2 Konings 12
Afrikaans PWL
1In die sewende jaar van Yehu het Yo’ash koning geword en hy het veertig jaar in Yerushalayim regeer en die naam van sy moeder was Tzivyah, van Be’er-Sh’va. 2Yo’ash het gedoen wat reg was in die oë van יהוה, al sy dae waarin Y’hoyada, die priester, hom onderrig het. 3Net die hoë plekke is nie weggevat nie; die volk het steeds geoffer en op die hoë plekke wierook laat opgaan.

4Toe het Yo’ash vir die priesters gesê: “Al die geld wat as toegewyde gawes in die huis van יהוה gebring word, die geld van elke man se waardebepaling en al die geld wat iemand se hart hom oortuig om in die huis van יהוה te bring, 5mag die priesters vir hulleself vat, elkeen vanaf húlle wat besluit het om te gee en laat dit gebruik word vir die herstel van die huis, waar ook al ’n beskadigde plek gevind word.

6Dit het egter gebeur dat in die drie en twintigste jaar van koning Yo’ash, die priesters nie die beskadigde plekke van die huis herstel het nie. 7Toe het koning Yo’ash vir Y’hoyada, die priester en die ander priesters geroep en vir hulle gesê: “Waarom het julle nie die beskadigde plekke van die huis herstel nie? Nou daarom, julle moet geen geld ontvang vanaf wie dit gee nie, maar dit oorgee vir die herstel van die beskadigde plekke van die huis.” 8Die priesters het ingewillig om geen geld meer van die volk te ontvang nie en om ook nie die beskadigde plekke van die huis te herstel nie.

9Y’hoyada, die priester, het egter ’n kis gevat en ’n gat in sy deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, aan die regterkant soos ’n mens in die huis van יהוה inkom en die priesters wat die drumpel bewaak, het al die geld wat in die huis van יהוה ingebring is, daarin gegooi. 10Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die skrywer van die koning en die hoofpriester opgekom en dit in sakke gebind en die geld getel wat in die huis van יהוה gevind is. 11Hulle het die afgeweegde geld oorhandig aan dié wat die werk gedoen het, wat toesig oor die huis van יהוה gehad het en hulle het dit uitbetaal aan die skrynwerkers en die bouers wat aan die huis van יהוה gewerk het 12en aan die messelaars en die klipkappers en om hout en gekapte klippe mee te koop om die beskadigde plekke van die huis van יהוה te herstel en vir alles wat uitgegee moes word om die huis te herstel. 13Daar is egter nie silwer bekers, snuiters, komme, trompette, enige goue houers of silwer houers in die huis van יהוה gemaak van die geld wat in die huis van יהוה gebring is nie, 14want hulle het dit vir dié gegee wat die werk gedoen het en daarmee het hulle die huis van יהוה herstel. 15Meer nog, hulle het nie boekhouding vereis van die manne in wie se hand die geld gegee is om dié wat die werk doen te betaal nie, want hulle het getrou opgetree. 16Die geld van die skuldoffer en die geld van die sondoffers is nie in die huis van יהוה gebring nie; dit was vir die priesters.

17Toe het Haza’el, koning van Aram, opgegaan en teen Gat geveg en dit ingeneem en Haza’el het sy gesig gerig om op te gaan na Yerushalayim. 18Yo’ash, koning van Y’hudah, het al die afgesonderde voorwerpe wat Y’hoshafat, Y’horam en Agazyah, sy vaders, konings van Y’hudah, afgesonder het, saam met sy eie afgesonderde voorwerpe en al die goud wat te vinde was in die skatkamers van die huis van יהוה en van die koning se huis gevat en dit aan Haza’el, koning van Aram gestuur. Toe het hy van Yerushalayim af weggegaan.

19Die res van die dade van Yo’ash en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 20Sy diensknegte het opgestaan en ’n sameswering gesmee en Yo’ash doodgeslaan in Beit-Millo, op pad na Silla. 21Yozakhar, die seun van Shim’at en Y’hozavat, die seun van Shomer, sy diensknegte, het hom doodgeslaan en hy is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid en Amatzyah, sy seun, het in sy plek koning geword.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 11
Top of Page
Top of Page