2 Kronieke 6
Afrikaans PWL
1Toe het Shlomo gesê: “יהוה, U het verklaar dat U in die digte wolk sal bly,

2maar ek het vir U ’n blyplek gebou en ’n plek vir U om ewig in te bly.”

3Toe draai die koning sy gesig om en seën die hele vergadering van Yisra’el terwyl die hele vergadering van Yisra’el staan. 4Hy het gesê: “Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat met Sy eie mond met my vader, Dawid, gepraat het en met Sy woord vervul het wat Hy belowe en gesê het: 5‘Vanaf die dag dat Ek My volk uit die land van Mitzrayim uitgebring het, het Ek geen stad gekies uit al die stamme van Yisra’el om ’n huis te bou sodat My Naam (Karakter en Outoriteit) daar sou wees nie, 6maar Ek het Yerushalayim gekies sodat My Naam (Karakter en Outoriteit) daar sou wees en Ek het Dawid gekies om koning oor My volk Yisra’el te wees.’ 7Dit was in die verstand, wil en emosie van my vader, Dawid, om ’n huis te bou vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, die God van Yisra’el, 8maar יהוה het vir my vader, Dawid, gesê: ‘Dat dit in jou verstand, wil en emosie was om vir My Naam (Karakter en Outoriteit) ’n huis te bou, dit was goed dat dit in jou verstand, wil en emosie was, 9nogtans sal jy nie die huis vir My Naam (Karakter en Outoriteit) bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal voortkom, hy sal vir My Naam (Karakter en Outoriteit) die huis bou.’ 10יהוה het volgens Sy woord, wat Hy gesê het, gedoen, want ek het opgestaan in die plek van Dawid, my vader en ek sit op die troon van Yisra’el, soos יהוה belowe het en ek het die huis gebou vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, die God van Yisra’el 11en ’n plek vir die ark voorberei waarin die verbond van יהוה is, wat Hy met ons vaders gesluit het, toe Hy hulle uit die land van Mitzrayim uitgebring het.”

12Shlomo het opgestaan voor die altaar van יהוה in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Yisra’el en sy hande uitgesprei na die hemel, 13want Shlomo het ’n koper verhoog gemaak en dit in die middel van die oopte opgestel; vyf el lank, vyf el breed en drie el hoog; hy het daarop gaan staan en op sy knieë neergebuig voor die hele vergadering van Yisra’el en sy hande na die hemel uitgesprei in gebed 14en gesê: “יהוה, God van Yisra’el, daar is niemand soos U nie, U is יהוה wat in die hemele daar bo bly en U wil word op die aarde, hier onder, uitgevoer, wat U verbond hou en onverdiende guns bewys aan U diensknegte wat met hulle hele verstand, wil en emosie opreg voor U lewe, 15U wat vir U kneg, my vader, Dawid, U belofte nagekom het; U het met U mond gepraat en met U wil volbring, soos dit vandag is; 16daarom, nou, יהוה, God van Yisra’el, hou ook U belofte wat U aan U dienskneg, my vader, Dawid, gedoen het, deur te sê: ‘Daar sal vir jou nooit ’n man voor My ontbreek om te sit op die troon van Yisra’el nie, as jou seuns net sal oplet op hulle lewenswyse om te leef in My wet soos wat jy voor My geleef het. 17Laat dan nou, יהוה, God van Yisra’el, U woord bevestig word wat U vir U dienskneg, Dawid, gesê het,

18want in waarheid het יהוה Sy blyplek by Sy volk, Yisra’el gemaak op aarde. Let op, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het! 19Gee dus aandag aan die gebed van U kneg en aan sy smeking, יהוה, my God, deur te luister na die gebed en smeking wat U kneg op hierdie dag voor U bid 20dat hierdie huis in U Teenwoordigheid mag bly, dat U sal hoor en luister na die gebed van wie ook al tot U sal bid in hierdie huis, dag of nag, die plek waar U gesê het dat U sal bly. 21Hoor en luister dan na die gebed van U dienskneg en van U volk Yisra’el wat hulle in U Teenwoordigheid, in hierdie plek sal bid; hoor vanaf U blyplek, vanuit die hemel en wanneer U hoor, vergewe.

