2 Kronieke 20
Afrikaans PWL
1Dit het hierna gebeur dat die seuns van Mo’av en die seuns van `Ammon, saam met die magtige soldate, teen Y’hoshafat kom veg het. 2Toe het daar boodskappers gekom en aan Y’hoshafat berig gebring en gesê: “’n Groot weermag het teen u gekom van anderkant die see af, let op, hulle is al in Hatzatzon-Tamar, dit is `Ein-Gedi.” 3Y’hoshafat was bang en hy het sy gesig opgelig om tot יהוה te bid en het ’n vas vir al die inwoners van Y’hudah uitgeroep. Hy het vir hulle gesê: “Kom, kry julleself bymekaar en laat ons van יהוה, ons God, vra.” 4Al die inwoners van Y’hudah het bymekaargekom, selfs van veraf stede en hulle het gekom om van God te vra.

5Y’hoshafat het opgestaan in die vergadering van Y’hudah in die huis van יהוה, wat in Yerushalayim is, voor die nuwe hof 6en hy het gebid en gesê: “O יהוה, God van ons vaders, U is God in die hemel en U is die Heerser oor al die koninkryke van die nasies en aan U behoort die mag en die krag. Nou staan ek voor U en bid. 7U is ons God, wat die inwoners van hierdie land voor U volk Yisra’el vernietig het en dit vir die nageslag van Avraham, u vriend, gegee het vir ewig. 8Hulle het daarin gebly en daarin vir U ’n Afgesonderde Plek gebou en gesê: 9‘Omdat daar ’n Afgesonderde Plek tussen ons is, sal geen boosheid oor ons kom nie; nie die swaard, straf, pes of hongersnood nie, of ons sal voor hierdie gebou, want U Naam (Karakter en Outoriteit) is uitgeroep oor hierdie gebou, voor U kom staan en ons sal tot U bid in hierdie gebou en U sal ons gebed hoor en ons red.’ 10Nou, let op, die kinders vanaf `Ammon, vanaf die berg Se’ir en vanaf Mo’av, met wie U Yisra’el nie wou laat meng toe U hulle uit Mitzrayim uitgebring het en die juk van Mitzrayim van hulle af verwyder het nie, 11let op, hulle vergeld ons nou. Hulle kom om ons uit U besitting te verdryf wat U aan ons gegee het as erfenis. 12O, ons God, maak Uself bekend en oordeel hulle, want ons het geen krag om teen hulle te staan nie. Bring die swaard van U oordeel oor hulle, want ons weet nie wat om te doen nie, maar ons oë is op U.”

13Die hele Y’hudah het voor יהוה gestaan, hulle kleintjies, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters.

14Toe kom die Gees van יהוה met mag op Yagzi’el, die seun van Z’kharyahu, die seun van B’nayah, die seun van Ye’i’el, die seun van Matanyah, ’n Leviet uit die seuns van Asaf, terwyl hy voor die mense van Yisra’el gestaan het 15en hy het gesê: “Luister, almal wat uit Y’hudah is, inwoners van Yerushalayim en koning Y’hoshafat, so sê יהוה, julle God: ‘Moenie bang of ontsteld wees vanweë hierdie groot weermag nie, want die geveg is nie julle s’n nie, maar God s’n. 16Maak gou, gaan af teen hulle, let op, hulle kom vroeg in die oggend op en julle sal hulle aan die einde van die vallei kry, voor die wildernis. Hulle kom op om teen jou te veg. 17In daardie uur, staan stil en sien die verlossing wat יהוה vir jou sal bring. O, Y’hudah en Yerushalayim, moenie vrees of ontsteld wees nie, gaan môre teen hulle uit en יהוה sal julle help’.”

18Toe het Y’hoshafat neergebuig met sy gesig teen die grond en aanbid en die hele Y’hudah en al die inwoners van Yerushalayim het voor die Teenwoordigheid van יהוה neergeval om יהוה te aanbid. 19Die Leviete van die nageslag van die K’hatiete en uit die nageslag van die Koragiete het opgestaan om יהוה, die God van Yisra’el, met ’n baie harde stem te lofprys.

