2 Konings 16
Afrikaans PWL
1In die agtiende jaar van Pekag, die seun van Remalyah, het Agaz, die seun van Yotam, koning van Y’hudah geword. 2Agaz was twintig jaar oud toe hy koning geword het en het vir sestien jaar in Yerushalayim regeer en hy het nie gedoen wat reg was in die oë van יהוה, sy God, soos sy vader Dawid nie, 3maar hy het geloop in die pad van die konings van Yisra’el en selfs sy seun deur die vuur laat gaan volgens die gruwels van die nasies wat יהוה voor die seuns van Yisra’el uit verdryf het. 4Hy het op die hoë plekke geoffer en wierook laat opgaan op die heuwels en onder elke groen boom.

5Toe het Retzin, koning van Aram en Pekag, die seun van Remalyah, koning van Yisra’el, opgegaan na Yerushalayim om oorlog te maak en hulle het Agaz beleër, maar kon hom nie oorwin nie. 6In daardie tyd het Retzin, koning van Aram, Eilat aan Aram herstel en die Y’hudahiete heeltemal uit Eilat verdryf en die Arameërs het na Eilat gekom en het daar gaan woon tot vandag toe.

7Agaz stuur toe boodskappers na Tiglat-Pil’eser, koning van Ashur, om te sê: “Ek is u dienskneg en u seun; kom op en bevry my uit die hand van die koning van Aram en uit die hand van die koning van Yisra’el wat teen my opstaan. 8Agaz het die silwer en die goud wat in die huis van יהוה en in die skatkamers van die huis van die koning te vinde was, gevat en ’n geskenk aan die koning van Ashur gestuur. 9Die koning van Ashur het na hom geluister en die koning van Ashur het teen Dammesek opgegaan en dit verower en hulle in gevangeskap weggevoer na Kir en Retzin doodgemaak.

10Koning Agaz het na Dammesek gegaan om Tiglat-Pil’eser, koning van Ashur, te ontmoet en die altaar gesien wat in Dammesek was. Koning Agaz het vir Uriyah, die priester, die bloudrukplan en ’n model van die altaar gestuur, volgens die vakmanskap daarvan. 11Uriyah, die priester, het ’n altaar gebou, volgens alles wat koning Agaz uit Dammesek gestuur het, so het Uriyah, die priester dit gemaak, voor die koms van koning Agaz vanuit Dammesek. 12Toe die koning vanaf Dammesek kom, het die koning die altaar gesien; toe het die koning nadergekom na die altaar en opgegaan daarheen 13en sy brandoffer en sy spysoffer gebrand en sy drankoffer uitgegooi en die bloed van sy vredesoffers op die altaar gesprinkel. 14Die koper altaar wat voor die Teenwoordigheid van יהוה was, het hy van die voorkant van die huis gebring, van tussen sy altaar en die huis van יהוה uit en dit aan die noordekant van sy altaar gesit. 15Toe het koning Agaz, Uriyah, die priester, beveel en gesê: “Op die groot altaar moet jy die oggend brandoffer, die aand graanoffer, die koning se brandoffer en sy graanoffer saam met die brandoffer van die hele volk van die land, hulle graanoffer en hulle drankoffers brand en al die bloed van brandoffers en al die bloed van offers daarteen sprinkel, maar die koper altaar sal vir my wees om by navraag te doen.” 16Uriyah, die priester, het gedoen volgens alles wat koning Agaz beveel het.

17Toe het koning Agaz die rante van die staanders afgesny en die waskom van hulle af afgehaal; hy het ook die see van die koper beeste af afgehaal wat onder hulle was en dit op ’n klipvloer gesit, 18asook die bedekking wat hulle vir die Shabbat gebou het in die huis van יהוה en die koning se ingang van buite af het hy weggedraai van die huis van יהוה af uit vrees vir die koning van Ashur.

19Die res van die dade van Agaz, wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 20Agaz is neergelê by sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van Dawid en sy seun Hizkiyahu het in sy plek regeer.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 15
Top of Page
Top of Page