Handelinge 18
Afrikaans PWL
1Toe Sha’ul uit Athenai weggegaan het, het hy in Korinthos gekom, 2waar hy ’n Jood gevind het met die naam van Akulas, afkomstig van Pontos, wat onlangs, met sy vrou Priskilla, vanaf Italië gekom het omdat keiser Klaudios beveel het dat al die Jode Rome moes verlaat. Hy het hulle besoek 3en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers. 4Hy het elke Shabbat in die bymekaarkomplek gepraat en Jode, sowel as nie-Jode, oortuig.

5Toe Sila en Timotheos vanaf Makedonia gekom het, was Sha’ul verhinder in die boodskap omdat die Jode teen hom gestaan het en kwaadgepraat het toe hy getuig het dat Yeshua Die Gesalfde Een is. 6Hy het sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Van nou af is ek skoon daarvan; ek gaan na die ander nasies toe.” 7Hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van ’n man met die naam van Titos, wat God aanbid het, wie se huis langs die bymekaarkomplek was. 8Krispos, die leier van die bymekaarkomplek, saam met sy hele huisgesin, het in ons Meester vertrou, asook baie van die Korinthiërs, wat gehoor het, het vertrou en is gedoop. 9יהוה het in die nag, deur ’n visioen, aan Sha’ul gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie, 10want Ek is by jou en niemand kan jou kwaad aandoen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” 11Hy het ’n jaar en ses maande lank in Korinthos gebly en vir hulle die boodskap van God geleer.

12Toe Gallioon goewerneur van Agaia was, het die Jode soos een man teen Sha’ul opgestaan en hom voor die regbank gebring 13en gesê: “Hierdie man oortuig die mense om God te aanbid op wyses buite die wet.” 14Toe Sha’ul versoek het om sy mond oop te maak en te praat, sê Gallioon vir die Jode: “As dit ’n beskuldiging van boosheid of bedrog of haatlikheid was, dan sou ek rede hê om julle te ontvang, o Jode, 15maar as die aanklag is oor ’n boodskap of oor name of oor julle wet, moet julle toesien, want ek gaan nie oor hierdie sake oordeel nie.” 16Hy het hulle voor die regbank weggejaag 17en al die nie-Jode het vir Sosthenes, die leier van die bymekaarkomplek, gegryp en hom voor die hof geslaan en Gallioon het dit gesien.

18Nadat Sha’ul baie dae daar gebly het, het hy die broers gegroet en saam met Priskilla en Akulas na Sirië weggeseil. In Kengreai het hy sy hare geskeer, as gevolg van ’n gelofte wat hy aan homself gemaak het. 19Hy het in Efesos aangekom en Sha’ul het in die bymekaarkomplek ingegaan, met die Jode gepraat 20en hulle het gevra dat hy langer by hulle moes bly. Hy het nie ingestem nie 21en hulle toe gegroet en gesê: “Dit is, soos altyd, nodig vir my om die opkomende fees in Yerushalayim te vier en as God wil, sal ek weer na julle toe terugkom.” Hy het Akulas en Priskilla in Efesos agtergelaat

22en het per see in Kaisareia aangekom, opgegaan en die gemeente gegroet en afgereis na Antiogeia.

23Nadat hy ’n redelike tyd lank gebly het, het hy vertrek en een na die ander na die streke van Galatia en Frugia gereis en al die studentevolgelinge versterk.

24’n Joodse man met die naam van Apollos, wat in Alexandreia gebore is, ’n welsprekende man, bekend met die skrifte en onderrig in die Woord, het in Efesos aangekom. 25Hy is opgelei in die pad van יהוה en, vurig van gees, het hy volledig aangaande Yeshua gepraat en geleer, maar het nog net van die doop van Yoganan geweet. 26Hy het openlik en reguit in die bymekaarkomplek begin praat, maar nadat Akulas en Priskilla hom gehoor het, het hulle hom gevat en hom die pad van יהוה volledig uitgelê. 27Toe hy na Agaia wou gaan, het hulle die broers aangemoedig en aan die studentevolgelinge geskryf om hom te ontvang. Daar aangekom, het hy al die studentevolgelinge baie gehelp deur onverdiende guns, 28want hy het in die openbaar kragtig lering gegee teenoor die Jode terwyl hy deur die Skrifte gewys het dat Yeshua Die Gesalfde Een is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 17
Top of Page
Top of Page