20Hulle het vroeg die oggend opgestaan en na die wildernis van T’koa gegaan. Terwyl hulle uitgaan, het Y’hoshafat gaan staan en gesê: “Luister na my, Y’hudah en inwoners van Yerushalayim! Vertrou in יהוה, julle God sodat julle bevestig sal word; vertrou in sy profete en julle sal bevry word.” 21Toe het hy tussen die volk gestaan en gesê: “Kom, laat ons dank bring aan יהוה en lofprysing tot die grootheid van Sy Afgesonderdheid, soos Hy voor ons magte uitgaan om vir ons te veg teen ons vyande.” Hulle het gesê: “Loof en dank יהוה, want Hy is goed, sy liefdevolle goedheid duur vir ewig!” Toe het die heuwels begin lofprys en die berge hulle verheug! 22Toe hulle begin het om te sing en te lofprys, het יהוה ’n hinderlaag opgestel teen die seuns van `Ammon, Mo’av en die mense vanaf die gebergte van Se’ir wat teen Y’hudah gekom het en hulle is verslaan. 23Die seuns van `Ammon en Mo’av het teen die inwoners van die gebergte van Se’ir opgestaan, om hulle volkome uit te roei en te vernietig en toe hulle ’n einde gemaak het aan die inwoners van Se’ir, het hulle mekaar gehelp om mekaar te vernietig.

24Toe Y’hudah by die wagtoring in die wildernis kom, het hulle na die menigte gekyk en let op, hulle was dooie liggame wat op die grond geval het en niemand het ontsnap nie. 25Toe Y’hoshafat en die mense van Yisra’el gekom het om die buit in te samel, het hulle ’n oorvloed van buit gekry: rykdom, tome, perde en kosbare juwele en hulle het vir hulself gevat wat hulle ook al begeer het.

26Dit het gebeur na drie dae, toe hulle klaar die buit versamel het, so baie was dit, dat hulle op die vierde dag in die vallei van B’rakhah (Seëning) vergader het, want daar het hulle יהוה-God geseën; daarom word dié plek B’rakhah genoem tot vandag toe. 27Toe het al die manne van Y’hudah na Yerushalayim teruggegaan met Y’hoshafat aan hulle hoof, want hulle het met vreugde na Yerushalayim teruggegaan, want יהוה het hulle hul laat verbly oor hul vyande. 28Hulle het na Yerushalayim, na die huis van יהוה, gekom met liedere, harpe, siters en reguit en gebuigde trompette. 29Die vrees vir God het op al die koninkryke van daardie lande geval toe hulle hoor dat יהוה teen die vyande van Yisra’el geveg het. 30Die heerskappy van Y’hoshafat was rustig, want יהוה het aan hom rus gegee reg rondom.

31Y’hoshafat het oor Y’hudah regeer. Hy was vyf en dertig jaar oud toe hy begin heers het en hy het vyf en twintig jaar in Yerusalayim regeer. Sy moeder se naam was `Azuvah, die dogter van Shilgi. 32Hy het in al die lewenswyses van sy vader Asa geleef en daar nie van afgewyk nie, deur dit te doen wat reg was in die oë van יהוה. 33Nogtans is die altare op die hoë plekke nie verwyder nie, want tot nou toe het die volk nog nie hulle verstand, wil en emosie op die God van hulle vaders gerig nie.

34Die res van die dade van Y’hoshafat, die vroeëre en die latere, let op, hulle is opgeskryf in die ‘Gesegdes van Yehu,’ die seun van Hanani, wat geskryf is in die Boekrol van die konings van Yisra’el.

35Hierna het Y’hoshafat, die koning van Y’hudah, hom verbind met Agazyah, koning van Yisra’el, wat baie boos gedoen het, meer as al die konings van Yisra’el. 36Hy het homself aan hom verbind om skepe van Tarshish te bou en te vaar. Hulle het die skepe gebou in `Etzyon-Gever. 37Toe het Eli’ezer, die seun van Y’hoshafat se oom, in die stad van Mareshah, teen Y’hoshafat geprofeteer en gesê: “As gevolg van u bondgenootskap met `Agazyah, het יהוה al u werke frustreer en die skepe is beskadig en was nie in staat om na Tarshish te vaar nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 19
Top of Page
Top of Page