2 Kronieke 28
Afrikaans PWL
1Agaz was twintig jaar oud toe hy begin heers het en hy het vir sestien jaar in Yerushalayim regeer en hy het nie gedoen wat reg was in die oë van יהוה soos sy vader, Dawid, nie, 2maar hy het geleef in die maniere van die konings van Yisra’el en ook altare vir die afgode gemaak. 3Hy het verder ook wierook in groot valleie gebrand en sy seun deur die vuur laat gaan, volgens die gewoontes van die nasies wat יהוה voor die seuns van Yisra’el vernietig het. 4Hy het ook geoffer en wierook gebrand op die altare, hoë plekke en onder elke mooi boom;

5daarom het יהוה, sy God, hom oorgegee in die hand van die koning van Aram en hy het hom verslaan met ’n groot slagting en ’n groot menigte gevangenes weggevoer na Dammesek. Hy is ook oorgegee in die hand van die koning van Yisra’el wat hom verslaan het met ’n groot slagting. 6Pekag, die seun van Remalyah, het in Y’hudah op een dag ’n honderd en twintig duisend doodgemaak, almal dapper manne omdat hulle יהוה, die God van hulle vaders, verlaat het. 7Zikhri, ’n magtige man van Efrayim, het vir Ma’aseiyah, die seun van die koning en vir `Azrikam, die goewerneur van die paleis en vir Elkanah, die tweede onder die koning, doodgemaak.

8Die seuns van Yisra’el het van hulle broers twee honderd duisend as gevangenes weggevoer en hulle seuns en dogters en ook baie buit van hulle geroof en die buit na Shomron gebring. 9Daar was egter ’n profeet van יהוה met die naam van `Oded en hy het uitgegaan na die leër wat aan’t kom was na Shomron en vir hulle gesê: “Let op omdat יהוה, die God van julle vaders, kwaad was vir Y’hudah het Hy hulle in jul hand oorgegee en julle het hulle doodgemaak en was nie vir hulle jammer nie. 10Nou beplan julle om hulle jul slawe en slavinne te maak en selfs nou weet julle dat julle hierdie sonde gedoen het in die Teenwoordigheid van יהוה, julle God. 11Luister daarom na my en stuur hulle wat julle van jul broers gevange geneem het, terug sodat die groot woede van יהוה nie op julle kom nie!” 12Toe het sekere van die hoofde van die kinders van Efrayim opgestaan teen hulle wat uit die oorlog kom: `Azaryahu, die seun van Y’hoganan, Berekhyahu, die seun van Meshillemot, Y’gizkiyah, die seun van Shallum en `Amasa, die seun van Hadlai 13en vir hulle gesê: “Julle mag nie die gevangenes hierheen bring nie dat ons nie weer teen יהוה, ons God, sondig nie. Julle wil byvoeg by ons oortredinge en ons sondes, want ons sondes is uitermate groot.” 14Hulle het toe al die gevangenes teruggestuur na Yerushalayim, maar het weer bedrieglik teenoor יהוה opgetree. 15Die manne wat volgens naam aangewys is, het opgestaan en die gevangenes gevat en almal wat kaal was uit die buit aangetrek, vir hulle klere gegee en skoene en hulle laat eet en drink en hulle gesalf en almal wat swak was, op donkies vervoer en hulle tot by Yerigo, die Palmstad, na hul broers gebring; toe het hulle na Shomron teruggegaan.

16In daardie tyd het koning Agaz die koning van Ashur gevra om hom te help, 17want in hierdie tyd het die Edomiete gekom en Y’hudah verslaan en gevangenes weggevoer. 18Ook die F’lishtyne het gekom en die stede van die Laeveld en die Suidland van Y’hudah beleër en hulle het Beit-Shemesh, Ayalon, G’derot, Sokho, met sy dorpies, Timnah met sy dorpies en Gimzo met sy dorpies, verower, 19want יהוה het Y’hudah verneder ter wille van die sondes van Agaz, die koning van Y’hudah omdat hy wetteloosheid in Y’hudah bevorder en ernstig teen יהוה oortree het. 20Tilgat-Piln’eser, koning van Ashur, het hom aangeval en teen hom gekamp en hom baie ontstel. 21Agaz het die voorwerpe uit die huis van יהוה en uit die huise van vorige konings en uit die huise van ryk manne weggevat en dit aan die koning van Ashur gegee sodat hy hom nie kwaad sou aandoen in sy tyd van benoudheid nie.

22Dieselfde koning Agaz het egter nog meer teen יהוה oortree: 23hy het geoffer aan die gode van Dammesek en gesê: “Julle is my gode en my meesters; aan julle sal ek aanbidding aanbied en offers bring.” Hy was dus ’n struikelblok vir Y’hudah; hy het gesondig en al die mense van Y’hudah laat sondig. 24Agaz het al die gereedskap van die huis van יהוה bymekaargebring en die gereedskap van die huis van יהוה in stukke gebreek en die binne en buite deure van die huis van יהוה toegesluit en vir hom altare gemaak op elke hoek in Yerushalayim. 25In elke dorpie en gehuggie van Y’hudah het hy ’n altaar opgerig om ander gode te dien.

26Die res van die dade van Agaz en sy lewenswyse, die vroeëre en die latere, let op, dit is opgeskryf in die Boek van die konings van Y’hudah en Yisra’el. 27Agaz is neergelê by sy vaders en hulle het hom in Yerushalayim begrawe, want hulle het hom nie in die grafte van die konings van Y’hudah gebring nie. Hizkiyahu, sy seun, het in sy plek geheers.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 27
Top of Page
Top of Page