2 Samuel 3
Afrikaans PWL
1Daar was ’n lang oorlog tussen die huis van Sha’ul en die huis van Dawid en Dawid het stadigaan sterker geword, maar die huis van Sha’ul het voortdurend swakker geword.

2Daar is in Hevron seuns vir Dawid gebore. Sy eersgeborene was Amnon, by Agino’am van Yizre’el; 3en sy tweede was Kalev, by Avigayil, die weduwee van Naval, van Karmel en die derde was Avshalom, die seun van Ma’akhah, die dogter van Talmai, die koning van G’shur 4en die vierde Adoniyah, die seun van Haggit en die vyfde Sh’fatyah, die seun van Avital 5en die sesde Yitre’am, by Dawid se vrou `Eglah. Hierdie is vir Dawid in Hevron gebore.

6Dit het gebeur terwyl daar oorlog was tussen die huis van Sha’ul en die huis van Dawid dat Avner homself sterk gemaak het in die huis van Sha’ul. 7Sha’ul het ’n byvrou gehad wie se naam Ritzpah was, die dogter van Ayah en Ish-Boset het vir Avner gesê: “Waarom het jy by die byvrou van my vader ingegaan?” 8Toe was Avner baie kwaad oor die woorde van Ish-Boset en het gesê: “Is ek ’n hondekop wat aan Y’hudah behoort? Vandag bewys ek guns aan die huis van Sha’ul, jou vader, aan sy broers en aan sy vriende en het jou nie in die hand van Dawid oorgegee nie en tog beskuldig jy my vandag van skuld met ’n vrou? 9Mag God so aan Avner doen en nog meer, soos יהוה aan Dawid met ’n eed beloof het, as ek dit nie vir hom doen nie, 10om die koningskap van die huis van Sha’ul oor te dra en die troon van Dawid vas te stel oor Yisra’el en oor Y’hudah, van Dan tot by Be’er-Sh’va.” 11Hy kon Avner verder nie ’n woord antwoord nie omdat hy vir hom bang was.

12Toe stuur Avner boodskappers na Dawid in sy plek om te sê: “Aan wie behoort die land? Sluit u verbond met my en let op, my hand sal met u wees om die hele Yisra’el na u toe oor te bring.” 13Hy het gesê: “Goed, ek sal met jou ’n verbond sluit, maar een ding eis ek van jou, naamlik, jy sal nie my gesig sien as jy nie eers vir Mikhal, die dogter van Sha’ul, bring wanneer jy my kom sien nie.” 14Dawid het boodskappers na Ish-Boshet, Sha’ul se seun gestuur, om te sê: “Gee vir my my vrou Mikhal, aan wie ek verloof was vir tweehonderd voorhuide van die F’lishtyne.” 15Ish-Boshet het gestuur en haar van haar man, Palti’el, die seun van Layish, weggevat, 16maar haar man het saam met haar gegaan, al huilende op pad en haar gevolg tot by Bagurim. Toe sê Avner vir hom: “Gaan terug.” Hy het daarop teruggegaan.

17Avner het met die oudstes van Yisra’el beraadslag en gesê: “In die verlede het julle begeer dat Dawid koning moes wees oor julle. 18Doen dit dan nou, want יהוה het van Dawid gepraat en gesê: ‘Deur die hand van My kneg Dawid sal Ek My volk Yisra’el uit die hand van die F’lishtyne en uit die hand van al hulle vyande red.” 19Avner het ook voor die ore van Binyamin gepraat en Avner het ook gegaan om voor die ore van Dawid in Hevron te praat van alles wat goed was vir Yisra’el en vir die hele huis van Binyamin.

20Toe het Avner en twintig man saam met hom, by Dawid in Hevron gekom en Dawid het ’n fees berei vir Avner en die manne wat by hom was. 21Avner het vir Dawid gesê: “Laat my opstaan en die hele Yisra’el by my meester die koning gaan versamel sodat hulle met u ’n verbond kan sluit en dat u koning kan wees oor alles wat u verstand, wil en emosie begeer.” Dawid het vir Avner weggestuur en hy het in vrede gegaan.

22Let op, die diensknegte van Dawid en Yo’av het van ’n rooftog af gekom en baie buit saam met hulle gebring, maar Avner was nie meer by Dawid in Hevron nie, want dié het hom weggestuur en hy het in vrede gegaan. 23Toe Yo’av en die hele leër wat saam met hom was, arriveer, het hulle vir Yo’av vertel en gesê: “Avner, die seun van Ner, het na die koning toe gekom en dié het hom weggestuur en hy het in vrede gegaan.” 24Toe kom Yo’av by die koning en sê: “Wat het u gedoen? Let op, Avner het na u toe gekom; waarom het u hom dan weggestuur en hy is reeds weg? 25U ken vir Avner, die seun van Ner, dat hy gekom het om u te mislei en om te leer van u uitgang en u ingang en om alles uit te vind wat u doen.”

26Toe Yo’av uitkom by Dawid, het hy boodskappers agter Avner aan gestuur en hulle het hom teruggebring van die put van Sirah Hassira af, maar Dawid het dit nie geweet nie. 27Toe Avner na Hevron terugkom, het Yo’av hom eenkant toe gevat na die middel van die poort om vertroulik met hom te praat en hom daar in die maag gesteek sodat hy gesterf het vir die bloed van sy broer `Asah’el. 28Agterna, toe Dawid dit hoor, het hy gesê: “Ek en my koninkryk is voor יהוה vir ewig onskuldig aan die bloed van Avner, die seun van Ner. 29Mag dit val op die kop van Yo’av en op sy vader se hele huis en mag die huis van Yo’av nie vry wees van een wat ’n vloeiing het of wat melaats is of wat op krukke loop of wat deur die swaard val of gebrek aan brood het nie.” 30Yo’av en sy broer, Avishai, het Avner vermoor omdat hy hulle broer `Asah’el in die geveg by Giv’on gedood het.

31Toe sê Dawid aan Yo’av en aan al die mense wat by hom was: “Skeur julle klere en gord rouklere aan en rouklaag oor Avner!” Koning Dawid het agter die draagbaar geloop. 32So het hulle Avner in Hevron begrawe en die koning het sy stem opgelig en gehuil by die graf van Avner en die hele volk het gehuil.

33Die koning het ’n klaaglied oor Avner gesing en gesê: “Moes Avner sterf soos ’n dwaas sterf?

34Jou hande was nie vasgebind en jou voete ook nie in kettings gesit nie. Soos ’n mens voor die bose val, het jy geval.” Die hele volk het weer oor hom gehuil.

35Toe het die hele volk gekom om Dawid te oortuig om brood te eet terwyl dit nog dag was, maar Dawid het gesweer en gesê: “Mag God so aan my doen en ook meer, as ek brood of enige iets proe voor sonsondergang.” 36Al die mense het dit opgemerk en dit het hulle tevrede gestel, net soos alles wat die koning gedoen het, al die mense tevrede gestel het. 37Al die mense en die hele Yisra’el het daardie dag verstaan dat dit nie van die koning af was om Avner, die seun van Ner, dood te maak nie. 38Toe het die koning vir sy diensknegte gesê: “Weet julle nie dat ’n prins en ’n groot man vandag in Yisra’el geval het nie? 39Ek is vandag swak, alhoewel ek as koning gesalf is terwyl hierdie manne, die seuns van Tz’ruyah, te moeilik is vir my. Mag יהוה die kwaaddoener vergeld na sy boosheid!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 2
Top of Page
Top of Page