22As iemand sy naaste te na sou kom en hulle hom ’n eed laat aflê en hy kom en sweer voor U altaar in hierdie huis, 23hoor dan uit die hemel sy gebed, tree op en oordeel U diensknegte, deur die skuldige te vergeld deur sy skuld op sy eie kop af te bring en die regverdige onskuldig te verklaar deur hom te beloon volgens sy onpartydige opregtheid.

24As U volk, Yisra’el, verslaan word voor ’n vyand omdat hulle teen U gesondig het en hulle keer terug na U en bely U groot Naam (Karakter en Outoriteit) en bid en smeek voor U Teenwoordigheid in hierdie huis, 25hoor dan uit die hemel en vergewe die sonde van U volk Yisra’el en bring hulle terug na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.

26Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie omdat hulle teen U gesondig het en hulle tog in U Teenwoordigheid in hierdie plek tot U bid en U groot Naam (Karakter en Outoriteit) bely en wegdraai van hulle sonde wanneer U hulle teister, 27hoor dan vanuit die hemel hulle gebed en vergewe die sondes van U diensknegte en van U volk Yisra’el, wanneer U hulle die goeie pad leer waarin hulle moet loop en reën van seën stuur op die land wat U aan U volk gegee het as ’n erfenis.

28As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of ruspes is, as hulle vyande hul beleër in die stede in hulle land, watter probleem of watter siekte daar ook al is, 29dan, watter gebed, watter smeking ook al deur enige mens of deur U hele volk Yisra’el gedoen sal word, wanneer elkeen sy eie probleem sal verklaar en sal kom en sy hande in hierdie huis uitsprei, 30hoor dan vanuit die hemel hulle gebed en vergewe hulle sonde en gee aan elke mens volgens al sy wandel, wie se verstand, wil en emosie U ken, want U alleen ken die verstand, wil en emosie van al die mensekinders 31sodat hulle U respekvol kan vrees om voor U te lewe in U lewenswyse, solank hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

32Verder, wat die vreemdelinge betref wat nie deel van U volk Yisra’el is nie, maar uit ’n ver land kom ter wille van U groot Naam (Karakter en Outoriteit), U sterke hand en U uitgestrekte arm, as hulle kom en op daardie dag in U Teenwoordigheid in hierdie huis bid, 33hoor dan vanuit U blyplek, vanuit die hemel en doen volgens alles wat die vreemdeling voor U bid sodat al die volke van die aarde U Naam (Karakter en Outoriteit) mag ken en U aanbid soos U volk Yisra’el en dat hulle mag weet dat hierdie huis wat ek gebou het, in U Naam (Karakter en Outoriteit) genoem word.

34As U volk uitgaan in oorlog teen hulle vyande op die pad waarop U hulle sal stuur en hulle bid tot U in die rigting van hierdie land wat U aan hulle vaders gegee het, of na hierdie stad wat U gekies het, of na hierdie huis wat ek vir U Naam (Karakter en Outoriteit) gebou het, 35hoor dan vanuit die hemel hulle gebed en hulle smeking en bepleit hulle saak.

36As hulle teen U sondig, want daar is geen mens wat nie sondig nie en U is kwaad vir hulle en gee hulle oor aan hulle vyande en hulle vat hulle weg as gevangenes na ’n land, ver of naby 37en as hulle tog terugdraai na U en in die land waarheen hulle weggevat is bid en sê: ‘Ons het gesondig, ons het U getart tot woede en boos opgetree’ 38en hulle in die land van hul gevangeskap, waarheen hulle weggevat is, na U toe terugdraai met hul hele verstand, wil en emosie en met hul hele lewe en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het en van die stad wat U gekies het en van die huis wat ek vir U Naam (Karakter en Outoriteit) gebou het, 39hoor dan uit die hemel, uit U blyplek, hulle gebed en hulle smekinge en erken hulle saak en vergewe U volk wat teen U gesondig het.

40Nou, o my God, laat U oë oop wees en U ore luister na die gebed wat in hierdie plek gemaak word.

41Staan nou op, יהוה-God, in U rusplek, U en die ark van U sterkte! Laat U priesters, יהוה-God, met verlossing aangetrek wees en laat U regverdige manne hulle verheug in U goedheid.

42יהוה-God, draai nie die gesig van U gesalfde een weg nie; onthou die onverdiende guns aan U dienskneg, Dawid!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 5
Top of Page
Top of Page