Handelinge 6
Afrikaans PWL
1In daardié dae, toe die studentevolgelinge vermeerder het, het daar ’n klagte vanaf die Hellenistiese studentevolgelinge teenoor die Hebreërs ontstaan dat hulle weduwees in die daaglikse versorging oorgesien is. 2Toe het die twaalf afgevaardigdes die hele vergadering van studentevolgelinge bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie aanvaarbaar dat ons die boodskap van God nalaat, om tafels te bedien nie. 3Soek daarom, my broers en kies sewe manne vanuit julle, waarop die getuienis is, vol van die Gees van יהוה en wysheid, wat ons oor hierdie saak sal aanstel 4en ons sal voortgaan in gebed en die voortdurende bediening van die boodskap.” 5Die gedagte het byval gevind by almal en hulle het gekies: Stefanos, ’n man vol van die Gees van Afsondering en vertroue, Filippos, Progoros, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaos, ’n proseliet uit Antiogeia. 6Hulle het hulle voor die afgevaardigdes laat staan en nadat hulle gebid het, het hulle hul die hande opgelê.

7Die boodskap van God het versprei en die getal studentevolgelinge het vinnig vermeerder in Yerushalayim en baie priesters het gehoorsaam geword aan die waarheid.

8Stefanos, vol van onverdiende guns en krag, het wonderwerke en tekens onder die mense gedoen 9en daar het sommige van die Bymekaarkomplek van die Bevryde Slawe, soos dit genoem is, opgestaan en van die Kureners en Alexandryne en van die mense van Kilikia en Asië en hulle het met Stefanos gedebatteer, 10maar hulle kon nie teen die wysheid en die Gees waardeur hy gepraat het, staan nie. 11Toe stuur hulle manne en beveel hulle om te sê: “Ons het hom kwaad hoor praat teen Moshe en teen God.” 12Hulle het die mense, die oudstes en die leraars van die wet opgesweep en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring 13en hulle het valse getuies aangestel om te sê: “Dié man hou nie op om kwaad te praat teen die wet en hierdie afgesonderde plek nie, 14want ons het hom hoor sê: ‘Hierdie Yeshua, van Natzeret, sal hierdie plek afbreek en die gebruike wat Moshe aan ons oorgegee het, verander.’” 15Terwyl almal wat in die Raad sit, hom stip dophou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ’n engel is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 5
Top of Page
Top of Page