Handelinge 25
Afrikaans PWL
1Toe Festos in Kaisareia aangekom het, het hy na drie dae opgegaan na Yerushalayim. 2Die leierpriesters en die leiers van die Jode het hom oor Sha’ul ingelig en hom, 3as ’n guns, gevra om hom na Yerushalayim te bring, (terwyl hulle ’n hinderlaag beplan om hom op die pad dood te maak). 4Daarop het Festos geantwoord dat Sha’ul in Kaisareia bewaak word en dat hy self spoedig daarheen sou gaan. 5“Laat dan dié onder julle,” sê hy, “wat bevoeg is, saamgaan en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig.”

6Nadat hy agt of tien dae onder hulle gebly het, het hy na Kaisareia afgegaan en die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Sha’ul gebring moes word. 7Toe hy kom, het die Jode wat vanaf Yerushalayim gekom het, rondom hom gestaan en baie en ernstige beskuldigings teen Sha’ul gemaak, wat hulle nie kon bewys nie. 8Tot sy verdediging het Sha’ul gesê: “Ek het geen oortreding teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser begaan nie.” 9Omdat Festos aan die Jode ’n guns wou bewys, het hy geantwoord en vir Sha’ul gesê: “Wil jy na Yerushalayim opgaan en daar voor my oor hierdie dinge teregstaan?”

10Toe sê Sha’ul: “Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Teen die Jode het ek nie gesondig nie, soos u ook weet, 11want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterf nie, maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle, by wyse van guns, oorlewer nie. Ek appelleer tot die keiser!” 12Toe antwoord Festos, nadat hy met die Raad gepraat het: “Na die keiser het jy appelleer; na die keiser sal jy gaan!”

13Ná verloop van ’n paar dae het koning Agrippus en Bernike in Kaisareia aangekom om na Festos se welstand te vra. 14Toe hulle verskeie dae daar deurgebring het, het Festos die saak van Sha’ul aan die koning voorgelê en gesê: “Hier is ’n man, deur Felix as gevangene agtergelaat, 15teen wie die leierpriesters en die oudstes van die Jode, toe ek in Yerushalayim was, ’n oordeel gevra het 16en ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens aan die dood prys te gee, voordat die beskuldigde die aanklaers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldigings gekry het nie. 17Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man te bring. 18Sy aanklaers het teen hom gestaan en kon geen bose beskuldiging teen hom bewys soos ek verwag het nie, 19maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor ’n sekere Yeshua wat dood is, van wie Sha’ul verklaar het dat Hy lewe. 20Omdat ek nie geweet het wat om te doen nie, het ek gevra of hy na Yerushalayim wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan, 21maar hy het geappelleer om in bewaring te bly vir ’n keiserlike verhoor en ek het beveel dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.” 22Agrippus sê vir Festos: “Ek sou self ook graag die man wil hoor.” Toe antwoord hy: “Môre sal u hom hoor.”

23Die volgende dag het Agrippus en Bernike toe met groot vertoon in die gehoorsaal ingekom saam met die bevelvoerders oor ’n duisend en die leiers van die stad. Op bevel van Festos is Sha’ul ingebring. 24Toe sê Festos: “Koning Agrippus en al die manne wat hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie al die Jode in Yerushalayim en ook hier met my gepraat het en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie, 25maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie en hy self ook na die keiser appelleer het, het ek besluit om hom te stuur, 26maar ek kan niks beslis oor hom aan die keiser skryf nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agrippus sodat ek ná die ondersoek sal weet wat ek moet skryf, 27want dit is nie reg om ’n gevangene te stuur en nie die beskuldigings teen hom te skryf nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 24
Top of Page
Top of Page