2 Kronieke 34
Afrikaans PWL
1Yoshiyahu was agt jaar oud toe hy begin heers het en het een en dertig jaar lank in Yerushalayim regeer. 2Hy het gedoen wat reg was in die oë van יהוה en geleef volgens die manier van sy vader, Dawid en nie regs of links afgewyk nie.

3In die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om tot יהוה, God van sy vader Dawid, te bid en in die twaalfde jaar het hy begin om Y’hudah en Yerushalayim te reinig en die altare, afgode, beelde en afgodstempels af te breek. 4Hy het die versierings, halssnoere, klokke en al die bome wat vir afgode gemaak is, in stukkies gebreek en fyn gemaal en hulle stof gestrooi oor die grafte van hulle wat aan hul geoffer het. 5Hy het die beendere van die priesters wat hulle gedien het, opgegrawe en hulle gebring en verbrand en Y’hudah en Yerushalayim gereinig. 6Hy het ook so gedoen in die stede van M’nasheh, Efrayim, Shim’on en Naftali, in hulle strate reg rondom. 7Toe hy die altare omgegooi en die beelde stukkend geslaan en tot stof gemaal het en regdeur die hele Yisra’el verstrooi het, het hy teruggekeer na Yerushalayim.

8In die agttiende jaar van sy regering, toe hy die land van Yisra’el en sy eie huis gereinig het, het hy vir Shafan, die seun van Atzalyahu en Ma’aseiyah, die stadsklerk geroep en vir hulle gesê: “Gaan, herstel die huis van יהוה, julle God.” 9Toe hulle by die hoofpriester, Hilkiyahu, kom, het hulle die geld afgelewer wat in die huis van יהוה gebring is, wat die Leviete en die poortwagters versamel het uit M’nasheh en Efrayim en uit wat oorgebly het van Yisra’el en uit die hele Y’hudah en Binyamin en die inwoners van Yerushalayim. 10Hulle het dit in die hande gegee van die werkers wat toesig gehad het oor die huis van יהוה en hulle het dit gegee aan die werkers wat die werk gedoen het aan die huis van יהוה, om die huis reg te maak en te pleister. 11Hulle het dit ook gegee aan die skrynwerkers, die bouers en hulle wat kosbare stene en hout gekoop het vir die herstel en pleister van die geboue wat die konings van Y’hudah vernietig het. 12Die manne het die werk aan die Afgesonderde Plek getrou gedoen en oor hulle was aangestel: Yagat en `Ovadyahu, Leviete uit die seuns van M’rari, asook Z’kharyah en Meshullam uit die seuns van die K’hatiete wat oor die sangers, Leviete wat met musiekinstrumente gespeel het 13en almal wat die werk in enige diens gedoen het, was. Vanuit die Leviete was daar skrywers, opsigters en poortwagters wat as toesighouers gedien het.

14Toe hulle die geld uitgebring het wat in die huis van יהוה ingebring is, het die priester Hilkiyahu ’n boek van die wet van יהוה gevind wat deur Moshe gegee is. 15Hilkiyahu, die priester, sê vir Shafan, die skrywer: “Ek het die boek van die wet in die huis van יהוה gevind!” Hilkiyahu, die priester, het die boek vir Shafan gegee 16en Shafan, die skrywer het aan die koning vertel wat Hilkiyahu vir hom gesê het en aan hom woord gebring en gesê: “Alles wat u aan u diensknegte opgedra het, doen hulle: 17hulle het die geld spandeer aan die herstel van die huis van יהוה en verslag gedoen aan die opsigters en die uitvoerders van die werk.” 18Toe vertel Shafan, die skrywer, aan die koning en sê: “ Hilkiyahu, die priester, het aan my ’n boek gegee.” Shafan het dit voor die koning gelees.

19Dit het gebeur toe die koning die woorde van die wet hoor, dat hy sy klere geskeur het. 20Toe het die koning vir Hilkiyahu en Agikam, die seun van Shafan en `Avdon, die seun Mikhah en Shafan, die skrywer en `Asayah, die dienskneg van die koning se huishouding, beveel en gesê: 21“Gaan, bid tot יהוה vir my en vir Yisra’el en Y’hudah aangaande die woorde van die boek wat gevind is, want die toorn van יהוה is groot wat oor ons uitgestort is omdat ons vaders nie geluister het na die woord van יהוה om te doen volgens alles wat in hierdie boek vir ons geskryf is nie.”

22Toe gaan Hilkiyahu en die wat die koning aangestel het, na Huldah, die profetes, die vrou van Shallum, die seun van Tok’hat, die seun van Hasrat, die bewaarder van die houers; sy het in Yerushalayim gemediteer en hulle het met haar gepraat volgens die koning se opdrag. 23Sy het vir hulle gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: sê aan die man wat julle na my toe gestuur het, 24so sê יהוה: let op, Ek bring boosheid oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die vervloekinge wat geskryf staan in die boek wat hulle aan die koning van Y’hudah voorgelees het 25omdat hulle My verlaat en ander gode aanbid het, om My te tart tot woede met al die werke van hulle hande; daarom sal My toorn oor hierdie plek uitgestort word en sal nie uitgeblus word nie. 26Wat die koning van Y’hudah betref wat julle gestuur het om יהוה te raadpleeg, so moet julle vir hom sê: so sê יהוה, die God van Yisra’el aangaande die woorde wat jy gehoor het: 27omdat jou verstand, wil en emosie nederig is en jy voor die Teenwoordigheid van יהוהgebewe het toe jy Sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners gehoor het en jy jou voor My verneder het en jou klere geskeur en voor My Teenwoordigheid gehuil het, het Ek jou ook gehoor, sê יהוה; 28daarom sal Ek jou by jou vaders neerlê en jy sal met vrede na jou graf gaan en jou oë sal nie al die boosheid sien wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners sal bring nie.” Hulle het die antwoord na die koning gebring.

29Toe het die koning gestuur en al die oudstes van Y’hudah en Yerushalayim bymekaar laat kom. 30Die koning het opgegaan in die huis van יהוה en al die manne van Y’hudah, die inwoners van Yerushalayim, die priesters, die Leviete en die hele volk, groot en klein en hy het al die woorde van die boek van die verbond, wat in die huis van יהוה gevind is, voor hulle gelees.

31Die koning het op sy plek gaan staan en ’n verbond met יהוה gesluit om יהוה te volg en Sy opdragte, Sy instellings en Sy getuienisse met sy hele verstand, wil en emosie en met sy hele lewe te onderhou, om die woorde van die verbond wat in hierdie boek geskryf is, te doen. 32Hy het almal wat in Yerushalayim en in Binyamin te vinde was, die verbond laat aanvaar. Die inwoners van Yerushalayim het gedoen volgens die verbond van יהוה, God van hulle vaders. 33Yoshiyahu het al die verwerplikhede wat יהוה voor die seuns van Yisra’el vernietig het, weggevat en almal wat in Yisra’el te vinde was, יהוה, hulle God, laat dien en hulle het nie daarvan afgewyk om יהוה, die God van hulle vaders, te volg nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 33
Top of Page
Top of Page