2 Kronieke 4
Afrikaans PWL
1Verder het hy ’n altaar van koper gemaak; twintig el was sy lengte, twintig el sy breedte en tien el sy hoogte. 2Hy het ook ’n gegote see gemaak; van rand tot rand was dit tien el, rond in vorm en die hoogte daarvan was vyf el en sy omtrek dertig el. 3Dit het gestaan op twaalf beeste: drie wat kyk na die noorde, drie wat kyk na die suide, drie wat kyk na die weste en drie wat kyk na die ooste toe en die see was bo-op hulle en al hulle agterstewes was binnekant toe. 4Die dikte daarvan was ’n handbreedte en sy rand was rond soos die rand van ’n beker, baie mooi. 5Hy het tien pale gemaak en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant gesit om die altaar vir die brandoffer mee te dra.

6Hy het tien waskomme gemaak van koper en vyf regs en vyf links gesit vir die priesters om hulle hande en voete in te was.

7Hy het tien goue kandelare gemaak, volgens die voorskrif daarvan en dit in die tempel gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant. 8Hy het ook tien tafels gemaak en hulle in die tempel gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant en hy het ’n honderd goue komme gemaak.

9Hy het ook ’n groot ruimte gemaak vir die priesters en die Leviete en die deure en die balke met koper oorgetrek. 10Hy het die see aan die regterkant van die noordelike end gesit, teenoor die suide.

11Hiram het die potte, die grawe en die komme gemaak en Hiram het die werk voltooi wat hy vir koning Shlomo in die huis van God gedoen het: 12twee pilare met die knoppe en die pilaarkoppe bo-op die top van die twee pilare en die twee stukke vlegwerk om die twee bolle van die pilaarkoppe, wat op die top van die pilare was, te bedek 13en die vier honderd granate op die twee stukke vlegwerk, twee rye granate vir elke vlegwerk om die twee bolle van die pilaarkoppe bo-op die pilare te oordek. 14Hy het ook basisse gemaak met komme op die basisse; 15een see en die twaalf beeste daaronder; 16die potte, die grawe en die vleishake en al hulle gereedskap het Hiram van gepoleerde koper vir koning Shlomo gemaak, vir die huis van יהוה. 17In die Yardenvlakte, in die kleigrond tussen Sukkot en Tz’redah, het die koning dit gegiet. 18Shlomo het al hierdie voorwerpe in oorvloed gemaak, want die gewig van hierdie koper houers wat Shlomo gemaak het, was onberekenbaar.

19Shlomo het al die voorwerpe vir die huis van God van suiwer goud gemaak, asook die goue altaar en die tafels waarop die brode van die Teenwoordigheid neergesit is 20en die kandelare met hulle lampe om volgens voorskrif voor die binneste vertrek te brand 21en die blomwerk, die lampe en die tange het hy van goud gemaak; van die suiwerste goud 22en die snuiters, komme, lepels en vuurpanne van suiwer goud. Wat die ingang van die huis betref, die binnedeure na die Mees Afgesonderde plek en die deure van die vertrek van die tempel was van goud.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 3
Top of Page
Top of Page