Handelinge 21
Afrikaans PWL
1Ons het van hulle afskeid geneem en reguit koers gehou na Kos toe; die volgende dag het ons by Rhodos gekom en daarna by Patara, 2waar ons ’n skip gekry het wat na Foinike sou seil en daarop geklim en weggevaar. 3Toe het ons Kupros aan die linkerkant verbygegaan, na Sirië gevaar en by Tzor geland, want daar sou die skip sy vrag aflaai. 4Toe ons studentevolgelinge daar vind, het ons sewe dae lank daar gebly en hulle het elke dag vir Sha’ul deur die Gees gesê om nie na Yerushalayim te gaan nie, 5maar aan die einde van die tydperk, het ons op die pad uitgegaan om verder te reis terwyl almal, met vroue en kinders, saam met ons tot buitekant die stad gegaan het, op die strand gekniel en gebid het. 6Ons het mekaar gesoen, aan boord die skip gegaan en hulle het teruggegaan huis toe.

7Ons het vanaf Tzor gevaar en by `Akko (Ptolemais) gekom en ons het groete aan die broers oorgedra en een dag by hulle gebly.

8Die volgende dag het ons vertrek en in Kaisareia aangekom. Ons het ingegaan in die huis van Filippos, die verkondiger van die goeie boodskap, wat een van die sewe was en by hom gebly. 9Hy het vier ongetroude dogters gehad wat geprofeteer het. 10Nadat ons reeds ’n geruime tyd daar oorgebly het, het ’n profeet met die naam van Agav vanaf Y’hudah gekom 11en hy het by ons gekom en Sha’ul se leer gordel gevat en sy eie hande en voete vasgebind en gesê: “Dít sê die Gees van Afsondering: so sal die Y’hudahiete die man wie se leer gordel hierdie is, in Yerushalayim vasbind en in die hande van die ander nasies oorgee.” 12Toe ons dit hoor, het ons saam met die mense van die plek by hom aangedring om nie op te gaan na Yerushalayim nie, 13maar Sha’ul het geantwoord: “Wat doen julle deur te huil en my gedagtes, wil en emosie te verkrummel? Ek is bereid om nie alleen gebind te word nie, maar ook om in Yerushalayim dood te gaan ter wille van die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua!” 14Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons stil en het gesê: “Laat dit wees volgens die wil van ons Meester!”

15Ná hierdie tyd het ons voorberei om na Yerushalayim op te gaan 16en van die studentevolgelinge van Kaisareia het ook saam met ons gegaan en ons by ’n sekere Mnason van Kupros gebring, een van die eerste studentevolgelinge, om ons in sy huis te ontvang.

17Toe ons in Yerushalayim kom, het die broers ons met blydskap ontvang 18en die volgende dag het Sha’ul saam met ons na Ya’akov se huis gegaan en al die oudstes was daar bymekaar. 19Nadat ons groete oorgedra het, het hy alles vertel wat God onder die ander nasies deur sy bediening gedoen het. 20Toe hulle dit hoor, het hulle God geloof en vir hom gesê: “Jy sien, broer, hoeveel tienduisendtalle Jode daar is wat tot vertroue gekom het en almal is ywerig vir die wet. 21Dit is, aangaande jou, aan hulle vertel dat jy al die Jode onder die ander nasies leer om hulle af te sonder van Moshe deur te sê dat hulle hul kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die gebruike van die wet moet leef nie. 22Omdat hierdie dinge deur hulle wat hierheen kom, gehoor is, 23doen dan wat ons vir jou sê. Ons het vier manne wat ’n gelofte gedoen het tot reinheid; 24vat hulle en reinig jou saam met hulle en betaal die kostes vir hulle sodat hulle hul koppe kan skeer en almal kan weet dat daar niks, in wat van jou vertel word, is nie, maar dat jy self ook die wet uitvoer en gehoorsaam. 25Aangaande die wat vertrou uit die ander nasies het ons geskryf en besluit dat hulle hulle moet weghou van afgodsoffers, van seksuele immoraliteit, van bloed en van wat verwurg is.” 26Toe het Sha’ul die manne gevat en op die volgende dag hom saam met hulle gereinig en in die tempel gegaan om bekend te maak tot wanneer die dae van die reiniging sou aanhou en die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.

27Toe die sewende dag aanbreek, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en al die mense opgesweep en die hande aan hom geslaan 28en geskree: “Manne van Yisra’el, help! Dit is die man wat in al die plekke aan almal dinge leer teen ons mense, die wet en hierdie plek. Hy het ook nie-Jode in die tempel ingebring en hierdie afgesonderde plek onrein gemaak, 29want hulle het Trofimos, die Efesiër, vantevore in die stad by hom gesien en gedink dat Sha’ul hom in die tempel ingebring het. 30Toe kom die hele stad in oproer en die mense het gehardloop en vir Sha’ul gegryp en hom uit die tempel uitgesleep en dadelik die deure gesluit, 31maar terwyl hulle probeer het om hom dood te maak, het ’n berig, dat die hele stad in oproer is, die bevelvoerder oor ’n duisend van die Romeinse bataljon bereik. 32Hy het dadelik soldate en kapteins oor honderd geneem en afgehardloop na hulle en toe hulle die bevelvoerder oor ’n duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Sha’ul te slaan. 33Daarop kom die bevelvoerder oor ’n duisend nader en neem hom gevange en beveel dat hy met twee kettings vasgebind moet word en het gevra wie hy was en wat hy gedoen het, 34maar onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskree en omdat hy weens hulle geskree geen sekerheid kon verkry wat die waarheid is nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word. 35Toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die aggressie van die mense, 36want al die mense het gevolg en geskree: “Hang hom!”

37Net voor hy in die kamp ingebring sou word, vra Sha’ul die bevelvoerder oor ’n duisend: “Is dit my geoorloof om vir u iets te sê?” Hy sê vir hom: “Ken jy Grieks? 38Is jy dan nie die man van Mitzrayim wat ’n tyd gelede oproer gemaak het en die vier duisend booswigte na die woestyn toe uitgelei het nie?” 39Sha’ul antwoord: “Ek is ’n Joodse man van Tarsus, ’n belangrike stad in Kilikia, waar ek gebore is en ek versoek u om my toe te laat om met die mense te praat.” 40Toe hy toestemming gee, gaan Sha’ul op die trappe staan en wys met die hand vir die mense en nadat hulle stil was, het hy met hulle in Aramees gepraat en vir hulle gesê:

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 20
Top of Page
Top of Page