2 Samuel 24
Afrikaans PWL
1Die woede van יהוה het weer teen Yisra’el opgevlam. Dawid is teen hulle aangehits en daar is vir hom gesê: “Gaan tel Yisra’el en Y’hudah.” 2Die koning het vir Yo’av, die bevelvoerder van die leër, wat by hom was, gesê: “Gaan deur al die stamme van Yisra’el, van Dan tot by Be’er-Sh’va en tel die volk sodat ek die getal mense kan weet.” 3Yo’av het egter vir die koning gesê: “Nou, mag יהוה, u God, by die volk honderd maal meer byvoeg as wat hulle is terwyl die oë van my meester die koning sien, maar waarom het my meester die koning behae in hierdie saak?” 4Nogtans het die woord van die koning gestaan teenoor Yo’av en die bevelvoerders van die leër. Yo’av en die bevelvoerders van die leër het uitgegaan vanaf die teenwoordigheid van die koning om die mense van Yisra’el te tel. 5Hulle het deur die Yarden gegaan en kamp opgeslaan in `Aro’er, regs van die stad wat in die middel van die vallei van Gad lê en in die rigting van Ya’zer. 6Toe het hulle in Gil’ad gekom en by die land van Tagtim-Hodshi en hulle het by Dan-Ya’an gekom en rondom na Tzidon 7en gekom by die vesting van Tzor en by al die stede van die Hiviete en Kena’aniete en hulle het uitgekom na die suide van Y’hudah in Be’er-Sh’va. 8Toe hulle rondgegaan het deur die hele land, het hulle in Yerushalayim aangekom aan die einde van nege maande en twintig dae. 9Yo’av het die getal van die getelde mense aan die koning gegee en daar was in Yisra’el agt honderd duisend weerbare manne wat die swaard uittrek en die manne van Y’hudah was vyf honderd duisend man.

10Dawid se gewete het hom gepla nadat hy die volk getel het. Dawid het vir יהוה gesê: “Ek het baie gesondig deur wat ek gedoen het, maar nou, יהוה, vat asseblief die skuld van U dienskneg weg, want ek het baie dwaas opgetree.” 11Toe Dawid in die oggend opstaan, het die woord van יהוה tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê: 12“Gaan en praat met Dawid: “So sê יהוה: ‘Ek bied vir jou drie dinge aan, wat Ek aan jou sal doen; kies vir jouself een van hulle.’” 13Gad het by Dawid gekom en hom vertel en vir hom gesê: “Sal daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande lank vlug voor jou teëstanders terwyl hulle jou agtervolg, of moet daar drie dae lank pes wees in jou land? Oorweeg nou en sien watter antwoord ek aan Hom wat my gestuur het, moet bring.” 14Toe sê Dawid vir Gad: “Ek is baie benoud; laat ons nou val in die hand van יהוה, want Sy onverdiende guns en omgee is groot, maar laat my nie in die hand van mense val nie.”

15יהוה het ’n pes onder Yisra’el gestuur vanaf die oggend tot op die bepaalde tyd en van Dan tot Be’er-Sh’va het daar van die mense sewentig duisend man gesterf. 16Toe die engel sy hand uitsteek na Yerushalayim om dit te vernietig, het יהוה teruggetrek van die katastrofe en aan die engel wat die mense vernietig het gesê: “Dit is genoeg, ontspan nou jou hand!” Die engel van יהוה was by die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet. 17Toe het Dawid met יהוה gepraat toe hy die engel sien wat die mense doodslaan en gesê: “Let op, dit is ék wat gesondig het en ék wat verkeerd gedoen het, maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Laat u hand asseblief teen my en my vader se huis wees.”

18Gad kom dieselfde dag by Dawid en sê vir hom: “Gaan op, bou vir יהוה ’n altaar op die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet.” 19Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad, net soos יהוה beveel het. 20Aravnah het afgekyk en die koning en sy diensknegte na hom toe sien oorkom en Aravnah het uitgegaan en sy gesig na die grond toe neergebuig voor die koning. 21Toe het Aravnah gesê: “Waarom kom my meester die koning na sy dienskneg?” Dawid antwoord: “Om die dorsvloer van jou te koop, om vir יהוה ’n altaar te bou sodat die plaag teruggehou kan word van die mense.” 22Aravnah sê vir Dawid: “My meester die koning kan vat en offer wat goed is in sy oë. Kyk, die beeste vir die brandoffer, die dorssleë en die jukke van die beeste vir die hout. 23Aravnah gee alles, o koning, aan die koning.” Aravnah het ook vir die koning gesê: “Mag יהוה, u God, u aanvaar.” 24Die koning het egter vir Aravnah gesê: “Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir ’n prys, want ek wil nie aan יהוה, my God, brandoffers bring wat my niks kos nie.” Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.” 25Dawid het daar vir יהוה ’n altaar gebou en brandoffers en vredesoffers gebring. So is יהוה deur gebed vir die land beweeg en die plaag is van Yisra’el af teruggehou.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 23
Top of Page
Top of Page