2 Korinthiërs 9
Afrikaans PWL
1Aangaande die dienswerk teenoor die afgesonderdes is dit eintlik oorbodig vir my om aan julle te skryf, 2want ek weet dat julle denke gereed is, waaroor ek oor julle by die mense van Makedonia roem en dat Agaia ’n jaar gelede gereed gemaak het en dat die ywer wat van julle uitgegaan het, baie ander opgewek het, 3maar ek het die broers gestuur sodat ons roem oor julle in hierdie geval nie leeg mag wees nie sodat julle gereed sal wees, soos ek gesê het 4sodat wanneer die manne van Makedonia saam met my kom en julle miskien nie voorbereid is nie, ons, om nie te sê julle, nie beskaam word in hierdie vertroue waarin ons roem nie. 5As gevolg hiervan het ek dit dus nodig geag om die broers te vra om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde seëning vooraf reg te kry sodat dit gereed kan wees as ’n seëning en nie as iets wat afgepers is nie.

6Meer nog, dit: wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig oes en wie volop saai, sal ook volop oes. 7Elkeen gee soos hy besluit het in sy verstand, wil en emosie, nie treurig of uit verpligting nie, want God het ’n vreugdevolle gewer lief. 8God is in staat om alle onverdiende guns in julle te vermeerder sodat julle altyd in alles genoeg kan hê en julle oorvloedig kan wees in elke goeie werk.

9Soos geskrywe is: “Hy het uitgedeel en aan die armes gegee, Sy onpartydige opregtheid bly tot in ewigheid.”

10Meer nog, Hy wat saad gee aan die saaier, gee brood om te eet en Hy sal vir julle saad gee en dit vermeerder en die vrug van julle onpartydige opregtheid vermeerder 11sodat julle in alles verryk kan word met die volle regte van ’n erfgenaam, wat deur ons dankbaarheid tot God volmaak gemaak word 12omdat die bediening van hierdie dienswerk nie alleen voorsien in die behoeftes van die afgesonderdes nie, maar ook oorvloei tot baie dankbaarheid tot God. 13Deur die ervaring van hierdie diens eer, loof en aanbid hulle God dat julle jul onderwerp het aan die erkenning van die goeie boodskap van Die Gesalfde Een en dat julle deelgenote geword het in julle reg op volle erfgenaamskap met hulle en met almal 14en hulle bring ’n gebed vir julle, met die liefde van baie vanweë die oorvloedige onverdiende guns van God wat op julle is, 15maar dank God vir Sy onbeskryflike geskenk.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Corinthians 8
Top of Page
Top of Page