit) uitgeroep is, want ons bring nie ons smeking voor U op grond van ons onpartydige opregtheid nie, maar op grond van U groot omgee. 19O, יהוה, hoor! O, יהוה, vergewe ons! O, יהוה, luister en doen dit, stel nie uit nie, om U eie Naam (Karakter en Outoriteit) ontwil, o my God, want U Naam (Karakter en Outoriteit) is uitgeroep oor U stad en oor U volk.”

20Terwyl ek nog besig was om te bid en my oortredings en die oortredings van my volk Yisra’el te bely en my smeking voor die Teenwoordigheid van יהוה, my God, aan te bied vir die afgesonderde berg van my God, 21ja, terwyl ek nog praat in gebed, het die man Gavri’el, wat ek vroeër in die visioen gesien het, vinnig afgevlieg vanaf die hemel en na my toe gekom teen die tyd van die aandoffer. 22Hy het gekom en met my gepraat en gesê: “Dani’el, ek het nou gekom om jou te leer sodat jy kan verstaan. 23Aan die begin van jou gebed het ’n woord uitgegaan en ek het gekom om dit aan jou bekend te maak, want jy is ’n baie geliefde man; daarom, onderskei die saak en verstaan die visioen.

24Sewentig keer sewe weke is oor jou volk en jou afgesonderde stad bereken, om die oortredings te eindig en ’n einde te maak aan sonde en die onregverdigheid te vergewe en om ewige onpartydige opregtheid in te bring en om die visie van die profete tot volheid te bring en om die Mees Afgesonderde Plek aan Die Gesalfde Een te gee. 25Weet daarom en verstaan dat vanaf die uitgang van die woord om Yerushalayim te herstel en op te bou tot by die koms van Die Gesalfde Een, die Koning, is sewentig keer sewe en twee en sestig keer sewe weke; die strate en die mure sal weer gebou word op die vasgestelde tye. 26Ná die twee en sestig tydperke van sewe weke sal Die Gesalfde Een doodgemaak word en die stad sal sonder ’n heerser wees en die afgesonderde stad sal saam met die komende koning vernietig word en die einde daarvan sal ’n reuse verbanning wees en aan die einde van die oorlog, word verlatenheid vasgestel. 27Hy sal die verbond met baie vir ’n tydperk van sewe en ’n halwe tydperk van sewe, bevestig; dan sal Hy die offers en geskenkoffers laat ophou en op die horings van die altaar, die verwerplike afgodery; die verwerplikheid sal aanhou tot met die vasgestelde tyd, die stad sal verlate bly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 8
Top of Page
Top of Page