2 Konings 1
Afrikaans PWL
1Mo’av het teen Yisra’el rebelleer na die dood van Ag’av. 2Agazyah het deur die traliewerk in sy bo-kamer, in Shomron, geval en siek geword. Hy het boodskappers gestuur en vir hulle gesê: “Gaan doen navraag by Ba’alZ’vuv, die god van `Ekron, of ek van hierdie siekte gesond sal word.” 3Die boodskapperengel van יהוה het egter vir Eliyahu, die Tishbiet, gesê: “Staan op, gaan op om die boodskappers van die koning van Shomron te ontmoet en sê vir hulle: “Is dit omdat daar geen God in Yisra’el is nie dat julle gaan om navraag te doen by Ba’al-Z’vuv, die god van `Ekron? 4יהוה sê daarom so: ‘Jy sal nie afkom van die bed waarop jy geklim het nie, maar jy sal sekerlik sterf.’” Toe gaan Eliyahu weg.

5Toe die boodskappers na hom toe terugkeer, sê hy vir hulle: “Waarom kom julle terug?” 6Hulle antwoord hom: “’n Man het gekom om ons te ontmoet en vir ons gesê: ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het en sê vir hom: So sê יהוה: “Is dit omdat daar geen God in Yisra’el is nie dat jy stuur om navraag te doen by Ba’al-Z’vuv, die god van `Ekron? Jy sal daarom nie van die bed waarop jy geklim het, afkom nie, maar jy sal sekerlik sterf.”’” 7Hy sê vir hulle: “Watter tipe man was hy wat opgekom het, julle tegemoet en hierdie woorde met julle gepraat het?” 8Hulle antwoord hom: “’n Harige man met ’n leer gordel om sy heupe gebind.” Hy sê: “Dit is Eliyahu, die Tishbiet!”

9Toe stuur hy ’n bevelvoerder oor vyftig, met sy vyftig, na hom toe. Hy het opgegaan na hom toe en let op, hy het op die top van die heuwel gesit. Hy sê vir hom: “Man van God, die koning sê: ‘Kom af!’” 10Eliyahu antwoord die bevelvoerder oor vyftig: “As ek ’n man van God is, laat daar vuur van die hemel af afkom en jou en jou vyftig verteer!” Toe kom daar vuur van die hemel af en verteer hom en sy vyftig.

11Hy het weer ’n ander bevelvoerder oor vyftig, met sy vyftig, na hom toe gestuur en hy sê vir hom: “Man van God, so sê die koning: ‘Kom gou af!’” 12Eliyahu het hulle geantwoord: “As ek ’n man van God is, laat daar vuur van die hemel af afkom en jou en jou vyftig verteer!” Toe het die vuur van God uit die hemel afgekom en hom met sy vyftig verteer.

13Hy het weer ’n bevelvoerder oor ’n derde vyftig, met sy vyftig, na hom gestuur. Toe die derde owerste oor vyftig opgegaan het, kom hy en buig op sy knieë voor Eliyahu en smeek hom en sê vir hom: “Man van God, laat my lewe en die lewe van hierdie vyftig diensknegte van u asseblief kosbaar wees in u oë! 14Let op, vuur het van die hemel af afgekom en die eerste twee bevelvoerders oor vyftig, met hulle vyftig, verteer, maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë!” 15Die boodskapperengel van יהוה sê vir Eliyahu: “Gaan saam met hom af, moenie bang wees vir hom nie.” Hy het daarom opgestaan en saam met hom afgegaan na die koning toe. 16Toe het hy vir hom gesê: “So sê יהוה: ‘Omdat jy boodskappers gestuur het om navraag te doen by Ba’al-Z’vuv, die god van `Ekron; (is dit omdat daar geen God in Yisra’el is om navraag te doen na Sy woord nie?) daarom sal jy nie afkom van die bed waarop jy geklim het nie, maar jy sal sekerlik sterf.”

17Agazyah het gesterf volgens die woord van יהוה, dit wat Eliyahu gesê het en omdat hy geen seun gehad het nie, het Y’horam in sy plek koning geword in die tweede jaar van Y’horam, die seun van Y’hoshafat, koning van Y’hudah. 18Die res van die dade van Agazyah, wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 22
Top of Page
Top of Page