Afrikaans PWL 1Toe stuur יהוה Natan na Dawid toe en hy het by hom gekom en gesê: “Daar was twee manne in ’n stad, die een was ryk en die ander arm. 2Die ryk man het ’n groot menigte kleinvee en beeste gehad, 3maar die arm man het niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en versorg het en wat saam met hom en sy kinders groot geword het. Dit het van sy brood geëet en uit sy beker gedrink en aan sy bors gelê en dit was vir hom soos ’n dogter. 4’n Reisiger het by die ryk man gekom en hy was onwillig om van sy eie kleinvee of beeste te vat om vir die reisiger, wat by hom gekom het, iets voor te berei; hy het eerder die arm man se ooilam gevat en dit vir die man wat by hom gekom het voorberei.” 5Toe het Dawid se woede ontvlam teen die man en hy het vir Natan gesê: “So waar as יהוה leef, die man wat dit gedoen het, verdien om te sterf! 6Hy moet viervoudig restitusie doen vir die lam Eks 22:1 omdat hy hierdie ding gedoen het en geen omgee gehad het nie.” 7Natan sê toe vir Dawid: “U is die man! So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Dit is Ék wat jou as koning gesalf het oor Yisra’el en dit is Ék wat jou bevry het uit die hand van Sha’ul. 8Ek het ook die huis van jou meester vir jou gegee en die vroue van jou meester onder jou sorg en Ek het die huis van Yisra’el en van Y’hudah vir jou gegee en as dit te min was, sou Ek baie meer dinge soos hierdie byvoeg.’ 9Waarom het jy die boodskap van יהוה verag deur te doen wat verkeerd is in Sy oë? Jy het Uriyah, die Hittiet, met die swaard neergeslaan, sy vrou het jy vir jou as vrou gevat en hom deur die swaard van die seuns van `Ammon vermoor. 10Nou, daarom sal die swaard nooit van jou huis af weggaan nie, omrede jy My verag het en die vrou van Uriyah, die Hittiet, gevat het om jou vrou te wees. 11So sê יהוה: ‘Let op, Ek sal boosheid opwek teen jou vanuit jou eie huishouding; Ek sal selfs jou vroue voor jou oë vat en aan jou naaste gee en hy sal in helder daglig by jou vroue lê. 12Jy het dit weliswaar in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Yisra’el en in die helder daglig.’” 13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen יהוה!” Natan sê vir Dawid: “So het יהוה dan ook u sonde verwyder; u sal nie sterf nie, 14maar omdat u die vyande van יהוה deur hierdie saak geleentheid gegee het om kwaad te praat, sal die kind wat vir u gebore is, sekerlik sterf.” 15Natan het na sy huis toe gegaan. Toe het יהוה die seun, waaraan die weduwee van Uriyah vir Dawid geboorte gegee het, getref sodat hy ernstig siek was. 16Dawid het daarom navraag gedoen by God vir die kind en Dawid het gevas en gegaan en die hele nag op die grond gelê. 17Die oudstes van sy huishouding het langs hom gestaan om hom van die grond af op te tel, maar hy wou nie en het ook nie kos saam met hulle geëet nie. 18Toe het dit op die sewende dag gebeur dat die seun sterf. Dawid se diensknegte was bang om hom te vertel dat die seun dood is, want hulle het gesê: “Let op, toe die seun nog gelewe het, het ons met hom gepraat en hy het nie na ons stem geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: ‘Die seun is dood,’ aangesien hy homself skade kan aandoen.’” 19Toe Dawid egter sien dat sy diensknegte onder mekaar fluister, het Dawid verstaan dat die seun dood is. Dawid vra vir sy diensknegte: “Is die seun dood?” Hulle antwoord: “Hy is dood.” 20Dawid het van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek, in die huis van יהוה ingegaan en aanbid. Toe het hy na sy eie huis gekom en toe hy gevra het, het hulle kos voor hom gesit en hy het geëet. 21Toe vra sy dienaars vir hom: “Wat is die ding wat u gedoen het? Terwyl die seun lewend was, het u gevas en gehuil, maar toe die seun sterf, het u opgestaan en kos geëet.” 22Hy antwoord: “Toe die seun nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: ‘Wie weet, יהוה mag onverdiende guns aan my bewys dat die seun mag leef,’ 23maar nou is hy dood; hoekom sou ek vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek sal na hom toe gaan, maar hy sal nie na my toe terugkeer nie.” 24Toe het Dawid sy vrou Bat-Sh’va vertroos en by haar ingegaan en by haar gelê en sy het geboorte gegee aan ’n seun en hy het hom Shlomo genoem. יהוה het hom liefgehad 25en ’n boodskap deur Natan, die profeet, gestuur en hy het hom Y’didyah laat noem, ter wille van יהוה. 26Yo’av het teen Rabbah van die seuns van `Ammon geveg en die koninklike stad oorgeneem. 27Yo’av het boodskappers na Dawid toe gestuur om te sê: “Ek het teen Rabbah geveg, ek het die koninklike stad oorgeneem; 28daarom, maak die res van die manne bymekaar en beleër die stad en neem dit oor, of ék sal die stad self oorneem en dit sal na my vernoem word.” 29Dawid maak al die manne bymekaar en gaan na Rabbah, veg daarteen en neem dit oor. 30Toe vat hy die kroon van hulle koning van sy kop af en die gewig daarvan was ’n talent goud, met ’n kosbare steen daarin en dit is op Dawid se kop gesit en hy het die buit van die stad in groot hoeveelhede uitgebring. 31Hy het ook die manne wat daarin was, uitgebring en laat werk by die sae, skerp ysterinstrumente, ysterbyle en hulle laat oorgaan na die steenoonde en so het hy met al die stede van die seuns van `Ammon gedoen. Toe het Dawid en al die manne na Yerushalayim teruggekeer. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |