2 Kronieke 9
Afrikaans PWL
1Toe die koningin van Sh’va hoor van die beroemdheid van Shlomo, het sy gekom om Shlomo met raaisels te toets. Sy het na Yerushalayim gekom met ’n baie groot trek: met kamele wat speserye, goud in oorvloed en edelgesteentes gedra het en toe sy by Shlomo kom, het sy vir hom alles vertel wat in haar verstand, wil en emosie was. 2Koning Shlomo het aan haar al die geheime in haar binneste vertel en daar was niks verborge vir die koning wat hy nie vir haar kon vertel nie. 3Toe die koningin van Sh’va die wysheid van Shlomo sien en die huis wat hy gebou het, 4die voedsel van sy tafel en hoe sy diensknegte sit en sy ministers se teenwoordigheid en hulle klere, sy skinkers en hulle klere en die offers wat hy in die huis van יהוה geoffer het, was daar geen gees in haar oor (begeerte) om meer te sien nie. 5Sy het vir koning Shlomo gesê: “Dit was ’n waar verslag wat ek in my eie land gehoor het aangaande u dade en u wysheid. 6Nieteenstaande het ek hulle woorde nie geglo nie totdat ek gekom en my oë dit gesien het en let op, die helfte van die grootheid van u wysheid is my nie vertel nie, want u oortref die verslag wat ek gehoor het. 7Gelukkig is u diensknegte, wat voortdurend voor u staan en u wysheid hoor! 8Geseënd is יהוה, u God, wat u gekies en u op die troon van die koninkryk van Yisra’el laat sit het. Omdat יהוה Yisra’el liefhet, het Hy u vir ewig oor hulle koning gemaak om te oordeel en reg te laat geskied.” 9Sy het aan die koning ’n honderd en twintig talente goud en ’n oorvloed speserye en edelgesteentes gegee. Daar was nie sulke speserye in die wêreld soos die wat die koningin van Sh’va aan koning Shlomo gegee het nie.

10Die diensknegte van Hiram en die diensknegte van Shlomo het ook goud uit Ofir gebring, 11asook sandelhout vir stoele vir die huis van יהוה en vir die huis van koning Shlomo en harpe vir die sangers. Daar was nog nooit sulkes gesien in die land van Y’hudah nie.

12Koning Shlomo het vir die koningin van Sh’va alles gegee wat sy gevra het, behalwe wat hy reeds gegee het en vir haar alles vertel wat in haar verstand, wil en emosie is. Sy het teruggekeer na haar eie land, sy en haar diensknegte.

13Die gewig van Shlomo se inkomste aan goud in een jaar was ses honderd ses en sestig talente goud; 14behalwe vir die belastings uit die stede en die handel wat die handelaars gebring het. Al die konings van Arabië en die goewerneurs van die land het goud en silwer vir Shlomo gebring. 15Koning Shlomo het twee honderd groot skilde van geslaande goud gemaak; ses honderd sikkels (6,8kg) goud het in elke groot skild gegaan; 16asook drie honderd klein skilde van geslaande goud; drie honderd sikkels goud het in elke klein skild gegaan en die koning het hulle in die huis van die L’vanon-woud gesit.

17Verder het die koning ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 18Die troon het ses trappe gehad en die rand het van agteraf ingekrul met armleunings aan elke kant van die sitplek, met twee leeus wat agter die armleunings staan. 19Twaalf leeus het weerskante op die ses trappe gestaan. Die gelyke is nooit in enige koninkryk gemaak nie. 20Al die houers van die diens van koning Shlomo was van goud en al die voorwerpe van die koning se skatkamers was van suiwer goud; silwer is nie in die dae van Shlomo as iets gereken nie. 21Die koning het skepe gehad wat na Tarsis gevaar het, saam met die diensknegte van Hiram; een maal elke drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud, silwer, olifante, ape en poue.

22Koning Shlomo het groter geword as al die konings van die aarde in rykdom en wysheid. 23Al die konings van die aarde het die teenwoordigheid van Shlomo opgesoek om die wysheid te hoor wat God in sy binneste gegee het, 24terwyl elkeen sy geskenk saamgebring het: silwer voorwerpe en goue voorwerpe, klere, mirre, speserye, perde en muile, ’n vaste hoeveelheid, elke jaar.

25Shlomo het veertig duisend stalle gehad vir perde en strydwaens asook twaalf duisend ruiters, wat hy in die stede vir strydwaens en by die koning in Yerushalayim gesit het. 26Shlomo het geheers oor al die konings vanaf die Eufraat tot by die land van die F’lishtyne en tot by die grens van Mitzrayim. 27Koning Shlomo het silwer in Yerushalayim so volop gemaak soos klippe en die seders so volop soos wildevyebome wat in die Laagland is. 28Hulle het vir Shlomo perde uit Mitzrayim en uit al die lande gebring.

29Die res van die dade van Shlomo, die vroeëre sowel as die latere, is dit nie opgeskryf in die boek van die profeet Natan, in die profesie van Agiyah, die Shiloniet en in die visioene van die siener Ye’do oor Yarov’am, die seun van N’vat, nie? 30Shlomo het vir veertig jaar lank in Yerushalayim oor die hele Yisra’el regeer.

31Shlomo is by sy vaders neergelê en hulle het hom in die stad van sy vader, Dawid, begrawe en sy seun, Regav’am het in sy plek geheers.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 8
Top of Page
Top of Page