2 Kronieke 31
Afrikaans PWL
1Toe dit alles afgehandel is, het al die Yisra’eliete wat daar was na die stede van Y’hudah gegaan en die beelde in stukke gebreek en die luiperdbeelde afgekap en hoë plekke en altare afgebreek wat in Y’hudah, Binyamin, Efrayim en M’nasheh was totdat hulle dit almal volledig vernietig het. Toe het al die seuns van Yisra’el teruggegaan, elkeen na sy besitting en hulle het in vrede in hul eie stede ingegaan.

2Hizkiyahu het die dienstye van die priesters en die Leviete vasgestel volgens hulle afdelings, elkeen volgens sy dienswerk. Die priesters en Leviete vir die brandoffers en vredesoffers, om te dien en dank te bring en te lofprys in die poorte van die tempel van יהוה.

3Die koning het uit sy eie besittings jong bulle gegee vir die oggend en aand brandoffers, die brandoffers vir die Shabbatte en die Nuwemane en die feestye, soos dit opgeskryf is in die wet van יהוה. 4Verder het hy aan die mense wat in Yerushalayim bly, bevel gegee om die deel wat aan die priesters en Leviete toekom, te gee sodat hulle bemoedig kon wees in die wet van יהוה. 5Sodra die bevel uitgevaardig is in Yisra’el, het hulle die eerstevrugte van koring, wyn, olie en van hul beeste en van die opbrengs van die land en die tiendes van alles in oorvloed gebring. 6Die seuns van Yisra’el en Y’hudah wat in die stede van Y’hudah gebly het, het ook gawes gebring en aan יהוה, hulle God, geoffer. Hulle het tiende op tiende gebring van graan, wyn en hulle beeste en die opbrengs van die land. Hulle het die tiendes gebring en dit afgesonder vir יהוה, hulle God. 7In die derde maand het hulle die fondasie van die tiende voorraad gelê en in die sewende maand het Hizkiyahu dit gevat en onder die priesters en Leviete versprei. 8Toe Hizkiyahu en die prinse sien dat die tiendes van die priesters so oorvloedig is, het hulle יהוה geseën en vir Yisra’el gebid. 9Toe het Hizkiyahu vir die priesters en die Leviete gebid aangaande die oorvloed van die tiendes. 10Hy het `Azaryahu, die hoofpriester, van die huis van Tzadok, laat roep en vir hom gesê: “Hierdie tiendes is vir julle gereed om geëet te word, want dit is in die huis van יהוה ingebring. Julle kan eet en versadig word en gee dit wat oor is vir die armes en die vaderloses, want יהוה het Sy volk geseën en aan hulle hierdie oorvloed gegee. Wat oor is, gee dit aan die mense van Yisra’el.”

11Toe gee Hizkiyahu bevel om stoorkamers in die huis van יהוה in te rig en hulle het dit voorberei 12en hulle het die tiendes en die toegewyde dinge getrou ingebring. Konanyahu, die Leviet, is as hoof daaroor aangestel en sy broer Shim’i as tweede in bevel. 13Yegi’el, `Azazyahu, Nagat, `Asah’el, Yerimot, Yozavad, Eli’el, Yismagyah, Magat en B’nayahu was opsigters, onder toesig van Konanyahu en sy broer Shim’i, volgens die bevel van koning Hizkiyahu en `Azaryahu, die hoofpriester oor die huis van יהוה. 14Kore, die seun van Yimnah, die Leviet, die poortwagter van die Oostelike poort, was oor die vrywillige gawes aan יהוה en die mees afgesonderde dinge. 15Saam met hom was `Eden, Minyamin, Yeshua, Sh’ma’yahu, Amaryahu en Sh’khanyahu, in die stede van die priesters, in hul aangestelde ampte, om porsies aan hulle broers uit te deel, aan groot en klein dieselfde, 16behalwe dit wat aan mans toekom van drie jaar en ouer, elkeen wat in die huis van יהוה ingekom het, hulle daaglikse porsie vir hulle dienswerk volgens hulle afdelings. 17Olie en wyn is aan die priesters en die Leviete gegee volgens hulle families, vanaf twintig jaar en ouer, volgens hulle verpligtinge in hulle afdelings. 18Olie is vir hulle lanterns gegee, vir hulle vroue, hul seuns en hul dogters en aan die hele vergadering van Yisra’el, want hulle het hul getrou in hul ampswerk afgesonder. 19Die seuns van Aharon, die priester, was afgesonderd; hulle het na elke dorpie en voorstad gegaan, manne wie se name bekend was, om porsies aan al die priesters en aan almal wat volgens nageslag as Leviete erken is, te gee.

20So het Hizkiyahu regdeur die hele Y’hudah gedoen en hy het gedoen wat goed en reg was en in waarheid voor יהוה geleef. 21Elke werk wat hy begin het in die huis van יהוה en in die wet en die opdragte om sy God te soek, het hy met sy hele verstand, wil en emosie gedoen en was voorspoedig.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 30
Top of Page
Top of Page